Grootste repokoersverhoging in dekades

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank (Foto; Thobile Mathonsi/African News Agency/ANA)

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank het besluit om die repokoers met 75 basispunte tot 5,5% per jaar te verhoog.

Dié verhoging is die skerpste rentekoersverhoging in twee dekades en kom as ’n skok vir ekonome wat ’n verhoging van 50 basispunte verwag het.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het vanmiddag tydens ’n mediakonferensie gesê drie lede van die monetêrebeleidskomitee was ten gunste van die gekose verhoging van 75 basispunte.

Een komiteelid het selfs ’n verhoging van 100 punte verkies, terwyl ’n ander ’n verhoging van 50 basispunte verkies het.

Die eindelike verhoging van 75 basispunte is die hoogste sedert September 2002 toe dié koers met 100 basispunte verhoog is.

Die jongste verhoging tree Vrydag in werking en is ’n poging om stygende inflasie te pak, het Kganyago vanmiddag gesê.

“Ons hoor Suid-Afrikaners se krete oor die stygende pryse. Ons hoor Suid-Afrikaners se krete dat inflasie hul salarisse en lone erodeer. Ons as die Reserwebank is vasbeslote om Suid-Afrikaners se inkomste te beskerm.”

Die verhoging in die repokoers sal inflasie stuit en verhoed dat die Suid-Afrikaanse rand se waarde daal.

Die verbruikersprysindeks (VPI) het reeds gister die rekord van 13 jaar laat spat toe die koers tot 7,4% gestyg het, het Maroela Media Woensdag berig. Dit is die hoogste sedert Mei 2009 (8%) toe die land se ekonomie die druk van die wêreldwye finansiële krisis gevoel het.

’n Kenner meen egter die verhoging in die repokoers sal in elk geval ’n styging in pryse tot gevolg hê, aangesien maatskappye nou meer aan skuld sal moet bestee en dit uiteindelik sal probeer terugkry deur die pryse van hul produkte en dienste op te stoot.

Só raak verhoging jou sak

Die jongste verhoging in die repokoers beteken dat die gewone Suid-Afrikaner nou nóg minder geld in sy of haar sak gaan hê, “veral diegene met skuld”, sê Andre Cilliers, valutastrateeg by TreasuryONE.

Cilliers verduidelik dat skuldpaaiemente wat nié teen vaste rentekoerse aangegaan is nie (byvoorbeeld verbandpaaiemente of motorpaaiemente) nou gaan styg.

“Dit is ’n direkte hoeveelheid geld wat uit die verbruiker se sak geneem word en hom in ’n swakker posisie laat wanneer hy by Pick n Pay instap,” sê Cilliers.

Selfs diegene wat geen skuld het om te delg nie, gaan die verhoging daadwerklik voel, aangesien die rentekoerse waarteen maatskappye geld leen, gaan styg en verbruikers uiteindelik vir die gelag sal moet betaal.

“Maatskappye se renteverpligtings is hoër en hulle sal bes moontlik kyk of hulle nie daardie verhoging weer van die verbruiker kan verhaal nie. Dit kan dus ’n negatiewe uitwerking op die jaarlikse verbruikersprysindeks (VPI) hê.”

Beleggers het wel iets om oor te glimlag aangesien beleggers met ’n hoër repokoers meer opbrengste ontvang. Dit sluit in veral pensioentrekkers wat van die rente van hul beleggings leef.

Samuel Seeff, voorsitter van die Seeff-eiendomsgroep, sê hoewel die eiendomsmark ’n skerp styging verwag het, was die verhoging van 75 basispunte ’n effense skok. Hy sê ook die verhoging sal die koste van verbande en skuld beïnvloed, maar waarskynlik nie die onderliggende vraag in die eiendomsmark beïnvloed nie.

“Die werklikheid is dat die swakker rand en inflasiestyging (tot 7,4%) koersverhogings versnel het. Ons sal waarskynlik meer aggressiewe stygings in September en November sien met die primakoers terug na die pre-pandemiese vlak van 10% teen Januarie 2023, indien nie vroeër nie.”

Ook Cilliers het nie ’n verhoging van 75 basispunte verwag nie. Hy meen ’n styging van 75 is “te veel”, gegewe Suid-Afrika se stadige ekonomiese groei en buitensporig hoë brandstofpryse.

’n Verhoogde repokoers maak wel sin, het hy verduidelik.

“Hoe minder geld in die kringloop van besteding, hoe laer is jou vraag na produkte. En hoe laer jou vraag, hoe minder druk is daar op pryse van goedere om te styg.

“Jy moet met monetêre beleid kyk of jy die inflasiemonster kan hokslaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Di ·

Ons land is in sy GLORIE in, nes Sri Lanka. Wonder gaan “our people” ook die Regering se kantore bestorm en hulle uit hulle stoele uitlig. RAMPIE kan ons ook maar bankrot laat verklaar, ons skuld biljoene wat ons nooit sal kan terug betaal nie. Wens oorsese land wil ons land kom vat vir al die skuld, ons sal dalk beter af wees.

melaney ·

Toemaar Diline, as dinge op sy donkerste is, is uitkoms naby. En dit is omtrent donker! Maar die LIG is oppad.

Gaitsigubib ·

Tydens die Zuma/Mbeki era sien ek n onderhoud met Karl Niehaus. Hy vertel vir Rian dat hy so 75% tevrede is met die ANC se bewind. Ek wonder baie oor die spesifieke onderhoud. Ek wonder of Karl nou al so by 50/50 voel oor die ANC se bewind. Die diefstal en korrupsie het ons ekonomie tans in n doodsspiraal en kaders lek hulle lippe af vir beide ons pensioenfonds en ook vir die reserwe bank. Dit maak nie saak wat jou politiek is nie, ek hoop vir almal dat dit nie sover sal gaan nie. Ek meen mens bly maar hoopvol……. dit lyk egter nie goed nie.

Furds ·

Maklike som….

Hoe meer rentekoers opgaan, hoe meer fondse is daar om te verduister.

Kokerboom ·

Jy straf die verbruiker vir inflasie skeppendfe faktore buite sy beheer

Danie ·

Ja hier kom dit nou. Volgende gaan 100 basis punte wees en so gaan hy bly styg tot ons soos Zimbabwe is.

Impartial ·

Rentekoerse, krag, brandstof, misdaad, grondonteiening, korrupsie, BEE, werkloosheid, wanbestuur…. die lys raak al groter. Ja Suid Afrika is n mooi land met n goeie kultuur, maar dit waaraan ons vasklou is iets wat WAS, en nie in 100de jare vorentoe ooit SAL wees nie. Al die jongspanne het eenrigting en dit is om te wil uit. Mense as julle kan, probeer maar erens anders vestig, mens is gemaak om aan te pas. Ons kan bid maar onthou God help die wat homself help. Sterkte mense.

annie ·

Gelukkig kan die armes nou betaal vir die verhoogte lewenskoste van rykes met hul baie spaargeld in banke en buitelandse beleggers nog ryker maak. Straf die armes. Dit is baie sinvol. Tap diegene wat huise en karre of skuld afbetaal. Hoe meer armes hoe meer kan die ANC in die buiteland kla oor hul agtergeblewe kiesers en dan stroom die plegdes is en die ANC kan beloof en uitdeel. Hoekom nie sommer 200 basispunte nie? Die ‘fat cat’ base van die Reserwebank is mos adelikes. Plesier hulle!

Andries ·

Hoe de h wil hy ons inkomste beskerm. Jy gaan iunkomste kry maar kan dan niks koop nie. VIVA ZIMBABWE.

SjN ·

Hy gaan soos Ramos die tyd vir Spoornet regruk deur bates te verkoop om die boeke goed te laat vertoon, Skande op skande.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.