Grootvoet weer op Knysna-plaas gewaar

Oubaas Fourie het Vrydag omstreeks 10:00 ʼn foto van die olifant geneem en dit op sy Facebook-blad gedeel. (Foto: Verskaf)

Die Knysna-olifant wat die afgelope paar jaar gereeld ʼn draai by ʼn plaas in die Karatara-gebied in die Knysna-bos maak, is die afgelope naweek wéér op ʼn foto vasgelê.

Maar net so vinnig soos die olifant verskyn het, is sy weer weg. Sy los egter talle leidrade dat sy wel in die omgewing was, soos mis, ʼn omgedolwe boom hier en daar, platgetrapte takke en spore.

Oubaas Fourie, eienaar van die plaas, het Maandag aan Maroela Media gesê hy weet nie waarom die olifant so menssku is nie. Hy is egter verheug dat sy weer haar verskyning gemaak het – en dat hy haar twee keer in een naweek kon sien.

Fourie het Vrydag omstreeks 10:00 ʼn foto van die olifant geneem en dit op sy Facebook-blad gedeel. Hy het haar Sondagoggend weer gesien, maar sy was te rats vir sy kamera.

“Ek het haar so effens bekruip, maar sy het my te vinnig gewaar.”

Die olifant los talle leidrade dat sy wel in die omgewing was, soos mis, ʼn omgedolwe boom hier en daar, platgetrapte takke en spore. (Foto: Verskaf)

Een van Fourie se plaaswerkers was Saterdag ook gelukkig om die olifant in die mielielande te sien.

“Hy het my gebel, maar toe ek daar aangekom het, was sy weer dwarsdeur die mielies die bos in.

“Ek het haar vanoggend weer gehoor. Ek het met die padjie langs gestap en die bos hoor kraak, maar besluit om haar eerder nie te gaan soek nie.”

Fourie sê die olifant lyk “mooi vet en gesond” en verwoes nie die bos nie. ʼn Professionele jagter wat haar mis bestudeer het, het aan Fourie gesê dis waarskynlik ʼn ouer olifant.

Daar word ook al jare lank vermoed dat die olifant inderdaad ʼn koei is.

“Ek is so bly sy kies om soms hier te kom eet en water drink. Ek wou haar bitter graag weer sien. Nie almal het daardie voorreg nie.

“Ek wens so sy kan ʼn maat kry.”

Die olifant los talle leidrade dat sy wel in die omgewing was, soos mis, ʼn omgedolwe boom hier en daar, platgetrapte takke en spore. (Foto: Verskaf)

Maroela Media het vroeër berig SANParke het in 2019 foto’s van ʼn olifant geplaas wat vermoedelik die laaste olifantkoei in dié bos is. Daar word al vir ʼn geruime tyd navorsing gedoen om te probeer vasstel hoeveel olifante daar steeds in die Knysnabos is.

Volgens SANParke kon al die kamerastrikke oor die jare bloot net foto’s van die een koei neem, en sy was altyd alleen.

Sy is dadelik Oupoot gedoop, wat die bekende olifant in Dalene Mathee se Kringe in ʼn bos is.

Fourie is met SANPparke in verbinding en sê dat hulle onlangs kameras op sy plaas geïnstalleer het om te kyk of hulle die olifant se doen en late kan volg. Hy weet egter nie of hulle wel beeldmateriaal gekry het nie.

Olifante het sowat 350 jaar gelede vrylik al langs die Suid-Afrikaanse kus rondgeswerf. Hulle is 200 jaar lank genadeloos vir ivoor gejag – tot net twee klein kusbevolkings teen die vroeë 1900’s oorgebly het: een by Addo en die ander in die Knysnabos van die Tuinroete Nasionale Park. Nadat hulle amptelike beskerming gekry het, het die Addo-bevolking floreer, terwyl die een by Knysna net verder gekrimp het.

Maroela Media het ʼn navraag aan SANParke gerig en wag tans vir terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Windhond ·

Ja – vat een van die Addo Bulletjies, net nie een wat drink en huis moles maak nie – en lewer hom af by haar omgewing – hulle sal gou mekaar vind

christo ·

‘n Lekker goeie nuus storie! Daar is seker net soos mense ook olifante wat beter af is, as hulle alleenlopers is …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.