Guptas kan nuwe paspoorte kry ‘ná getuienis voor Zondo’

Ajay en Atul Gupta (Foto: ANA)

Die omstrede Gupta-familie, wat op groot skaal by bewerings van staatskaping betrek word, se ‘arrogansie ken geen perke nie’.

Dít volgens Joe McGluwa, die DA se woordvoerder oor binnelandse sake, nadat lede van dié familie aansoek gedoen het om hul Suid-Afrikaanse paspoorte te laat hernieu terwyl hulle in Dubai woon.

Die minister van buitelandse sake, Aaron Motsoaledi, het vroeër vandeesweek aan die SAUK gesê sy departement het vir eers ʼn stokkie gesteek voor sommige van die familie se pogings om hul Suid-Afrikaanse paspoorte te laat hernieu.

Motsoaledi het gesê die aansoeke word in ʼn kluis gehou.

Suid-Afrika probeer al ʼn geruime tyd – onsuksesvol – om die Gupta-familie van die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) na Suid-Afrika te laat uitlewer.

“Dit is algemene kennis dat die Guptas uit Suid-Afrika gevlug het nadat bewyse van hulle [beweerde] betrokkenheid by die ANC se staatskapings opgestapel het,” het McGluwa gesê.

“Desnieteenstaande is die afhaal van hul nuwe paspoorte in Pretoria ʼn gulde geleentheid vir lede van die Gupta-familie om na Suid-Afrika terug te keer en voor die Zondo-kommissie [wat staatskaping ondersoek] te verskyn en antwoorde te verskaf oor hul beweerde betrokkenheid by die ANC se staatskapingsprojek.”

McGluwa het gesê Motsoaledi se besluit om die nuwe paspoorte in ʼn kluis te hou, boesem nie enige vertroue in nie. “Hy moet verklaar op grond waarvan hy die paspoorte weerhou. Die wet moet in dié verband gevolg word.

Lede van die omstrede Gupta-familie het aansoek gedoen dat hul Suid-Afrikaanse paspoorte hernieu word. (Foto: Christel Cornelissen)

“Ons is almal bewus daarvan dat sy voorganger, Malusi Gigaba, die naturalisering van lede van die Gupta-familie onregmatig, indien nie onwettig nie, bespoedig het. Dit is maar een van die kwessies wat by die Zondo-kommissie uitgestryk kan word.”

McGluwa het gesê sodra die parlement in Januarie weer byeen is, gaan die DA Motsoaledi skriftelik vra om ʼn verduideliking te gee oor sy besluit om die paspoorte te weerhou.

Die minister van justisie, Ronald Lamola, het verlede week gesê daar is ʼn regsproses wat gevolg moet word tydens uitlewerings. Daar is onlangs ook berig dat ʼn Suid-Afrikaanse afvaardiging na Dubai is om die VAE te kry om die uitleweringsooreenkoms tussen die twee lande goed te keur.

Die afvaardiging het glo minstens twee ministers en lede van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), waaronder die nasionale direkteur van openbare vervolging, ingesluit.

Lamola het gesê hoewel die uitleweringsooreenkoms tussen die twee lande nog nie goedgekeur is nie, daar ander “internasionale instrumente” is wat wetstoepassingsagentskappe toelaat om saam te werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.