Gure weer lei tot nóg sterftes in KZN

Swaar reën- en donderbuie het oor die feestyd in KwaZulu-Natal uitgesak. (Foto: KZN Cogta/Facebook)

Die swaar reën- en donderbuie wat oor die feestyd in KwaZulu-Natal uitgesak het, het nou tot die dood van 40 mense gelei. Altesame vyf mense word steeds vermis.

Die provinsiale departement van samewerkende regering en tradisionele sake sê die dodetal het oor die afgelope paar dae gestyg terwyl reddingspanne besig was om die omvang van die skade te bepaal.

Intussen duur die gure weer in verskeie dele van die provinsie voort.

Drie mense het onlangs in die Harry Gwala-distrik verdrink en twee plaaswerkers is in Bergville deur weerlig getref.

Soek-en-reddingspanne het ook reeds die liggame van twee mense in Ladysmith ontdek. Volgens die departement sal die oorledenes se identiteit met behulp van DNS-toetsing bevestig word.

Die voortgaande reënval het daartoe gelei dat altesame 74 mense allerlei soorte beserings opgedoen het.

Sowat 800 huise het skade opgedoen, waarvan 247 heeltemal verwoes is. Die skade het meer as 4 000 mense geraak en altesame 47 mense dakloos gelaat.

“Die departement is in kontak met almal wat geraak is, en verskaf die nodige ondersteuning as deel van ons rampbestuurpogings,” sê Bongiwe Sithole-Moloi, LUR van samewerkende regering en tradisionele sake in die provinsie.

“Ek wil graag ook ons reddingspanne bedank, wat voortgaan om onvermoeid te werk om diegene wat as vermis aangemeld is op te spoor.”

Sithole-Moloi het gemaan dat die swaar reën na verwagting in die volgende paar dae sal voortduur, en die inwoners van die provinsie aangemoedig om waaksaam te wees.

“Diegene wat bestuur moet versigtig wees en geensins probeer om riviere oor te steek nie,” waarsku sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.