Handdoek ingooi? Ai(Kona), nie Sanet!

Sanet Griesel in aksie. (foto: Verskaf)

In die gejaagde lewe van ’n Ironman-atleet is die Wêreldkampioenskap in Kona, Hawaii, ongetwyfeld die heilige graal waarna almal soek.

Atlete moet by ʼn amptelike kompetisie vir dié groot skouspel kwalifiseer. Net 2% van alle deelnemers kry ʼn kaartjie na Kona. En Sanet Griesel (53) is een van die gelukkiges.

“Dit is iets waarvan ek nooit eens gedroom het nie,” het sy vir Maroela Media gesê.

Toe Griesel se twee seuns, Reinard en Daniel, nog op skool in Middelburg was, het hulle saam na Quest for Kona op TV gekyk; ʼn program wat op die lief en leed van Ironman-atlete in hul (dikwels vergeefse) soektog na Hawaii-glorie gefokus het.

“Hulle het ook die kwalifiserende byeenkoms gewys en ek het gedink dat daardie mense nie reg in hul koppe is nie. En kyk, hier is ek nou!”

Maar wanneer Griesel haar oefensessies aanpak – deesdae tot 22 uur per week – is daar ʼn dryfveer wat haar beslis aanmoedig om haar beste te gee. Tree vir tree en een voet voor die ander.

“My ma is ʼn ernstige Parkinson-lyer. Elke oomblik wat ek saam met haar deurbring, laat my net weer opnuut besef presies hoe kosbaar jou gesonde, vermoënde liggaam is. Dis soveel seën en genade, en ek probeer om dit elke dag te vier.”

“Daar is so baie mense wat so graag sou wou, maar weens fisieke omstandighede nie kan nie. My Kona-reis is vir elkeen van hulle.”

Wanneer ʼn mens met Griesel gesels besef jy onmiddellik dat haar gesin vir haar baie belangrik is. Haar seuns het haar destyds omgepraat om te begin bergfietsry, terwyl hulle ook ʼn sleutelrol in haar Ironman-buiging ʼn rukkie later gespeel het.

Haar gesin is vir haar baie belangrik. Foto: Verskaf.

“My vier kinders – ek het intussen twee dogters bygekry – se ondersteuning, begrip, aanmoediging en liefde is vir my ongelooflik.”

Sy erken egter dat haar grootste steunpilaar ongetwyfeld haar man, Bertus, is.

“Hy is my bike mechanic, my mobiele waterpunt as ek ver hardloop en my eie persoonlike barista ná elke naweeksessie. Maar eintlik beteken hy soveel meer vir my – hy praat my moed in, vee die trane af en beleef eerstehands al my hoogte- en laagtepunte. Sonder my gesin sou ek beslis nie hierdie [ding] kon doen nie.”

Nodeloos om te sê beloof die Kona-avontuur om ʼn uiters uitdagende storie te wees. Ons praat hier van baie warm dae met hoë humiditeitsvlakke, terwyl die wind en die see se hoë soutinhoud dinge nog verder bemoeilik. Om dan nie eens van die roete te praat nie – dit is beslis nie jou maat nie.

Griesel doen egter haar bes om so gereed as moontlik vir enige uitdaging te wees.

Wanneer daar ʼn sessie op haar fiets se oefenstaander is, is die verwarmer en die bevogtiger-toestel ook op vol sterkte aan. Alles in ʼn poging om aan te pas.

Foto: Verskaf.

“Daar is amper met elke oefensessie ʼn oomblik, of selfs tien, wanneer ek wil ophou. Maar dan dink ek aan my teenstanders en dat hulle nie handdoek ingooi nie. En dan byt ek ook maar vas.”

Maar gaan Griesel in Hawaii moed verloor?

Ai(Kona), is die vinnige en doodeerlike antwoord.

“Gewone mense kan, met genoeg geloof, genade en deursettingsvermoë baie meer vermag as wat hulle dink. As hierdie avontuur net ʼn paar mense help om in hulself te glo en om hul drome ʼn werklikheid te maak, dan is al my bloed, sweet en trane die moeite werd.”

“Natuurlik hou dit my ook uit die moeilikheid en ek en Bertus kry ʼn geleentheid om te proe hoe Kona se koffie smaak!”

  • Griesel is op 6 Oktober by die Ironman-wêreldkampioenskap in Hawaii in aksie.

Die kompetisie bestaan uit ʼn swemsessie van 3,86 km, gevolg deur ʼn fietstrappoging van 180,2 km en ʼn marathon van 42,2 km.

Volgens die inskrywings het 36 Suid-Afrikaners vir die Wêreldkampioenskap se verskillende kategorieë gekwalifiseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.