Handreiniger vir polisie in pandemie met 236% opgejaag

Handreinigingstasies (Foto: Maroela Media)

’n Pretoriase maatskappy wat gedurende die Covid-19-pandemie 25 liter-houers met handreiniger teen R4 700 elk aan die polisie gelewer het, het in die proses 236% wins gemaak, sê die Mededingingskommissie.

Die kommissie het die saak nou vir moontlike vervolging na die Mededingingstribunaal verwys.

’n Ondersoek deur die Mededingingskommissie het onthul dat die onderneming Red Roses Africa (Pty) Ltd in Lynnwood Glen, in Maart 2020 op die polisie se versoek reageer het vir kwotasies vir die verskaffing van grootmaat-ontsmettingsmiddel.

Die kwotasie is aanvaar en 90 000 houers is aan polisiestasies verskaf.

Die polisie het egter later ’n klagte oor die prys by die Mededingingskommissie ingedien. Die kommissie het ondersoek ingestel en bevind dat R4 700 per houer handreiniger nie net buitensporig was nie, maar ook ʼn oortreding van die Mededingingswet én die nasionale rampbestuurregulasies en -aanwysings wat destyds in die Staatskoerant gepubliseer is.

Die kommissie het ook bevind dat Red Roses Africa se prys nie ooreenstem met die styging in die koste van verskaffing van hierdie 25 liter-reinigers nie.

“Die buitensporige prys was uitbuitend en daarop gerig om munt te slaan uit die polisie gedurende ’n tyd toe persoonlike beskermingstoerusting, veral handreiniger, hoog in aanvraag was,” sê kommissaris Doris Tshepe.

Dié saak is die Mededingingskommissie se derde Covid-19-verwante openbare verkrygingsaak om vir vervolging na die Mededingingstribunaal verwys te word.

Tsutsumani Business Enterprises is reeds skuldig bevind en gelas om ʼn administratiewe boete van R3,4 miljoen te betaal nadat die onderneming die polisie in April 2020 buitensporige pryse laat betaal het vir die dringende verskaffing van 500 000 drielaag-chirurgiese gesigsmaskers.

Dié saak is tans onder hersiening voor die Mededingingsappèlhof.

BlueCollar Occupational Health (Pty) wat namens en/of binne sy vennootskap met Atletico Investments (Edms.) Bpk. optree, is ook suksesvol vervolg nadat die onderneming 10 000 houers 25 liter-handreiniger in 2020 teen ’n buitensporige prys aan die polisie verskaf het.

Die onderneming is ’n administratiewe boete van R3,55 miljoen opgelê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Yolandie ·

Ja Covid was die rykwordskema gewees van vele maatskappye en besighede wat die regering en baie besighede en die breer publiek uitgebuit het met buitensporige hoe pryse vd verskaffing van produkte wat nooit onder enige ander omstandighede ooit so baie geld sou kos nie.

Henry ·

hierdie is seker weer een van die bee besighede wat die goed verskaf het.
eers moet jy n kwitasie kry en dan besluit jy op die beste prys
hoop hulle kry hulle geld terug

JohanR ·

Wonder watter ANC kaders het by Red Roses Africa (Pty) Ltd gewerk? “Kom ouens die die polisie, kom ons rook hulle!”

Renier ·

Maskers,handskoene,handreiniger – alles was skaars en pryse was hoog. Hoop die lid van SAP wat dit afgeteken het word ook ondersoek. N prys is kwoteer,jy hoef nie ja te se nie.

efjy ·

Wie het die kwotasie aanvaar. Ek glo dit was duurste. Straf die lid in die polisie wat moes toesien na aankope.

SjN ·

Hou ook die amptenare verantwoordelik wat met die tenderprosses gewerk het en magtiging uitgereik het.

christo ·

As die peperduur handreiniger net wou help om die polisie te reinig van korrupte lede, dan was dit die geld werd…

Papsak ·

Hier was nog nooit n pandemie nie hier is gebruik om geld te maak baie het hulle sakke vol gemaak en mense se lewens gevat

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.