Handtekeninge: MKP sê hý is die slagoffer

(Foto: MK-party/X)

Die uMkhonto we Sizwe (MK)-party van oudpresident Jacob Zuma het Dinsdag ontken dat hy handtekeninge vervals het om vir vanjaar se verkiesing te kon registreer.

Die party wag steeds vir ʼn uitspraak in die hof om te bepaal of sy leier op die stembrief mag verskyn.

“Die MK is hoegenaamd nie betrokke by vervalste handtekeninge nie,” het MKP-woordvoerder Nhlamulo Ndhlela aan AFP gesê. “Ons is die gegriefde party. Ons is die slagoffer van ʼn slenter, ʼn bedrieër. Ons moedig wetstoepassers aan om op hierdie kwessie te reageer.”

Maroela Media het vroeër berig ʼn voormalige senior amptenaar van die MKP het beweer dat hy in Februarie vanjaar ’n span van 20 aangestel het om handtekeninge te vervals nadat die OVK dié party se aanvanklike aansoek om registrasie afgekeur het.

Lennox Ntsodo beweer in ’n verklaring, wat verlede week by die Wes-Kaapse polisie ingedien is, dat hy en sy span die name, ID-nommers en selfoonnommers van werksoekers op ’n databasis vir werksoekers gebruik het om sogenaamde ondersteunerslyste op te stel.

Verslaggewers van Rapport, wat eerste oor die voorval berig het, het 15 van diegene op die MKP se beweerde ondersteunerslyste gebel. Altesaam 14 het aangedui dat hulle nóóit ’n MKP-ondersteunerslys onderteken het nie.

MKP-woordvoerde Nhlamulo Ndhlela sê Ntsodo is ʼn “saboteur” wat vir die ANC werk.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het versoek dat ʼn ondersoek dringend gedoen word. ʼn Strafregtelike klag is ook by die polisie aanhangig gemaak, het die OVK bygevoeg.

Die nasionale en provinsiale verkiesings sal na verwagting die mees mededingende verkiesing ooit wees sedert die aanvang van demokrasie in 1994. Partye moes minstens 15 000 handtekeninge teen vroeg Maart indien om aan die nasionale verkiesing deel te neem. Die MKP was een van verskeie partye wat oor die sperdatum gekla het.

ʼn Ipsos-opname verlede week het gewys dat die MKP moontlik meer as 8% van die stemme op homself kan vestig, terwyl die ANC moontlik vir die eerste keer sy algehele meerderheid in die parlement kan verloor.

Die ANC het onsuksesvol gepoog om MKP te diskwalifiseer en die party te verhoed om die naam te gebruik.

Zuma se vermoë om aan die verkiesing deel te neem word betwis weens sy skuldigbevinding in 2021 aan minagting van die hof. Die konstitusionele hof sal na verwagting net dae voor die verkiesing finale uitspraak lewer oor die saak.

Sommige MKP-leiers het gewaarsku dat onluste kan uitbreek indien Zuma verhoed word om deel te neem. Meer as 350 mense is in 2021 dood in betogings, onluste en plundertogte toe Zuma vlugtig agter tralies was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die ANC sal mag nie sommer net opgee nie. Die DA sal dit weldra uitvind.

Anel ·

So, as iemand nie sy sin jry nie word daar met onluste gedreig? Sluit hulle toe. Wie dink die spul is hulle? Kan nie glo so ‘n dreigement word net so gelos nie!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.