‘Hanteer Ramaphosa soos Mugabe’, hoor EU

Henry Geldenhuys, president van TLU SA. (Foto: Maroela Media)

Die Europese Unie behoort ʼn reisverbod op pres. Cyril Ramaphosa en sy kollegas te plaas, en ook enige van hulle bates in Europa te bevries.

Dit is een van die versoeke wat TLU SA aan ʼn afvaardiging van die ID-groep (Identiteit en Demokrasie) in die Europese parlement gerig het. TLU SA se president, Henry Geldenhuys, en Henk van de Graaf, TLU SA se Noordstreek-voorsitter, het die afvaardiging van Europese parlementslede in Kaapstad ontmoet.

“Die uiteindelike effek van onteiening sonder vergoeding in Suid-Afrika is presies dieselfde as Robert Mugabe se destydse gryp van wit boere se grond in Zimbabwe,” sê Van de Graaf. “Daarom behoort die Europese Unie dieselfde maatreëls teen president Ramaphosa en van sy kollegas in te stel, as wat gedoen is met Mugabe.”

Geldenhuys het tydens die aanbieding ʼn breedvoerige oorsig oor die landelike veiligheidsituasie in die land, en veral die gebreke daarin, gegee. Die plaasmoord- en -aanvalstatistieke is in diepte bespreek, sowel as probleme met veediefstal, en die parlementslede het met skok gereageer toe beelde van hierdie wandade vertoon is.

Van de Graaf het ook ander probleme waarmee die landbou te kampe het, uitgelig. Dit sluit in die kwessie van eiendomsreg, die mislukking van die regering se sogenaamde grondhervormings, en die gevaar van onteiening sonder vergoeding, die belangrikste besprekingspunte.

“Dit is veral die kwessie van eiendomsreg wat ons genoop het om te versoek dat die EU druk op die Suid-Afrikaanse regering uitoefen om die vryemarkbeleid te aanvaar en in stand te hou en sodoende te keer dat ʼn Zimbabwe-uiteinde Suid-Afrikaanse boere te beurt sal val,” sê Van de Graaf.

TLU SA het die parlementslede ook gevra vir ondersteuning om internasionale finansiering vir die Suid-Afrikaanse boere se behoeftes, en internasionale vennote vir die oprigting van verskeie gesamentlike ondernemings te vind.

Van de Graaf het die afvaardiging verder gemaan dat enige finansiering nie via die regering moet plaasvind nie, omdat dit nie die bedoelde bestemming sal bereik nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.