Harties-hiasinte dalk binnekort iets van die verlede

Uitsig van die Hartbeespoort-kabelkar (Foto: Carina Stander)

ʼn Nuwe masjien wat daarop gemik is om die plaag van hiasinte op die Hartbeespoortdam te verminder, is Vrydag by die Pecanwood Landgoed aan die Broederstroom-kant van die dam in gebruik geneem.

Die hiasintstroper, wat deur Hya-Matla Organics aangekoop en bestuur word, is ingevoer uit Maleisië. Gilead Mthega, Hya-Matla se tegniese bestuurder en ʼn meganiese ingenieur wat 20 jaar in die mynbedryf gewerk het, verduidelik dat die onderneming al ses jaar lank navorsing doen oor metodes wat toegepas kan word om hierdie hiasinte in organiese kunsmis te omskep.

“Die tegnologie wat ons ontwikkel, gaan al die nitrate wat deur die hiasinte uit die besoedelde water opgeneem is weer onttrek om die kunsmis, wat 16 nutriënte in een pak bevat, te maak. Dít is ʼn heeltemal unieke konsep,” sê Mthega.

Danksy ʼn belegging deur Coca-Cola Suid-Afrika (CCSA) vroeër vanjaar in Hya-Matla Organics kon die onderneming die stroper aankoop. Die belegging vorm deel van CCSA se Mintirho Stigting.

Hy verduidelik verder dat CCSA die projek wou ondersteun omdat dit ʼn omgewingsbewuste agri-konsep is wat geen patogene bevat wat gewasse kan beskadig nie. Die kunsmis word dan vir die voeding van plante, gewasse, vrugteboorde, groente en voer gebruik. “Ons tegnologie steriliseer ook die geoeste hiasintplant, wat beteken dat ons organiese kunsmis nie sal bydra tot meer hiasinte wat in ander gebiede groei nie.”

Hya-Matla se produkte is by die departement van landbou en landelike ontwikkeling geregistreer en is ook Ecocert gesertifiseer, wat beteken dat dié kunsmis uitgevoer kan word na oorsese markte.

Morné Botha, die algehele bestuurder van die Pecanwood Landgoed se huiseienaarsvereniging met 870 huise, sê die hiasinte het in groot mate daartoe bygedra dat huispryse in die landgoed en rondom Hartbeespoortdam die afgelope paar jaar drasties gedaal het. “As gemeenskap is dit belangrik vir ons om oplossings vir die probleem te ondersteun en te doen wat ons kan.”

Johan Stemmet, van Noot vir Noot, het die foto vanuit sy girokopter geneem en met aanhangers op Facebook gedeel. (Foto: Facebook)

Tans groei die hiasinte teen die spoed van wind. Met behulp van satelliete wat deur die Harties Stigting gelisensieer is, kan die groei gemonitor word. Vroeër vandeesmaand het die hiasinte 40% van die dam se oppervlakte bedek. ʼn Week later was die persentasie 45%.

“Ons bereken dat die hiasinte se dekking met 10% per week groei. As ons nie nou ingryp om hierdie probleem stop te sit nie, sal die dam teen Desember 100% bedek wees. Mense is baie krities om vinnig te sê iets gaan nie werk nie, maar ons glo dat ons hier ʼn oplossing het,” sê Botha.

Hy sê verder dat ondernemings om die dam ook baie swaar kry weens die probleem omdat toerisme afgeneem het. “Ons het dit regstreeks ook ervaar omdat ons op die landgoed ʼn gholf- en ʼn bootklub het en ons aktiwiteite ook afgeneem het. Niemand wil meer op die dam wees nie.”

Botha verduidelik dat die hiasinte tog ʼn belangrike rol speel. “Daar vloei baie riool en nitrate vanaf al die strome wat in die dam inloop. Die dam is ʼn opvangsgebied vir riviere uit Pretoria en Johannesburg, en die riviere bevat baie besoedeling.” Volgens hom is die hiasinte ʼn natuurlike suiweraar vir die water, maar tog dra die nitrate ook daartoe by dat die hiasinte vinniger groei.

Daarom werk Pecanwood Landgoed, tesame met niewinsgewende organisasies soos Harties Stigting, nou om drywende eilande te skep. Hierdie eilande sal waterplante in ongeveer 2 m x 2 m-gaasbokse plaas wat op die dam sal dryf, of aan die oewer van die dam vasgemaak word. Die plante sal dan die suiweringsrol van die hiasinte oorneem.

Die Hya-Matla-stroper het die kapasiteit om 1,5 ha per dag skoon te maak, maar Botha glo  een masjien sal nie die hele dam kan skoonmaak nie. “Dis ʼn groot dam, ons gaan dalk twee of drie masjiene nodig kry.”

The Hyamatla monster machine is in the water!! Let’s hold ????????????????

Posted by Pecanwood Estate Homeowners Association on Friday, October 18, 2019

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Martin ·

Hoekom gebruik hulle nie weer die metode wat hulle in die laat Sewintig vroeg Tagtigs gebruik het nie?

TDW ·

Hierdie is wonderlike nuus. Daar moet nou nog net plan gemaak word met al die riool na die damme toe(nee, die regering gaan nie, hou maar op belasting betaal).
Ek is trots op ons mense se innoverende wyses van planne maak.
Party mense kla oor iets, ander mense probeer iets daaraan doen.
Welgedaan.

Gaitsigubib ·

Leon dit klink of jy onder die indruk was dat dit eintlik jou dam was. Weet jy dat dat die dam eintlik gebou was vir watervoorsienning aan die gebied? Ek verstaan die punt wat jy maak maar onthou dat die wereld nie wentel om jou behoeftes nie.

VanAfrika ·

@Gaitsigubib, Leon het nooit gesê die dam is syne is nie en alle damme was gebou vir watervoorsiening en ek stem saam met Leon, saam met dit wat die damme ons plesieroorde en visvang plekke en uitkamp terreine. Ons kon net in ons motors klim en dam toe ry as ons wou uitkamp en piekniek houe en lyn nat maak. Nêrens kan ons net meer op n grondpad klim in die rigting van n dam nie. Vaaldam is net so toegebou, plekke waar ons net kon kamp het nou huise en privaat eiendomme. Ons het ook nooit ingangsfooie betaal nie. As jy van die jonger geslag is en nie weet hoe dit in ons tyd was nie, moet nie jou onkunde op Leon uithaal nie. Ons weet hoe dit was en ons weet hoe ons as toeriste nou uitgebuit word om vir alles te betaal wat in die verlede net ons vrye plesier was.

Leon ·

En as die hiasinte verwyder is sal die masjien seker staan en roes vir die volgende paar jaar en dan moet weer ‘n numwe een aangekoop word.
Ek weet nie wat hulle, hulle bekommer oor toeriste nie en die huis eienaars voel ek voor niks want daar is absoluut geen plek wat die publiek meer by die dam kan kom nie. Al die wal gebied behoort nou aan behuisings komplekse en eksklusiewe besoekers organisasies. Wat dit my aanbeteref kan die plekke bankrot speel en toemaak en dan kan hulle die wal weer oopmaak vir die publiek.

Bulldog ·

Hulle kan die masjien na ander damme toe vat om ook skoon te maak. Harties is nie enigste dam wat probleme het nie

Alida ·

Baie goeie nuus… Hoop dit werk… Dit is sad om al die damme so te sien..

duiwelsadvokaat ·

Dis jammer dat die simptoom aangespreek moet word, maar nie die siekte nie. Die grootste sondebok is besoedeling al langs die riviere wat in Harties inloop…dis daar waar die departement van waterwese moet ingryp. Ons het egter met die besoedeling van die Vaal al lankal gesien die regering het nie die politieke wil om enigiets daaraan te doen nie.

Mornay ·

As dit werk moet hul gerus ook na Roodeplaat kom kyk ( oes ) hier is ook n probleem

DS ·

Wonder net nerens word die prys van die masjien genoem nie. Was seker so R10 miljoen maar het dit vir R100 miljoen gekom die ander R90 Miljoen word seker weer tussen die koper en verkoper gedeel. Of is ek nou lelik. Kyk maar oor 2 jaar lyk Harties dam nog steeds sooa vandag of erger. En die masjien staan iewers en oproes.

Jacques ·

Daardie masjien is te klein ons het 800 ton n dag uitgehaal van die kant af met ons masjien ek kan nie sien hoe hul dit kan doen met die mashien wat binne die dam is gaan werk nie . Die regering weet van ons en ons het al geoffer omte help maar ja .

Rudie ·

Jy het seker nie die hele berig gelees nie. Coco Cola het die masjien aangekoop en geskenk . So daar word iets positief aan gedoen om die dam skoon te kry

E.K. die eerste ·

Dan moet hul nog planmaak met riool en ander gemors wat in dam ingaan

Huh ·

Wonder of daai oesmasjien net op die kant werk. Hoe gaan die duisende hektaar hiasinte in die middel vd dam op die kant kom? En lyk my hy gooi die hiasinte net agtertoe – hoe word dit opgetel – is daar ‘n bak waarin dit gegooi word?

Koos B ·

Ek het ook gewonder wat word vd stukkend gekapte produk.Hierdie is heel waarskynlik maar net ‘n front om korupsie te verdoessel.As die masjien se brandstof opraak gaan hy staan en roes.

Gaitsigubib ·

Hulle se dan in die berig hulle tegnologie steriliseer die plante. Ek verstaan mens raak soms negatief oor dinge in SA, maar genade mens hoef mos nie te begin kla nog voor jy die uitslag van iets gesien het nie. Kyk ten minste eers of die ding werk of nie.

Db ·

Ek hou van die woord DALK sal dit werk. Niks werk waaraan hulle vat nie hoekom sal hierdie nou werk

Kosie Kramer ·

Die Universiteit van Tel Aviv is kenner op die gebied van hiasinte. Hulle het `n samewerkingsooreenkoms met Universiteit van Johannesburg (UJ) gehad, om die dam se hiasinte te probeer uitwerk. Totdat Adam Habib, toe kanselier van UJ, en `n paar ‘kunstenaars’ besluit het om die Israeliese professor uit die land te skop, suiwer om politieke redes. Die ooreenkoms is gestaak, verstaan ek. Habib en sy kornuite stel meer belang in politiek as die oorlewing van mense wat op die dam se water aangewese is.

Lank lank gelede ·

Lank terug was dit so mooi om die dam en omgewing om dit te sien maar nou is dit net huise en komplekse niks meer mooi aan die dam en sy omgewing. Gaan nie eers meer in daardie rigting – praat nie eers van die verkeers gemors met almal wat nou daar bly nie. Mens is maar besig om al die natuur uit te wis, so sal daar eendag nie ‘n kolletjie meer oorwees om te geniet in die ou land nie………….

JJ ·

Regtig nie plesier meer nie.
Bonnacord gebruik home made plan wat hulle agter boot aansleep wat seker R600 kos.
Geruik dit om yiasinte uit te sleep en gebruik gewone stroper op die wal om die goed op te sny en kunsmis te vervaardig.

AndrewL ·

Elke paar jaar ‘n ander plan. Was daar dan nie’ n paar jaar gelede n’ soortgelyke ding uit Swede ingevoer nie? Met die huidige politiek gaan besoedeling nooit eindig nie, ten spyte van hul kiesers wat daardie water noodgedwone moet drink nie.

Abel Gouws ·

Dankie Morné Botha vir jou insae by die projek.
Met meer mense soos jy kan dinge net beter raak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.