Heinrich wil passie vir wiskunde én woorde uitleef

Heinrich de Villiers van Hoërskool Garsfontein. (Foto: Verskaf)

Heinrich de Villiers van Hoërskool Garsfontein is ʼn man met ʼn plan. Hy weet wat hy met sy lewe wil doen. Nadat hy agt onderskeidings* in die afgelope matriekeindeksamen verwerf het, gaan hy vanjaar aktuariële wetenskap by die Universiteit Stellenbosch studeer. Daarna wil hy graag by die Reserwebank gaan werk. Met onderskeidings in vakke soos wiskunde, ekonomie en rekeningkunde is dit ook geen verrassing nie. Tussendeur wil dié wiskunde-foendi egter fiksieboeke skryf. “Ek droom nog altyd daarvan om ʼn boek te skryf,” vertel hy.

Hy is van kleins af lief vir boeke en stories.

“Dit is fassinerend hoe skrywers en regisseurs ʼn hele wêreld met fiktiewe karakters kan uitbeeld. Ek het altyd gevoel ek het iets om te sê. Ek is mal daaroor om fiktiewe dinge te gebruik om werklike aspekte uit te lê.”

Hy sal veral daarvan hou om verhale van die liefde te skryf.

Vir Heinrich was sy matriekjaar vol uitdagings en hy kan beaam wat elke matrikulant sê: “Dis moeilik om akademie, leierskap, sport en sosiale geleenthede te balanseer en terselfdertyd nuwe geleenthede aan te gryp en toekomsplanne te maak.”

Heinrich het die afgelope jaar deelgeneem aan ʼn kompetisie wat die Suid-Afrikaanse Reserwebank vir ekonomie-leerders aangebied het. “Ons moes ʼn monetêre beleid vir die Reserwebank skryf. Dit het baie tyd en harde werk geverg. Ons skool se span was vierde in die hele land.” Altesaam 180 skole het aan die kompetisie deelgeneem en Hoërskool Garsfontein (Heinrich se span) was die enigste Afrikaanse skool in die toptien.

“Iets waarop ek baie trots is, is die feit dat ek voor gr. 11 nooit eens in die skool se toptien vir akademie was nie. Toe ek in gr.1 1 kom, het ek baie hard gewerk en word ek toe sommer as die dux-leerling aangewys.” Sy raad vir ander leerders is om nie te veel stres op hulself te plaas nie. “Moenie skuldig voel om te rus nie en moet ook nie jou sosiale lewe afskeep nie, dit is belangrik.”

  • Heinrich het Alpha Wiskunde ook as vak gehad. Inligting oor dié vak word nie saam met die res van die uitslae aan die media deurgegee nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pieter ·

Mooi Heinrich – jy hou Pretoria se naam hoog . Alle svan die beste vorentoe seun. Dis jammer Alpha Wiskunde punte word nie geegee nie. Ek dink Alpha Wiskunde skei die skape van die bokke, want dis vrek moeilik.

Marisa W ·

So begaafd – ek hoop hy maak genoeg tyd vir sy passie om boeke te skryf en sodoende ook sy siel te voed – dalk lees ons eersdaags sy eerste een.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.