Hele Posbankraad gepos

Mondli Gungubele, minister van kommunikasie. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Nadat Posbank se voorsitter en van sy raadslede vroeër vandeesweek bedank het oor die “vyandigheid” waarmee Mondli Gungubele, minister van kommunikasie, hulle glo hanteer het, het die minister nou die oorblywende lid van die raad gepos.

Gungubele het Donderdag die res van die raad die trekpas gegee oor “verdoemende bewerings” wat gemaak is oor diensverskaffers wat onwettig deur Posbank gekontrakteer is.

Hierdie diensverskaffers is glo sowat R140 miljoen betaal sonder geldige kontrakte of dat behoorlike verkrygingsprosesse gevolg is.

Dit het in ʼn verslag deur KPMG aan die lig gekom nadat die maatskappy ʼn forensiese ondersoek na Posbank se finansies van stapel gestuur het.

“Die verslag het aanbeveel dat die aandeelhouers van Posbank teen die raad moet optree – ʼn aanbeveling wat deur ʼn senior advokaat se regsmening ondersteun is,” sê Gungubele.

Die minister en die raad sou Donderdag by Posbank se jaarlikse algemene vergadering byeengekom het waar hulle hul lot sou hoor. Die raad het egter twee dae vantevore bedank en die minister het die oorblywende raadslid by die algemene vergadering verwyder.

Raad sê hy is ‘ondermyn en geminag’

Die raadslede wat reeds bedank het, het in hul bedankingsbrief aangevoer dat hulle by verskeie geleenthede met Gungubele probeer vergader het oor die bewerings wat teen hulle gemaak is, maar sonder sukses.

“Die raad het tot vandag toe nog nie enige betekenisvolle samesprekings met die minister gehad oor die saak nie,” lui die brief.

“Ons [die raad] glo as die minister ʼn opregte belang gehad het om die raad by te staan om die kwessies tot voordeel van Posbank op te los, sou die minister ʼn geleentheid gebied het vir behoorlike skakeling met die raad, waartydens die minister ook met ʼn oplossing vorendag kon kom.

“Al die uitdagings wat die raad in die gesig gestaar het, is met die minister gedeel sonder enige insette van sy kant af.”

Mondli Gungubele, minister van kommunikasie. (Foto: Twitter)

Gungubele sê hy het egter al voor die forensiese ondersoek se bevindinge met die raad in verbinding getree rakende bestuursake “wat Posbank se vermoë om ʼn ontwikkelingstaatsbank te wees, sou belemmer”.

Die minister wou nie verder op die inhoud van die raad se bedankingsbrief uitbrei nie, omdat hy sê dit “nietig en niksseggend is” en slegs probeer aflei van sy verbintenis om Posbank “ʼn kwaliteit staatsbank te maak wat sal verseker dat die menigte toegang tot bankrekeninge en finansiële dienste het”.

Die raad het onder meer in hul brief aangevoer dat hulle gereeld “ondermyn en geminag” is deur Gungubele en onderworpe is aan “eksterne inmenging, onbehoorlike druk en invloed” asook “slegte en negatiewe behandeling”.

Gungubele het tydens ʼn perskonferensie Donderdag gesê dat hy nie ʼn persoonlike geskil met die raad gehad het nie, maar dat hy eerder “onverdraagsaam [is] teenoor swak bestuur”.

“Die verwydering van die raad sou gebeur het ongeag my verhouding met die raadslede,” het hy gesê.

Posbank het reeds voelers uitgesteek vir ʼn nuwe raad en voorsitter. Gungubele het intussen Khayalethu Ngema as die administrateur van Posbank aangestel, hangende die aanstelling van die nuwe raad.

‘Minister wil aansien red’

Verskeie politieke partye het hul misnoeë oor die situasie by Posbank uitgespreek, en sê Gungubele skarrel nou om sy eie reputasie te beredder.

“Dit is ʼn algemene strategie wat geïmplementeer word deur ministers wat misluk het,” sê Natasha Mazzone, die DA se woordvoerder van kommunikasie en tegnologie.

Die DA eis nou dat die portefeuljekomitee oor kommunikasie en tegnologie die minister versoek om voor hom te verskyn en ʼn gedetailleerde aksieplan te verskaf oor wat gedoen gaan word om die krisis hok te slaan.

“As die minister niks het om weg te steek nie, sal hy voor die komitee verskyn en nie huiwer om vrae oor die situasie te beantwoord nie,” sê Mazzone.

“As die minister weier om te verskyn en vrae te beantwoord, sal ons nie huiwer om ʼn ondersoek na die saak aan te vra nie.”

Die party Rise Mzanzi is eerder bekommerd oor die impak wat die bedankings gaan hê op Sassa-begunstigdes wat afhanklik is van Posbank om maandeliks hul toelae te ontvang.

“Na aanleiding van die verskriklike impak op Sassa-begunstigdes wat nie verlede week hul toelaes kon onttrek nie, sal die leierskapvakuum by Posbank meer nadelig wees vir gesinne wat op maatskaplike toelae staatmaak om kos op die tafel te sit,” sê Esther Padi, nasionale koördineerder van Rise Mzanzi.

“Die regering en Sassa moet ʼn dringende beoordeling van die ware toestand van Posbank doen en of dit hoegenaamd hierdie lewensreddende taak kan uitvoer. Die land kan nie bekostig dat Sassa-begunstigdes weer met leë hande huis toe gaan nie.”

Gungubele het Donderdag gesê ʼn staatsbank soos Posbank sal altyd nodig wees solank daar mense is wat nie kan bekostig om by kommersiële banke sake te doen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Alexander ·

Toemaar daar is meer van dieselfde kaliber mense om hul mee te vervang

Witwax ·

Ek dink n goeie laer skool se graad 7 klas sal hierdie land beter kan regeer.

Sê maar net ·

Wat ‘n gemors! Hulle gaan blitsig vervang moet word met opgeleide persone, anders ly die Sassa begunstigdes nóg ‘n maand onder hul onbevoegdheid!

Gert ·

Aan die ander kant veroorsaak dit dat die ANC nou die mense kwaad maak wat elke maand met Tax funded government grands gekoop word om te stem.

domheks ·

Snaaks dat net die mini-ster REG is en die res almal verkeerd. Weereens ‘n bewys van stoel word warm gesit maar werk word daar nie gedoen nie. Te verhewe in sy pos met ‘n ou salarissie deur arme belasting betalers.

Oosieoos ·

Wat van Gungunbele en Zulu doen ou dit vir a slag reg en raak ontslae van al die dooies

Francois ·

Die agbare minister is net kwaad omdat hy nie ook in die korupsie geld kon deel nie

gatgogga ·

Kan hulle dan nooit korrek en binne die wet optree nie?
Ek kan duidelik sien hoe die idee van apartheid posgevat het.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Niks wat in Mzasibabwe gebeur kan my meer skok nie. Suid-Afrika is ook maar net sedert 1994 net nog ‘n kommunistiese Afrika-land. En die Weste is ook ontnugter in Mznsbabwe K Zimbabwe II. Tragies.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Ramaphosa gaan seker weer “geskok” wees en ‘n minister van posbanksake aanstel.

Jakes ·

Wat meeste mense dalk nie weet nie is dat Postbank al n geruime tyd onder administrasie geplaas is weens hul onbevoegdheid. Die minister het die regte ding gedoen.

Andries ·

En die staat wil sy eie staatsbank open maar is onbevoeg om die huidiges te maak werk.

J. J. ·

Dis wat gebeur as mense eerder na hulself kyk as na hulle werk, as hulle sakke vol raak is hulle gelukkig, die mpy moet net nie geld maak nie.

Elizabeth ·

Die ‘minister’ het geen idee homself. Dit is hoekom en waarom hy nie ñ ‘oop deur’ filisofie kon handhaaf nie. Weer eens ñ kader sonder enige visie of ondervinding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.