Posbank se voorsitter, verskeie raadslede bedank glo

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Postbank/Twitter)

Posbank se voorsitter en van sy raadslede het glo met onmiddellike inwerkingtreding bedank weens die “negatiewe behandeling en vyandigheid” waaraan Mondli Gungubele, minister van kommunikasie, hulle glo onderwerp het.

Die bedankingsbrief, gerig aan Gungubele, is op die sosialemediaplatform X (voorheen Twitter) gedeel. Hierin stel Thabile Wonci, voorsitter van die raad, en ander raadslede dit onomwonde dat die minister die rede is waarom hulle die tuig neerlê.

“Daar is absoluut geen raad met selfrespek wat enige sinvolle werk kan verrig met die vlak van eksterne inmenging, onbehoorlike druk en invloed wat ons direksie die afgelope paar maande verduur het nie,” lui die brief.

“Hoewel ons erken dat terugslae en struikelblokke ʼn intrinsieke deel van enige agentskap se vooruitgang is, is die erns en herhalende aard van die slegte en negatiewe behandeling en vyandigheid waarmee die minister probeer het om die fondamente en geloofwaardigheid van Posbank te ondermyn, onaanvaarbaar.

“Ons kan nie met ʼn goeie gewete voortgaan om met ʼn agentskap verbind te word wie se raad voortdurend ondermyn en geminag word nie.”

Maroela Media het ʼn navraag aan Posbank gestuur oor die egtheid van die brief, maar die agentskap se woordvoerder het nog geen terugvoer gegee nie.

Thabile Wonci, voorsitter van Posbank se raad, het glo ook sy bedanking ingedien. (Foto: LinkedIn)

Die voorsitter en sommige van die raadslede sou tot 2025 of selfs 2027 in Posbank se raad gedien het, maar hulle voer aan dat die “toenemende vyandige en onderdrukkende houding” van die minister dit vir hulle onhoudbaar maak.

Wonci is sedert Oktober verlede jaar die voorsitter van die raad, maar is al van 2020 by die raad betrokke.

Wonci en sy raadslede sê hulle besef wat hul bedanking gaan beteken, veral gegewe die verantwoordelikheid wat Posbank teenoor Suid-Afrikaners het.

“Die besluit om te bedank by die agentskap waarvoor ons so hard gewerk het om te verseker dat dit sy mandaat lewer, veral aan die meerderheid van kwesbare Suid-Afrikaners, die begunstigdes van [maatskaplike] toelaes, is nie ligtelik geneem nie. Ons verstaan ​​en aanvaar die implikasies van hierdie besluit.

“Ons wil graag ons opregte dank te kenne gee teenoor ons mede-direksielede wat die besluit geneem het om nie te bedank nie, sowel as Posbank se bestuurspan, en al die toegewyde werknemers wat onvermoeid gewerk het aan Posbank se sukses.”

Die bedankings kom te midde die chaos wat “tegniese uitdagings” by Posbank verlede week veroorsaak het toe Sassa-begunstigdes verhoed is om hul maatskaplike toelaes te onttrek.

Hoewel Posbank en Sassa die versekering gegee het dat die uitdagings opgeklaar is, is daar klaarblyklik steeds begunstigdes wat nog nie hul geld ontvang het nie.

Gungubele en Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, gaan Donderdag die media toespreek oor die tegniese uitdagings en die maatreëls wat Posbank en Sassa nou ingestel het om ʼn herhaling van gebeure te verhoed.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

MrMagic ·

Ek neem hulle nie kwalik nie. Daar is heelwat mense in die parlement waarmee ek ook nie sal kan saamwerk nie.

Pierre ·

Daar is twee kante, doe raad kan nou ook nie getuig van uitmuntende leierskap nie.

Sobymykoolkop ·

Dink in elkgeval nie die ” raad ” se bedanking is ń verlies m.b.t tot die ” bestuur ” van die organisasie nie.

Althes ·

Waarvoor is daar ñ Posbank? Die Poskantoor is in ñ uiters benarde finansiële situasie – dis asof ons regering eenvoudig net staatsentiteite dupliseer en kosbare geld vermors.
Ek het respek vir julle wat bedank, sterkte met jul toekoms vorentoe.

Johann ·

So die Zulu een gaan seker weer apartheid blameer soos sy die verval en hool status van brandende geboue doen?

Shakespeare ·

Miskien het hy verwag julle moet julle werk reg doen maar miskien is hy onbevoeg soos ons die kaders leer ken het.

domheks ·

Mondli Gungubele, minister van kommunikasie, en Lindiwe Zulu dink as hulle sit gaan die son sak.

Casper ·

Weereens is agbare Zulu betrokke by die chaos.Maar minister ek Jan jou waarborg die sondebok is apartheid.

Elma ·

ek is seker die kwesbare Suid Afrikaners het gesien hoe “hard julle gewerk het”.

Jacobus ·

Ek hoop alle beleggers by posbank het al hulle beleggings by posbank ontrek anders gaan dit aangewend word vir SASSA uitbetalings. Die land is bankrot en hierdie is die begin van die einde.

Ronel ·

Nuwe normaal in Suid-Afrika – dis altyd die ander ou, nooit ek nie!!!

annie ·

Hoekom word die ontvangers nie gedwing om bankrekeninge oop te maak nie? Daar is mense wat hul geld dmv ‘n spaarrekening ontvang. Of is dit ‘n gerieflike manier om ‘n goeie werk te hê, maar dit geheim te hou om nog te skep uit die groot pappot?

Francois ·

Die minister is n kaderontplooing en sal dus nie gefire word vir haar swak gedrag en dade nie

Marthinus Johannes ·

Nou gaan kaders aangestel word, ANC het geld nodig vir die verkiesing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.