Helen Zille gekap oor ‘queerfobiese’ twiet  

Helen Zille. (Foto: Tracey Adams/African News Agency)

Dieselfde organisasie wat die sanger Steve Hofmeyr laat opdok het oor uitlatings wat hy op sosiale media oor die LGBTIQ+-gemeenskap gemaak het, is ook nou op die politikus Helen Zille se spoor.

Die organisasie OUT LGBT Well-being, ʼn niewinsgerigte organisasie wat na die gesondheid, welstand en menseregte van die LGBTIQ+-gemeenskap omsien, beskuldig Zille, voorsitter van die DA se federale raad, van “queerfobie” en “haatspraak” oor ʼn twiet wat sy geplaas het.

In die betrokke twiet wou Zille weet of dit nou as onvoldoende “woke” beskou word om bloot gay te wees en of jy transgender moet wees om “toegang tot die innerlike heiligdom van die stam te kry”. Zille wou verder weet of ʼn mens in die proses ook alle vroue moet stereotipeer om die vordering wat hulle gemaak het om gelykheid te bereik oor ʼn halfeeu uit te roei.

‘n Skermskoot van Zille se twiet

Zille se twiet was in reaksie op ʼn twiet waarin Dylan Mulvaney, ʼn transgender sosialemedia-persoonlikheid, daarvan beskuldig is dat “hy ʼn gay man is wat voorgee om transgender te wees vir geld en roem”.

OUT LGBT Well-being het sy kommer oor Zille se twiet uitgespreek en gesê dit blyk ʼn aanval op die LGBTIQ+-gemeenskap te wees.

Die organisasie sê sy interpretasie van hierdie stelling dui daarop dat Zille nie die verskil tussen seksualiteit en geslagsidentiteit ken nie en blykbaar glo dat individue wat identifiseer as gay of transgender, dit doen om “woke” te wees.

Die organisasie is verder van mening dat Zille se uitlatings bydra by tot ʼn klimaat van stigma, marginalisering en diskriminasie.

“Ons is veral ontsteld oor die feit dat hierdie opmerkings gemaak is deur ʼn senior leier in die amptelike opposisieparty, wat homself as ʼn bondgenoot van die LGBTIQ+-gemeenskap geposisioneer het.

“OUT doen ʼn beroep op Zille om haar twiet aan Suid-Afrika se LGBTIQ+-gemeenskap te verduidelik voor volgende jaar se verkiesings. As sy versuim om dit te doen, doen ons ʼn beroep op die DA om haar haatlike stelling in die openbaar aan die kaak te stel.”

Hofmeyr moes vroeër vanjaar om verskoning vra vir uitlatings wat hy oor die LGBTIQ+-gemeenskap gemaak het nadat OUT hom by die Menseregtekommissie verkla het. As deel van die skikking moet Hofmeyr, buiten die verskoning wat hy reeds gevra het, ʼn bedrag van R100 000 aan OUT LGBT Well-being betaal het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.