Heli kom haal jong rugbyspeler ná hou op veld

Xavier Bruwer (15) het ʼn harde hou teen sy skouer gekry tydens ʼn vriendskaplike wedstryd. (Foto: Verskaf)

ʼn Rugbyspeler van Hoërskool Alberton moes Saterdag per lugambulans na ʼn hospitaal in Centurion vervoer word, nadat hy ʼn besering tydens ʼn skolerugbywedstryd opgedoen het.

Xavier Bruwer (15) het ʼn harde hou teen sy skouer gekry tydens ʼn vriendskaplike wedstryd teen Die Hoërskool Wonderboom in Pretoria, en paramedici was bang dit kon ʼn spinale besering veroorsaak het.

Die slot het ook harsingskudding opgedoen. Nadat mediese dienste hom ondersoek het, is die besluit geneem om hom dadelik per helikopter na die hospitaal te vervoer.

Sy ouers het nie die wedstryd bygewoon nie.

Xavier se ma, Jolande, het ’n oproep van sy afrigter gekry om hulle in kennis te stel van sy besering.

“Ons was geweldig bekommerd oor ons seun. Die terugvoer wat ons ontvang het, was dat hy ʼn spinale besering opgedoen het. Jy kan jouself net indink watter gedagtes deur ʼn ma se kop maal…”

Xavier het dadelik vir X-strale en ’n CT-skandering gegaan, wat toe gewys het dat die besering nie ernstig is nie.

Xavier sal vier weke buite aksie wees.

“Ons het soveel ondersteuning van almal betrokke oor die afgelope week gehad. Almal het so mooi na ons seun gekyk en ons is so dankbaar daarvoor.

“Xavier is gretig om weer op die veld te draf. As hy nie kan rugby speel nie, weet hy nie wat om met sy tyd te doen nie – ons kind lewe vir die spel.”

Xavier Bruwer. (Foto: Verskaf)

Jolande sê Xavier sukkel met effense hoofpyn en kla oor ’n seer skouer, maar hy is terug by die skool.

Bobby Mcleod, adjunkhoof van Hoërskool Alberton, sê skole neem nie meer rugbybeserings ligtelik op nie.

“Ná die tragiese dood van die seun van Jeppe [High School for Boys] het ons as afrigters weer eens die gevaar van beserings besef.

“Of dit nou ʼn ligte of ernstige besering is – die welstand van ons spelers is van kardinale belang.”

Mcleod sê hulle is dankbaar dat Xavier so goed van sy besering herstel.

“Van die skool se kant wil ons graag die personeel en afrigters van Wonderboom vir hul spoedige optrede bedank.

“Netcare911, asook LifeLine- mediese dienste het binne etlike minute opgedaag. Dis is vir ons as afrigters gerusstellend om te weet ons spelers is in die beste hande wanneer dit by beserings kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Koen ·

Luister wat skreeu die ouers langs die veld. Hulle aanporrings het maar net waar geword. Hy is van die veld gespeel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.