
(Foto: Verskaf)
ʼn Egpaar van Moedwil in Noordwes het die afgelope week die skok van hul lewe gekry toe hulle ʼn krokodil in hul swembad gewaar.
Die Wild Heart Wildlife-stigting het Vrydag foto’s van die krokodil op sy Facebook-blad geplaas. Angel en Jaco Breytenbach het glo die oggend eers hul veiligheidskameras nagegaan voordat hulle hul honde uit die huis gelaat het. Dis toe dat hulle die reusekrokodil in hul swembad ontdek het.
In ʼn video wat op die stigting se Facebook-blad geplaas is, kan gesien word hoe natuurbewaarders die krokodil met behulp van ʼn tou om sy bek uit die swembad haal.
“Verskeie diere het tydens die swaar reën wat deur sikloon Eloise veroorsaak is die koers byster geraak. Ons dink hierdie krokodil kom van ʼn nabygeleë rivier,” lui die stigting se inskrywing op Facebook.
“Die krokodil is veilig uit die swembad verwyder en na ʼn veilige plek geneem. Die departement van natuurbewaring sal hom Maandag onder oë neem en dan in sy natuurlike habitat vrylaat,” lui die plasing.
Die stigting het lede van die publiek gewaarsku om nie self te probeer om wilde diere te red of te verwyder nie en liefs professionele hulp te ontbied.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
31 Kommentare
Ek beskyt my
O aarde. ek skrik my in ‘n koma.
Liewe hel ek sal ‘n beroerte kry van skrik maggies!
Jy sal net ‘n nat kolletjie kry ……
Aan wie behoort die krokodil, dalk n krokodil boer.