Herbou van parlement sloer

(Foto: Stad Kaapstad)

Sedert die parlement 18 maande gelede in ʼn verwoestende brand beskadig is, is daar nog weinig vordering gemaak met die herbou van dié nasionale baken.

Groot skade is onder meer aan die Ou Raadsaal en die gebou wat die Nasionale Vergadering huisves aangerig toe daar op 2 en 3 Januarie verlede jaar ’n groot brand by die parlementêre kompleks in Kaapstad uitgebreek het. Verskeie vergadersale, komiteevertrekke en byna 500 kantore is verwoes.

Siviwe Gwarube, DA-hoofsweep, sê hulle eis nou antwoorde van Nosiviwe Mapisa-Nqakula, die speaker van die Nasionale Vergadering, en die voorsitter van die gesamentlike staande komitee oor die finansiële bestuur van die parlement (JSCFMP) oor die vordering van die herbouprojek.

“Volgens die parlement se eie tydlyn moes die grootste deel van die opruimingswerk van die puin en rommel van die afgebrande gebou reeds Maandag afgehandel wees,” sê Gwarube.

“Dit is duidelik nie die geval nie; dit is reeds ʼn jaar en ʼn half sedert die parlementêre kompleks afgebrand het en daar is nog geen werk aan die afgebrande geboue gedoen nie.

“Dit veroorsaak dat kritieke dele van die instelling onbruikbaar is; nie net vir parlementslede nie, maar ook vir lede van die publiek.

“Openbare toegang tot die parlement is ʼn reg wat in die Grondwet vervat word en dit is die sleutelpunt van die werk wat ons as openbare verteenwoordigers doen.”

Volgens Gwarube het die parlement in Mei vanjaar die laaste verslag oor die projekmylpale gelewer.

“Om die herbouprojek in twee jaar af te handel – soos beplan is – moes die herbou van die kantore vir LP’s teen Junie voltooi wees en die verwydering van die puin en rommel van die afgebrande geboue teen Maandag 31 Julie klaar wees.

“Dit is eenvoudig nie gedoen nie. Die kantore word steeds gebou en geen pogings om die puin en rommel te verwyder, is al aangewend nie.”

Mapisa-Nqakula en Amos Masondo, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP), moet dringend ʼn statusopdatering oor die herbouprojek van die parlement verskaf, sê Gwarube.

“Dit is duidelik dat die spertye wat die parlement vir homself en die implementeringsagent, die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika, gestel het, nie nagekom is nie.

“Nou wil ons weet ​​wanneer die werk gedoen sal word en hoe dit die begroting – wat aanvanklik toegeken is – asook die tydsduur van die projek gaan beïnvloed.

“Die herbouprojek is van groot openbare belang en daar is ʼn behoefte aan doeltreffende openbare verteenwoordiging deur lede van die parlement. As daar vertragings is, het ons deursigtigheid nodig.

“Die speaker van die Nasionale Vergadering en die voorsitter van die NRP moet saam met die parlementêre sekretaris rekenskap gee van die vertragings en duidelikheid verskaf oor die status van die projek,” sê Gwarube.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Charles ·

Daar is nie so n ding as die “Illuminati” nie. Weet jy hoekom? Want ons weet daarvan. Dis hoekom.

Di ·

Weet nie hoekom hulle dit wil herstel nie, alles wat stukkend is in die land word nie herstel of instand gehou nie, waarom dan moeite doen vir DIE gebou? Daar is baie ander plekke waar hulle kan gaan, Uniegebou sal ‘n beter opsie sal wees. Sal ook baie geld spaar as hulle nie tussen 2 plekke moet reis en bly nie. Mors van geld om tussen Pta en Kaapstad te bly en reis deur die jaar. Meeste Minister het 2 huise, 1 in Kaapstad en 1 in Pretoria wat ONS belastingsbetalers moet betaal en onderhou.

Kokkie ·

Goeie Patricia kan nie nou nie. Sy’s nog besig met heinings regmaak.

annie ·

Al wat tot nou toe gebeur het is dat waardevolle kunsskatte en ander items soos duursame hout ens verwyder is en geen haan sal daaroor kraai nie. Lekker gepacket. Antie Good is too good to be true…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.