Herman Mashaba teiken drie Gauteng-metro’s

Herman Mashaba, oudburgemeester van Johannesburg en nou ook leier van The People’s Dialogue. (Foto: Twitter)

Die voormalige Johannesburgse burgemeester, Herman Mashaba, se nuwe politieke party gaan in aanstaande jaar se munisipale verkiesing op die stembrief wees in al drie Gautengse metro’s, maar nie noodwendig oral anders in die land nie.

Mashaba het Woensdag ’n virtuele byeenkoms van die Kaapse Persklub toegespreek saam met Michael Beaumont, bedryfshoof van Mashaba se politieke groepering wat tans bekend staan as The People’s Dialogue en aanstaande maand in ’n politieke party omskep sal word.

Beaumont het pas ’n boek, The Accidental Mayor, oor sy ervarings as Mashaba se stafhoof in die Goudstadse burgemeesterstermyn – van 2016 tot einde verlede jaar – geskryf en die boek is nou op die rakke.

Mashaba het gesê die nuwe party sal slegs in munisipaliteite deelneem waar ʼn realistiese kans is dat die ANC kan verloor, waar die nuwe party leiers van ’n aanvaarbare peil het en waar die nuwe party se geldelike en ander bates dit toelaat.

“Ons wil net deelneem as daar ’n realistiese kans is dat ons deel van ’n koalisieregering kan wees. Ons is bereid om met enigeen saam te werk – die DA, EFF of VF Plus – maar nie met die ANC nie,” het Mashaba benadruk.

Hy dink wel uit sy ervaring as Johannesburgse burgemeester dat die DA onder die party se huidige leierskap (klaarblyklik verwysend na veral Helen Zille) meer konserwatief is as die VF Plus.

Oor die ANC het Beaumont uitgewys dat Mashaba ’n hoogs korrupte en vervalle Johannesburg oorgeneem het toe hy in 2016 burgemeester geword het, met miljarde rand se korrupsie, 4 000 km van die stad se teerpaaie gaar gery, waterpype wat oral gelek het en 90% van brûe te gevaarlik vir menslike gebruik.

Mashaba het uitgewys dat sy administrasie meer as 900 amptenare, ANC-lede en ANC-meelopers van korrupsie aangekla het, maar dat die wil by die nuwe ANC-administrasie in Johannesburg sowel as die nasionale vervolgingsgesag ontbreek om hierdie sake behoorlik te laat vervolg, en baie van die klagtes teruggetrek is, al was die getuienis van wandade volgens hom oorweldigend.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kokerboom ·

Sterkte Herman. Enige redelike stem vir vooruitgang teen die huidige absoluut korrupte regime word verwelkom

Isabella ·

Hy wil niemet ANC saamwerk mar mt EFF…ek vertrou ni di vrede

Tinus ·

Sal graag Herman se verkiesings manifes wil sien,maar sover voel sy benadering soos n koel briesie wat waai,teen die ANC orkaan.

Jaco ·

high hopes mnr Mashaba, maar volgende jaar se plaaslike verkiesings gaan nie plaasvind nie. Corona en lockdown is nou ‘n uiters gerieflike verskoning vir die ANC om finaal van SA ‘n eenpartystaat te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.