Hernude aanslag op Tshwane se infrastruktuur

‘n Vragmotor van die Tshwane-metroraad is Vrydag aan die brand gesteek. (Foto: Tshwane-metro)

Nadat ʼn raadsvergadering van die Tshwane-metro Donderdag in chaos en geweld ontaard het, was daar ʼn dag later hernude aanvalle op die metroraad se bates.

ActionSA wou by die vergadering ʼn mosie teen Cilliers Brink, burgemeester, indien om dadelik met stakers te onderhandel. Buite Tshwane-huis in die Pretoriase middestad het EFF-lede betoog – optrede wat tot geweld oorgegaan het.

Selby Bokaba, woordvoerder van die Tshwane-metro, sê Donderdag is tien ruite gebreek toe klippe en ander voorwerpe na die gebou geslinger is. Vyf mense is reeds in hegtenis geneem en word van opsetlike saakbeskadiging aangekla. Hulle word by die Pretoria-Sentraal-polisiestasie aangehou en sal na verwagting Maandag in die hof verskyn.

Vrydagoggend was daar egter nóg voorvalle van “boewery”. Twee van die stad se busse is in Kgosi Mampurustraat aangeval terwyl die bestuurders op pad terug was na die depot, sê Bokaba.

Altesame 47 busse is Vrydagoggend ontplooi om pendelaars te bedien.

“Vensters en voorruite is beskadig en deure gebreek nadat die busse met klippe en ander voorwerpe gegooi is. Gelukkig was geen pendelaars aan boord van die busse nie.

“Die stad het gevolglik besluit om alle busse te onttrek; dit beteken busdienste word tot verdere kennisgewing opgeskort,” sê Bokaba.

Twee van die Tshwane-metro se elektrisiëns is ook aangeval. (Foto: Tshwane-metroraad)

ʼn Groep mense het twee van die metroraad se elektrisiëns, wat by die Fortsig-depot in Pretoria-Wes werk, vroeër vanmiddag in Bosmanstraat aangeval waar hulle stilgehou het om hul ampsvoertuig met brandstof op te vul.

“Die vragmotor se vensters is stukkend geslaan en dit is met talle voorwerpe bestook. Een van die werkers is beseer en na ʼn hospitaal gehaas. Die ander werker het ongedeerd daarvan afgekom,” sê Bokaba.

Intussen is ʼn watertenkwa aan die brand gesteek en twee vullisverwyderingsvoertuie met klippe gegooi.

Die metro het weens die hernude geweld sy busdiens opgeskort. (Foto: Tshwane-metro)

Johann Mettler, stadsbestuurder, het die “lafhartige en gewelddadige” aanvalle op die stad se bates ten sterkste veroordeel en onderneem om die boosdoeners aan die pen te laat ry.

“Ek wil die polisie loof wat gister spoedig opgetree het deur die verdagtes aan te keer wat glo die vensters van Tshwane-huis stukkend gegooi het. Hulle sal weens hul gedrag die naweek agter tralies deurbring. Ons sal diegene wat ons busse beskadig het ook opspoor en laat boet,” sê Mettler.

Die stad het verskoning gevra vir die ongerief wat die opskorting van die busdiens veroorsaak en het ʼn beroep op pendelaars gedoen om alternatiewe reisreëlings te tref.

  • Die berig is aangepas nadat dit oorspronklik gepubliseer is. – Red. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

marius ·

Hierdie anargie sal nie gekeer word nie. Die howe se tande is getrek . Dis nag .

Alex ·

Tyd dat EFF aangekla word. Hierdie barbarsheid en kinderlikheid is nie meer aan nie

Elsje ·

Hul moet na die ANC leiers gaan en daar gaan betoog, Hul het al die jare die geld gevat. Nou wil hul die een wat sy kennis gebruik uitwerk. As daar nie geld is nie, is daar nie geld nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Is so. Maar indien daar nie geld is nie moet geen ooreenkomste oor salarisverhogings gesluit word nie. In 2021 het die DA in die strik getrap.

JuanRe ·

Ai dis hartseer om te sien hoe SA verval. Al mis ek my familie en vriende baie, is ek so dankbaar ons is in Kanada.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dis nag hier. Lig jul regerende politieke leiers en opposisie in oor die desperate situasie in Suid Afrika. Die waarheid moet uit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.