Hernude pogings om Onteieningswetsontwerp te stuit

Argieffoto (Foto: Michal Jarmoluk/Pixabay)

Suid-Afrikaners het net meer as ʼn maand oor om lede van die parlement te vra om die Onteieningswetsontwerp te stuit. Die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR) waarsku dié wetsontwerp “sal al die land se probleme vererger en enige hoop op herstel verwoes”.

Daar sal op 14 September in die Nasionale Vergadering vir dié wetsontwerp, wat die weg baan vir onteiening sonder vergoeding, gestem word.

“Gegewe hierdie beperkte tydsraamwerk het die IRR vandeesweek ʼn nuwe veldtog van openbare belang van stapel gestuur vir teenstand teen die wetsontwerp, te waarsku oor die gevolge van onteiening sonder vergoeding en lig te werp op beter alternatiewe vir suksesvolle grondhervorming,” sê Mlondi Mdluli, veldtogbestuurder by die IRR.

“Meeste Suid-Afrikaners is nie ten gunste van onteiening sonder vergoeding nie. Die IRR het in 2020 ʼn onafhanklike meningspeiling gedoen om ʼn groot, lukraak gekose, demografiese verteenwoordigende groep Suid-Afrikaners te teiken. Ons wou onder andere weet: ‘Verkies jy ʼn politieke party wat vinniger ekonomiese groei en meer poste beloof, of een wat grondonteiening sonder vergoeding beloof as vergoeding vir foute in die verlede?’”

“Meer as 80% van respondente van alle rasse het gesê hulle verkies groei en poste bó onteiening sonder vergoeding.”

Die IRR het formeel die Onteieningswetsontwerp teengestaan met geskrewe insette aan die parlement in Februarie 2021. “Ons het historiese voorbeelde uiteengesit wat wys dat ʼn land óf onteiening sonder vergoeding het óf groei beleef, nooit albei nie. Sedertdien het die wetsontwerp deur ʼn komiteeproses gegaan, maar nou sal daar na bewering daarvoor gestem word op 14 September.”

Daar is aan die einde van 2021 oor onteiening sonder vergoeding gestem toe LP’s gevra is om die 18de Wysigingswetsontwerp van die Grondwet te oorweeg. In daardie stadium is 204 stemme uitgebring ten gunste van onteiening sonder vergoeding, wat nie genoeg was nie. “Hierdie keer het onteiening sonder vergoeding slegs 201 stemme nodig. Ons maan LP’s om teen die wetsontwerp te stem. Wat Suid-Afrikaners nodig het, is meer beleide wat hul lewenstandaard sal verbeter en die land na welvaart sal lei. Die onteieningswetsontwerp sal die teenoorgestelde beteken.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nie Verbaas ·

Die ANC het duidelik nog nie die land ver genoeg afgebreek nie.

SjN ·

Our people is geldhonger, grondhonger klink na werk vir hulle.

Swerwer ·

Die ANC/EFF is gewoond daaraan om te vat wat nie aan hulle behoort nie, dus sal hul vernielsugtigheid nie end kry voor hul nie hul Kommunisme ten volle uitgevoer het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.