Hernude uitstel in Kosmos-dubbelmoordsaak

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

“Hoe lank moet ons nog wag voordat ons antwoorde oor ons familie se wrede moord gaan kry? Hoeveel keer gaan die saak nou nog uitgestel word? Ons gemoedere gaan dit nie hou nie.”

Dit is net sommige van die vrae wat die familie van Magdaleen Prinsloo (58) en haar dogter, Ruzanne Weideman (31), Maandag by die Brits-landdroshof gevra het nadat die saak teen Paul Prinsloo (61), die man wat van hul dubbelmoord beskuldig word, opnuut uitgestel is.

Maroela Media het vroeër berig Prinsloo het in Maart vlugtig in die hof verskyn waarna die saak weens logistieke kwessies uitgestel is.

Vandag het dieselfde gebeur. Familielede en vriende van die ma en dogter het van ver gery om Prinsloo se verwagte aansoek om borgtog teen te staan en beëdigde verklarings af te lê. Prinsloo se saak is egter weer weens logistieke probleme uitgestel.

Paul Prinsloo tydens sy vyfde verskyning in die Brits-landdroshof (Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Volgens die staatsaanklaer is die ondersoekbeampte in die saak ook onlangs gehospitaliseer en ʼn nuwe ondersoekbeampte moes aangewys word.

Prinsloo se regsverteenwoordigers het die hof gevra dat die saak tot volgende week uitgestel word omdat logistieke probleme by die hof voortduur en “sodat die nuwe ondersoekbeampte genoeg tyd het om op hoogte te kom”.

Die landdros het ingestem en die saak is tot 24 April uitgestel. Prinsloo sal dan na verwagting formeel aansoek om borgtog doen. Hy bly intussen agter tralies.

Carlien Kleyn (57) en Nici Hanly (50), Magdaleen se jonger susters, sê hul grootste vrees is dat borgtog aan Prinsloo toegestaan word.

“Ons weet dat sy regsverteenwoordigers sy gesondheid as ʼn ‘get out of jail’-kaart gaan gebruik.”

Prinsloo se regspan het vroeër aan die hof gesê hy is ʼn kankerpasiënt. Volgens die twee susters is Prinsloo ʼn sieklike man, maar hulle het nie geweet kanker is by hom gediagnoseer nie.

“Ons sal bly bid. En ons het baie mense wat saam met ons bid dat hy vir die res van sy lewe agter tralies sal sit. Ons sal elke keer hier wees, hy mag nie borgtog kry nie,” het die susters aan Maroela Media gesê.

Hanly sê die proses is nie maklik nie.

“As ek vir hom [Prinsloo] kyk, voel ek leeg. Hierdie hofsake maak my klaar. Om elke keer in my liefste sussie en haar pragtige dogter se ‘vermeende’ moordenaar vas te kyk, eis sy tol.”

Vier van Prinsloo se vriende was ook Maandag by die hof om hom te ondersteun.

“Dit is uiters teleurstellend dat die saak net weer uitgestel is. Ons het van ver gekom om hier te wees,” het een van sy vriende op voorwaarde van anonimiteit aan Maroela Media gesê.

Die ma en dogter is op 27 November omstreeks 14:30 by hul huis op Kosmos in Noordwes doodgeskiet. Daar was glo ʼn rusie tussen Paul en Magdaleen, waarna hy glo sy jaggeweer gaan haal en ma en dogter doodgeskiet het. Nooddienspersoneel het die twee op die toneel dood verklaar. Prinsloo is kort ná die voorval by die huis in hegtenis geneem en is sedertdien agter tralies.

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Casper ·

Hy het geloop om sy jaggeweer te gaan haal en hulle toe doodgeskiet.Hoekom het hy nie toe gedink aan sy kanker nie want hy het geweet daar gaan nagevolge wees.Dit was moord met voorbedagterade en daarom mag hy nie borg kry nie.

Pierre ·

Moet maar met sy kanker in die tronk sterf daar is net te maklik om te se ek is siek die staad moet maar versorg.

Thys ·

Daar gaan soek die heiliges die grootste klippe, kan julle nie wag dat die reg sy gang gaan nie?

George ·

Ek hoop sy kanker hou hom nog so paar jaar dat hy ordentelik kan suffer eers.

Roedolf Johannes ·

Van watse reg word daar gepraat S A regstelsel beskerm misdadiger,Hoeveel vrouens wat al verkrag is se verkragter is al weer uit die tronk en gaan weer aan.Hy kry kos behandeling en lewe lekker in die tronk.Die arme vrou moet vir haar eie mediese koste en behandeling betaal.Hoop daar word nou iets in ons land gedoen om misdadigers viniger te verhoor skuldig te bevind en swaarder strawe op te lê.Dit is maklik om as n buite stander kommetaar te lewer en baie te sê het,soos wag laat die reg sy gang gaan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.