Die nadoodse ondersoeke op Heidi Scheepers (35) en haar tweejarige seuntjie, Hugo, is afgehandel. Dié ondersoeke het bevind dat ma en seun verdrink het toe hul voertuig verlede week in die see by Voëlklip naby Heroldsbaai beland het.
Kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie, sê Hugo se lykskouing is Vrydag en Scheepers s’n Maandag afgehandel.
Maroela Media het vroeër berig ʼn uitgebreide soektog is verlede week van stapel gestuur nadat Scheepers en haar kinders, Cozette en Hugo, verlede Dinsdag omstreeks 18:00 die laaste keer lewend in Heroldsbaai gesien is. Hulle het verby die gesin se winkel, die Heroldsbaai Kafee, gery. Haar man, Ettienne, het sy gesin kort daarna as vermis aangemeld.

Die grootskaalse soektog na Heidi Scheepers en haar twee kinders is verlede Woensdag van stapel gestuur. (Foto: SA Polisie)
ʼn Grys Volkswagen Caravelle, soortgelyk aan die een waarmee Scheepers en haar twee kinders Dinsdag verdwyn het, is Donderdag langs die rotse by Voëlklip gekry. Die wrak is intussen uit die see herwin en sal deur die polisie ondersoek word.
Hugo se liggaam is Donderdagmiddag laat in die see gevind en Heidi se liggaam is Saterdagmiddag in die see by Heroldsbaai gevind.
Pojie sê hoewel rowwe seetoestande duikers se taak bemoeilik, duur die soektog na Cozette (6) voort.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
8 Kommentare
Bitter hartseer. Hoop hul vind dogtertjie spoedig.
Dit is so verskriklik tragies, met ander woorde, hulle was bewus hulle is oppad na die onvermydelik.
Wat beteken dit was tragiese ongeluk, frats ongeluk. So hartverskeurend, sterkte San Ettiene en familie
Wat beteken dit was tragiese ongeluk. So hartverskeurend, sterkte San Ettiene en familie
So tragies. Die arme mense. Al my simpatie