Heropening van skole in Januarie ‘op dreef’ – onderwysdepartement

Matanzima Mweli, DG van basiese onderwys, het reeds verskeie nasiensentrums landwyd besoek. (Foto: Basiese onderwys)

Die direkteur-generaal van basiese onderwys sê die departement is op dreef met die heropening van skole later vandeesmaand.

Daar was vroeër berigte dat skole weens die tweede vlaag van die Covid-19-pandemie dalk eers later kan heropen.

Mathanzima Mweli, DG van die departement, het Maandag gesê alle leerders word op vlak 3 van die afsonderingsregulasies toegelaat om terug te keer skool toe. Suid-Afrika is tans op ʼn aangepaste risikovlak 3.

In sekere brandpuntgebiede kan voorsiening gemaak word vir ʼn ander aanslag met die heropening van skole. In sulke gebiede kan byvoorbeeld van leerders verwag word om van die huis af te leer.

Mweli sê die departement het inligting van die departement van gesondheid gebruik om ʼn plan saam te stel vir leerders se terugkeer na skole. Dié plan word Dinsdag aan die nasionale koronavirusbevelsraad voorgelê wat dan ʼn finale besluit oor die heropening van skole sal neem.

Volgens hom is die departement egter op dreef met planne vir onderwysers om op 25 Januarie aan te meld en leerders op 27 Januarie.

En terwyl die matriekklas van 2020 naels kou oor hul uitslae, sê die departement hy is op skedule vir die minister om die matriekuitslae op 23 Februarie aan te kondig. Die eerste week van nasienwerk by 177 sentrums landwyd is afgehandel en het goed verloop, het Mweli gesê.

Nasieners in Gauteng gereed om aan die werk te spring. (Foto: Basiese onderwys)

Alle merkwerk moet op 22 Februarie klaar wees.

Mweli sê die nasienwerk van sommige van die kleiner vakke is reeds afgehandel en sekere provinsies sal die algehele nasienproses na verwagting heelwat vroeër klaarmaak.

Priscilla Ogunbanjo, direkteur van openbare eksamens by die departement, sê daar is vanjaar altesaam 18 dae opsy gesit vir die nasien van matriek-antwoordstelle. Nasienwerk duur gewoonlik sowat twee weke. Die bykomende dae is bygereken om voorsiening te maak vir enige gebeurlikheid. Geld hiervoor is beskikbaar nadat die halfjaareksamen verlede jaar opgeskort en met die eindeksamen gekombineer is.

Byna 6% van die land se 46 024 nasieners het tot dusver aan die proses onttrek, terwyl altesaam 238 nasieners – sowat 0,5% – van nasieners in hierdie stadium positief vir Covid-19 getoets het.

Die grootste getal nasieners het in die Wes-Kaap onttrek.

Siftingstoetse word by elke nasiensentrum gedoen voor nasieners toegelaat word om die perseel binne te gaan.

Ogunbanjo sê streng veiligheidsprotokolle word by nasiensentrums gevolg, maar daar is ook genoeg plaasvervangers aangestel om diegene te vervang wat nie hul pligte kan vervul nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Danie ·

Okay, kom ons stel die heropening van skole met 4 weke uit. Oor 4 weke lyk die infeksie syfer nog erger, nou stel ons dit uit tot Maart. Maart kom en dinge lyk nie beter nie, nou stel ons dit nog 2 maande uit en nog en nog en nog. Meeste skole se voorsorg maatreels is beter as die mall sin waarna almal so stroom en het n baie kleiner risiko.

Tanniepetoors ·

Alles en almal kan nie vir altyd tot stilstand kom agv Covid nie. Kom protokolle streng na en maak seker almal VERSTAAN die reëls en risiko’s.

Hennie J ·

Dit sal nog bewys word dat die groot teestanders van geopende skole niemand anders as n sekere groep lui ondedrwysers is nie.

Loveleh ·

Ek moet doodeerlik wees. Ek is ‘n onderwyseres en ek is bang om terug te keer skooltoe. Ek,my kollegas en die 1200 leerders wat ons onderrig, word so blootgestel. Moenie my verkeerd verstaan nie. Ek is glad nie lui nie, ek sal aanlyn klasgee en ook ekstra klas as die tweede Covid-vlaag verby is, maar om elke dag in vrees te lewe is een te veel vir my.

Cindy ·

ek is nie ‘n onderwyser nie, maar ek is wel ‘n ouer en wil nie he my kinders moet op die stadium skool toe nie. Vir hul eie gesondheid, sowel as myne. Ek kan myself nie indink hoe die onderwysers moet vrees vir hul gesondheid nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.