Herrie oor skoolvoedingskema: Kontrakteur kry glo nog g’n sent

(Foto: Pixabay)

Pacina Retail, die enkele diensverskaffer wat die KwaZulu-Natalse onderwysdepartement aangestel het om ingevolge sy skoolvoedingsprogram kos aan duisende skole in die provinsie te lewer, sê hy het tot dusver nie ʼn enkele sent betaling van die departement ontvang nie en finansier die program uit sy eie sak.

Die maatskappy bevind hom midde-in ʼn herrie weens sy beweerde versuim om genoeg en behoorlike kos aan skole ingevolge die R2,1 miljard-ooreenkoms na te kom. Die departement van onderwys in die provinsie het vroeër in ʼn omsendbrief aangevoer die kontrak aan Pacina, as hoofverskaffer van die provinsie se skoolvoedingsprogram, word onttrek omdat hy nie die kos gelewer het nie.

Pacina ontken nou dat dit die geval is.

Die maatskappy sê hy “wil die rekord regstel oor ongegronde gerugte en misleidende bewerings oor die ineenstorting van die program”. Volgens hom was daar tandekry-probleme tydens die aanvang van die program, maar dit is vinnig uitgestryk en het beslis nie tot die ineenstorting van die program gelei nie.

Pacina hou voet by stuk dat die kontrak tussen hom en die departement steeds geld. Hy sê ook hy is verbind daartoe om sy verpligting na te kom en kos aan alle verspreidingspunte te lewer. “Ons het nie die kontrak tussen die partye opgeskort nie. Tot op hede bly die kontrak in plek en geldig.”

Die maatskappy sê hy het sedert 14 April kos aan alle ooreengekome afhaalpunte in al 12 distrikte van die provinsie gelewer. Hier kom haal 1 765 ander kontrakteurs – wat onafhanklik deur die departement aangestel word – dit af en lewer dit dan weer aan die 5 446 skole in die provinsie.

“Dit is nie waar dat ons nie afgelewer het nie. Inteendeel, meer as 2 400 ton niebederfbare en droë kos en meer as 3 000 ton bederfbare kos is aan daardie optelpunte gelewer,” lui die maatskappy se verklaring.

Hy neem ook kennis van vals berigte oor die lewering van substandaardkos en ontken ten sterkste dat hy in enige stadium vrot kos by die optelpunte afgelewer het, sê Pacina.

“Pacina het streng gehaltebeheermaatreëls. Die bewerings, eenvoudig gestel, is heeltemal ongegrond, onwaar en agterbaks.”

Boonop, voer die maatskappy aan, moes hy sedert die aanvang van die kontrak alle geld daarvoor uit sy eie sak betaal.

“Ons het nog nie ʼn enkele sent betaling van enige bedrag van die departement ontvang nie; inteendeel, ons moes die program sedert sy aanvang tot nou self finansier.”

Pacina sê hy het ʼn aansienlike bydrae gelewer tot die opheffing van gemeenskappe in die provinsie en dat hy hom opnuut verbind tot die lewering van gehaltekos aan alle verspreidingspunte in KwaZulu-Natal.

“Ons sal saam met die departement en ander belanghebbendes werk om die suksesvolle inwerkingstelling van die nasionale skoolvoedingsprogram in KwaZulu-Natal te verseker.”

Hy het ook groot begrip vir mense se kommer oor die situasie, sê Pacina.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.