‘Hersien wetgewing oor lisensies’

(Foto: RTMC)

AfriForum gaan die vereiste dat bestuurslisensiekaarte elke vyf jaar hernu moet word, in die hof betwis. Die burgerregteorganisasie versoek dat dié vereiste ongeldig verklaar en hersien word aangesien die wetgewing rakende die hernuwing van bestuurslisensies, onduidelik is.

“AfriForum eis ’n verklarende bevel dat die Nasionale Padverkeerswet en die meegaande regulasies, in soverre dit die hernuwingstydperk vir bestuurderslisensiekaarte tot vyf jaar beperk, ultra vires, onredelik, arbitrêr en vaag is.

“Die organisasie eis verder ’n verklarende bevel dat motoriste nie kragtens dié wetgewing gepenaliseer of beboet mag word omdat hulle nie in besit is van ’n hernude bestuurderslisensiekaart is nie, aangesien so ’n boete nie bestaan nie,” het Reiner Duvenage, AfriForum se veldtogbeampte vir strategie en inhoud, Donderdag tydens ’n regstreekse uitsending gesê.

AfriForum voer aan dat sy aansoek op grond van aansienlike regs- en praktiese gronde behoort te slaag aangesien die Nasionale Padverkeerswet en -regulasies uit ’n regsperspektief te vaag is om uitvoerbaar te wees.

“Die wetgewing onderskei nie duidelik tussen ’n ‘bestuurslisensie’ en ’n ‘bestuurslisensiekaart’ nie. Dit bepaal ook nie uitdruklik dat motoriste om ’n nuwe kaart moet aansoek doen wanneer dié kaart verval nie. Dit bepaal nie eens dat dit ’n misdaad is om met ’n vervalde lisensiekaart te bestuur nie en skryf geen boete, straf of sanksies voor nie.”

Duvenage sê die wetgewing is nie duidelik, bondig en intern harmonieus genoeg nie en dat die algemene publiek dus nie met sekerheid kan weet wat van hulle verwag word nie.

“Verder is die wetgewing ultra vires, met ander woorde die regering kan nie lede van die publiek straf as dit nie duidelik kan aantoon watter wet oortree is nie. Enige so ’n straf kom neer op ’n skending van regte.

“Uit ’n praktiese oogpunt maak die departement van vervoer se goed gedokumenteerde administratiewe, operasionele en finansiële stryd dit onuitvoerbaar, onredelik en irrasioneel om van bestuurders te vereis om hul lisensiekaarte elke vyf jaar te hernu.”

Die aansoek beklemtoon verder dat baie lande wêreldwyd ’n lisensiekaartstelsel kies wat nie so ’n gereelde hernuwing vereis nie.

“Dit is verregaande dat die vereiste om bestuurderslisensiekaarte elke vyf jaar te hernu skynbaar op geen wetgewing berus nie. As ons aansoek suksesvol is, sal dit die departement van vervoer lelik in die skande steek, aangesien dit sal beteken dat hulle die publiek al jare lank onregmatig straf.

“Dit kan werklik ’n keerpunt in die geskiedenis van Suid-Afrika wees.”

AfriForum het ’n webwerf bekendgestel waar lede van die publiek die hofsaak kan ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Marius ·

‘n Bestuurlisensie verval eers met die draer daarvan se afsterwe.

Die bestuurs kaarte is net ‘n geldmaak projek. Hoeveel miljarde is al uit die publiek getap en waar is al hierdie geld heen ? Gaan kyk bietjie wie is die ontvanger van al die geld waarvoor daar geen rekenskap gevra word nie.

Êrens loop daar ‘n paar skelms wie se broeksakke knop staan van al die slegtigheid.

Johan ·

Dit is mos mnr. Zuma se vriend, Schabir Shaik deur sy maatskappy Kobitec, wat met die fondsinsameling idee van bestuurderslisensiekaarte wat elke 5 jaar verval begin het. Toe Schabir aan bedrog skuldig bevind is, moes die fondsinsameling deur middel van bestuurderslisensiekaarte ook gestop het, dan het ons nie nou nog met die nalatenskap van Shaik gesit nie.

miche ·

Dalk is dit wel ‘n goeie idee om nog Steeds elke 5 jaar bewys van goeie sig
( oogtoets) te lewer indien bestuurderslisensies wel verleng word na 10 jaar ipv. 5?

Nettie ·

Miskien na ‘n sekere ouderdom? Laat lisensiekaarte geldig wees tot die persoon 45 of 50 jaar oud is, daarna 10 jaar, daarna elke 5 jaar.

AH ·

Ek is 65 en bestuur met ‘n bril vandat ek 18 jaar oud is. Die oogtoetse wat sonder bril gedoen word beteken niks want ek kan in elkgeval nie ver sien sonder my bril nie…..

Jsgroen ·

Enige bestuurder wie nog steeds bestuur terwyl die persoon nie ordentlik kan sien is naby aan ‘n idioot. Met my bril kan ek in elk geval nie die toetspatroon sien en moet elke keer geld spandeer dat ‘n oogkundige bevestig dat ek wel kan sien. Geen mens het nodig om ‘n lisensie plaat op 50 meter te kan lees. Padtekens is baie groter as dit.

Koos 100 ·

Nevermind publiek straf, indien die hof in Afriforum se guns beslis, mag ek my geld wat ek vir die afgelope 20+ jaar betaal het, terug eis?

Samuel ·

Die dept van vervoer en sy minister steek hulself in die skande, keer op keer. Geen hof uitspraak gaan hul onbevoegdheid verander nie.

Witbaard ·

AfriForum doen wat die DA (as opposisieparty in die parlement) veronderstel is om te doen, maar lyk my hulle is diegene wat altyd NA die tyd klippe gooi en kommissies wil aanstel. Dit is duidelik dat hulle maar eintlik ook maar net salaristrekkers in diens van die belastingbetalers is.

FC ·

Dankie, baklei ook vir motorfiets ryers wat vol prys betaal om op n tol pad te ry, terwyl taxis met 15 persone in dieselfde prys betaal.
Baklei bietjie daarvoor aangesien daar baie meer bike`s op die paaie gaan wees met die hoe branstof pryse.

Perdeby ·

Wat die swape nie verstaan nie, jou lisensie verval die dag wanneer jy afsterf.

Misky ·

Hulle kaart verval, my lisensie verval die dag as ek sterf.

Mallie ·

Dit sal goed wees. Wil hulle nie sommer die vuurwapen lisensies ook takkel nie asseblief.

antieke antie ·

daar is soveel bedrog met lisensies en taxi’s behoort ekstra opleiding as vereiste he en die taxi’s moet van die pad afgehaal word vir n week vir wetsoortreders en onpadwaardige voortuie … en bevoegde wetstoepassers!!!
en maak PDP en lisensies selfde tyd geldig wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.