Herstelwerk aan ikoniese Muizenberg-huisies vorder fluks

Die opknappingswerk aan die huisies behoort einde November voltooi te wees. (Foto: Verskaf)

Daar gaan nuwe lewe in die ikoniese huisies op Muizenbergstrand geblaas word sodra die tweede fase van die Kaapse metro se opknappingsprojek voltooi is.

Die metro doen in oorleg met die Vriende van die Muizenberg-huisies opknappingswerk om eindelik die huisies weer tot hul voormalige glorie te herstel.

Die stad se departement van ontspanning en parke het vandeesweek begin met die tweede fase van die herstelwerk.

“Hierdie gesamentlike inisiatief met die Vriende van die Muizenberg-huisies het ten doel om die trots Kaapse simbool, wat ook deel vorm van die kulturele en historiese erfenis van Muizenberg, te bewaar,” sê Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad.

“Deur goed deurdagte opknappings te doen, sal ons verseker dat hierdie ikoniese huisies voortgaan om ʼn simbool te wees van die gebied se sjarme en karakter.”

(Foto: Verskaf)

Fase twee van die opknappingswerk verseker dat 26 dubbelhuisies en tien enkelhuisies herstel word. Dit sal nagenoeg R5,9 miljoen kos om hierdie fase af te handel.

Só word die huisies opgeknap:

  • vloerbalke, houtdraers en dakbalke word met behandelde hout vervang;
  • kantpanele en dakke met Nutec-bekleding vervang;
  • houttrappe herbou en betonbasisse vir trapleunings gelê;
  • houtsitplekbanke binne die huisies herbou;
  • houtvloerplanke en houtdeure vervang;
  • alle staalboutverbindings met gegalvaniseerde boute en plate vervang en;
  • alle houtelemente behandel en die wandpanele en dakke oorgeverf.

Die metro verwag dat die opknappingswerk teen einde November afgehandel sal wees.

“Sodra hierdie projek voltooi is, sal al die strandhuisies op Muizenbergstrand volledig opgeknap wees,” sê Patricia van der Ross, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid.

“Ek wil egter ʼn beroep op mense doen om ons te help om hierdie ikoniese strukture wat die Kaapse kuslyn so uniek maak, te bewaar deur dit versigtig te gebruik.”

Die huisies word as kleedkamers vir strandgangers gebruik.

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Laksman ·

n 3m x 12m is R 34000 – duurste wat ek kon sien en hierdie huisies is beslis nie so groot nie…..Iemand skep weer goed…….DA, wat gaan hier aan?

piet ·

Wat van die goed binne-in, dis nie net ‘n dop nie. En dis ook nie nou net meer houthuisies nie, hulle doen ander verbeterings met ander materiale ook. Jy kan die huisies in elk geval nie met die dun houtpaneeltjies van ‘n wendyhuis vergelyk nie. ‘n Wendyhuis se dun paneeltjies sal binne ‘n jaar opvrot so teenaan die see.

latie ·

lekker man het nie daai job vir my nie want SAPS betaal nie genoeg nie

Pieter ·

R226 923.00 vir een… Wat smeer julle aan daai hout?
Dis nie asof daar weer Stads Beplanning met wees nie…

Piet 6 ·

Daar is ń totaal van 36, nie net die 26 dubbel huisies nie, daar is 10 enkelhuisies ook.

piet ·

Jy mis die punt, dis ikoniese houthuisies wat al dekades daar staan. Dis deel van die landskap en uniek aan daai strand. Amper soos ‘n erfenis wat bewaar moet word.

Andrew ·

Ikonies vir wie? En dan aantrekamers by strande is dwelm en kiem neste , wat maak die nou anders

Ben ·

Gemiddeld van R163888 per huisie vir herstelwerk. As ek so na die grootte van die huisies kyk, kon julle splinternuwes gekoop het vir n KWART van daardie prys! WIE is die persoon by die munisipaliteit wat die somme gedoen het hier? Vaderland. Gee die job vir my, ek sal julle baie geld spaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.