Hiér wag jy ʼn dekade vir ʼn operasie

Die Livingstone-hospitaal in Port Elizabeth. (Skermskoot/Google Maps)

Die Oos-Kaapse departement van gesondheid het tydens ʼn sitting van die provinsiale wetgewer onthul dat pasiënte wat ortopediese operasies benodig, soms tot tien jaar vir ʼn operasie by een van die provinsie se staatshospitale wag.

Nomakhosazana Meth, LUR vir gesondheid in die Oos-Kaap, sê daar is meer as 1 600 pasiënte wat dringende ortopediese chirurgie benodig net op die Frere-hospitaal in Oos-Londen se waglys. Die amptelike agterstand is nege jaar “en meer waarskynlik nader aan tien”. Volgens hom wag kinders en babas meer as ʼn jaar vir dringende operasies.

“Dit is onaanvaarbaar,” sê Jane Cowley, die DA se woordvoerder vir gesondheid in die Oos-Kaap.

“Ek het dr. Joe Paahla, minister van gesondheid, asook die gesondheidsombudsman genader om dringend in te gryp en aandag te gee aan die provinsie se agterstand met kritiek belangrike chirurgie.”

Die Livingstone-hospitaal in Port Elizabeth het verlede week pasiënte in kennis gestel dat daar niks is wat die hospitaal verder vir hulle kan doen nie, omdat geen chirurgiese toerusting of inplantings wat vir ortopediese operasies benodig word by die hospitaal beskikbaar is nie.

“Dit is omdat die feitlik bankrot departement van gesondheid nie uitstaande skuld aan verskaffers betaal het nie, en dié weier nou om die departement verder van chirurgiese toerusting en inplantings te voorsien,” sê Cowley.

“Dit is verregaande dat pasiënte moet ly en in kritieke gevalle amputasies moet ondergaan weens jare se finansiële wanbestuur deur die departement van gesondheid.”

Die haglike toestande in Oos-Kaapse staatshospitale het al menigmaal die media gehaal, maar oplossings deur die departement van gesondheid blyk steeds afwesig te wees.

Voorstelle om distrikshospitale te versterk as ʼn meganisme om die huidige krisis by die Frere-hospitaal te verlig het skynbaar ook misluk. Volgens Cowley is dit omdat finansiële beperkings die departement verhinder om distrikshospitale van die nodige toerusting vir operasies te voorsien.

“In plaas daarvan om deurlopend onnodige administratiewe poste te skep en deur korrupte en onbevoegde kaders te vul – wat niks bydra tot die funksionaliteit van die departement nie – moet daar prioriteit gegee word om bevoegde persone in mediese poste aan te stel. Die vereffening van skuld aan deurslaggewende verskaffers moet ook prioriteit geniet,” sê Cowley.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Henry ·

die staats hospitale was die beste in Suid Afrika
Die vraag is hoekom het dit so agteruit gegaan

Daisy ·

Ek dink ons almal ken die antwoord; ons mag dit nie noodwendig in die Media publiseer nie.

Amelia ·

Arme mense dalk in soveel pyn maar die parlements lede gaan sommer oorsee vir iets klein
of van die duurste hosp in die land maar die arm mense wat dalk n klein salaris verdien maar ook bydra vir land kan dit nie bekostig om te bataal nie moet nou ly as gevold van onbevoegde mense ai mens word sommer harseer oor sulke goed

Anel ·

En dan wil hulle die NGsorg deur stoomroller!!!!! Dit werk nie in die buiteland nie en sal glad nie hier werk nie. Niks in die lewe is verniet nie. Iemand moet die koste dra.

Nico ·

Nee, maar gaan aan om geld te spandeer op belangriker sake, soos om dorp/stadsname te verander …….

Mariana ·

Net nog ‘n bewys van die regering se prioriteite. Gee geld weg vir hul maatjies in Kuba en wil sokkerspanne borg en spandeer tyd en geld aan onnodige dinge. Geen belange by die mense van die land nie.

Kokerboom ·

Vraag is: Hoekom?Rede?
Vra die kaders ooit die vrae of gee hul bloot netnie om?

Alta Alleman ·

n Familielid het n groeisel in haar maag wat haar laat lyk of sy 10 maande swanger is. Vir die 3rde keer is sy weggewys van Livingston hospitaal met die die boodskap dat hulle haar sal bel wanneer hulle weer operasies kan uitvoer want die hospitaal het nie geld nie. Sy ly elke dag verskriklik van die pyn wat haar organe word nou aangetas. Haar hande is afgekap want sy het nie medies nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.