Hittegolf laat noorde van land sweet

Foto: www.iop.org

Suid-Afrikaners kan hulself staal vir nog twee dae van sweet met ’n hittegolf wat ’n groot gedeelte van die land getref het.

Edward Engelbrecht, weervoorspeller verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), sê die hittegolf word vir Gauteng, Mpumalanga, Noordwes, die oostelike dele van die Noord-Kaap, westelike dele van Limpopo, die noordwestelike gedeeltes van KwaZulu-Natal asook plekke in die Vrystaat voorspel.

Die temperature sal van Maandag af in dié gedeeltes van die land skerp styg nadat dit reeds Sondag baie warmer begin raak het.

Die kwik sal van vandag tot 34 °C in Johannesburg, 37 °C in Pretoria en 35 °C in Vereeniging styg.

Engelbrecht sê die warmste maksimum temperatuur van 41 °C word vir Kimberley in die Noord-Kaap voorspel, gevolg deur 37 °C vir Upington.

In die Noordwes word ’n maksimum temperatuur van 39 °C vir Vryburg en 37 °C vir Potchefstroom voorspel. ’n Maksimum temperatuur van 38 °C sal Dinsdag in Nelspruit in Mpumalanga aangeteken word.

Bloemfonteiners in die Vrystaat sal Maandag ’n maksimum temperatuur van 36 °C ervaar. In Welkom sal dit 37 °C wees.

Volgens Engelbrecht sal temperature na verwagting teen Woensdag weer daal wanneer ’n kouefront suid van die land verbybeweeg.

“Temperature vir die meeste gedeeltes van die land sal teen Woensdag afkoel tot in die hoë 20’s.”

Die weerdiens waarsku teen die intense hitte wat ’n gesondheidsrisiko vir mense en diere kan inhou en raai Suid-Afrikaners aan om binnenshuis te bly tussen 11:00 en 15:00.

’n Waarskuwing is ook uitgereik vir moontlike brande wat weens die hittegolf in die Noord-Kaap, Vrystaat en Noordwes kan uitbreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

4ntj13 ·

Ai, die Weerdiens klink maar vir my baie dom:
Hoe kan hierdie hoë lugtemperatuur slegs “op plekke” in die Vrystaat wees as ons ʼn sterk WNW wind het?
Hoe kan brandgevaar deur temperatuur erg genoeg vir ʼn waarskuwing wees as ʼn warm, droë wind soveel erger is daarvoor?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.