Hittegolfwaarskuwing vir Pta uitgereik

Argieffoto

Argieffoto

Die Tshwane-nooddienste het ʼn waarskuwing uitgereik om Pretorianers en besoekers bewus te maak van uitermate warm toestande as gevolg van ʼn hittegolf wat tot minstens Donderdag kan voortduur.

Vanetia Phakula, weervoorspeller van die Suid-Afrikaanse Weerdiens, het Dinsdag aan Maroela Media gesê ʼn hittegolf word tans slegs in Pretoria ervaar en die kwik gaan ten minste nog tot Donderdag in die rooi wees, maar dat die hitte selfs langer kan duur.

“Hittegolwe word bepaal deur die gemiddelde temperature van die warmste maande te meet. Die warmste maande is Desember en Januarie en die gemiddelde temperature is dan tussen 28 °C en 29 °C. Sodra temperature 5 °C bo dié gemiddeld ervaar word, word dit as ʼn hittegolf beskou,” het sy verduidelik.

Johan Pieterse, woordvoerder van die nooddienste, het gesê die hitte gaan nog ʼn geruime tyd met ons wees en mag selfs terugkeer nadat dit weer afgekoel het. Hy het egter inwoners gerusgestel dat die nooddienste gereed is om te reageer op noodgevalle wat met hittegolwe verband hou.

“Uitermate hoë temperature kan lewensgevaarlik wees vir kinders, volwassenes wat buitemuurs oefen, mense met asemhalingsprobleme asook bejaardes en gestremdes aangesien hulle die kwesbaarste is om hitte-uitputting te kry,” het Pieterse gesê.

Hitte-uitputting kom voor wanneer mense in warm omstandighede werk of oefen en die liggaam nie voldoende kan afkoel nie.

Werner Vermaak, ʼn woordvoerder van ER24, het gewaarsku dat inwoners uiters versigtig moet wees tydens ʼn hittegolf omdat hitte-uitputting maklik kan voorkom.

“Maak seker jy drink baie water en moet glad nie kinders of troeteldiere alleen in ʼn toe voertuig laat nie,” het hy gewaarsku. Hy het gesê buitemuurse aktiwiteite moet beperk word en mense wat buite werk moet probeer om soveel as moontlik in die skadu te wees. “Hou veral gereeld kontak met bejaarde mense wat alleen bly of mense wat nie maklik op hul eie kan rondbeweeg nie.”

Tekens van hitte-uitputting is duiseligheid, spierpyne, braking, hoofpyn, warmgloede en sweetbuie. “As dié tekens by iemand waargeneem word en hulle verloor hul bewussyn, ontbied dadelik hulp. Draai die persoon op sy of haar sy, verwyder ekstra klere en probeer om die persoon stelselmatig af te koel totdat paramedici opdaag.”

Die Tshwane-nooddienssentrum kan geskakel word by 10177 of 012 310 6300/6400.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Carina ·

Moeilik om te glo die hittegolf is net in Pretoria..Hier in Ermelo,Mpumalanga is dit net so warm..Drukkende hitte..

Blondie ·

Ons was die lang naweek in die Noord Kaap en dit was n lieflike 40 grade… half 4 die middag nogsteeds…

Winston ·

Ja dis oral lekker “koel”. Hier noord van Upington kry ons ook heerlike temperature. Dalk is die Namib aan die nader skuif?

susan ·

“Die warms te maande Desember en Januarie, 28 en 29°” ek dink nie so nie. Januarie en Februarie die warmste maande in Pretoria met temperature tussen 32 en 36°. Vanetia Phakula van die weerdienste weet dit nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.