Hoë in OB-kantoor had nie sekerheidsklaring

Vussy Mahlangu (Foto: Skermgreep)

Die voormalige uitvoerende hoof van die Openbare Beskermer (OB) se kantoor het nie die nodige veiligheidsklaring gehad nie, al was dit ’n vereiste vir die pos wat hy beklee het.

Vussy Mahlangu het Dinsdag voor die parlement se artikel 194-komitee verskyn wat belas is met die proses oor die moontlike verwydering van Busisiwe Mkhwebane as OB.

Die komitee het gehoor dat Mahlangu talle dissiplinêre sake verdedig het wat plaasgevind het sedert hy as uitvoerende hoof van die OB gedien het. Hy het bewerings ontken dat hy werknemers in die OB se kantoor geteister, geviktimiseer en geïntimideer het. Hy het gesê al die korrekte prosedures is gevolg en het ook ontken dat die toename in dissiplinêre aangeleenthede in die kantoor van die OB ’n aanduiding is van die verwydering van senior amptenare.

Rakende sy veiligheidsklaring het Mahlangu gesê die Staatsveiligheidsagentskap het aangedui dat hy nie dié klaring kon kry nie nadat hy by sy vorige pos by die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming weg is weens aanklagte teen hom. Dié saak is steeds hangende in die arbeidshof.

Mahlangu het egter ontken dat hy sy mag misbruik het in die kantoor van die OB, al is hy ook in sy vorige pos daarvan beskuldig.

Volgens Mahlangu het in sy 19 maande ampstermyn in die kantoor van die OB, op feite staatgemaak wanneer dissiplinêre verhore en ondersoeke plaasgevind het. Hy het ontken dat die dissiplinêre optrede wat hy onderneem het in opdrag van of in oorleg met Mkhwebane was aangesien hy in beheer was van die administrasie en dat Mkhwebane nie ingemeng het nie. Mahlangu het in Januarie 2020 uit die pos bedank.

Mahlangu wou nie die redes vir sy bedanking bekend maak nie en het nadat hy daaroor uitgevra is, gesê dit is persoonlik. Hy het aangevoer Mkhwebane het die kantoor van die OB bekend en toeganklik vir die publiek gemaak deur die hofsake wat sy hanteer het. Hy wou egter nie kommentaar lewer oor of Mkhwebane die regte prosedures gevolg het in haar ondersoeke nie. Mkhwebane was ’n harde werker en hy het baie by haar geleer, het Mahlangu aangevoer.

Qududile Dyantyi, komiteevoorsitter, het Mahlangu gevra om sy vroeëre getuienis te bevestig dat hy niks met die ondersoeke deur die OB se kantoor te doen gehad het nie en ook nie enige navrae oor ondersoeke gedoen het nie. Mahlangu het gesê sy werk het die administrasie van die kantoor van die OB behels.

Adv. Ncumisa Mayosi, een van die getuienisleiers, het egter gesê daar is ’n e-pos waarin Mahlangu navraag gedoen het oor ’n ondersoek en dat daar ook e-posse is wat aandui dat Mkhwebane navraag gedoen het en by dissiplinêre sake betrokke was, al het Mahlangu vroeër die OB se betrokkenheid by dissiplinêre aangeleenthede ontken.

Die komitee gaan vandag met sy verrigtinge voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Johan ·

Dis darem ongelooflik hoe mens daagliks verras word deur die onbevoegdheid, korrupsie en minagting vir die land se wette en sy mense! Net sodra mens dink, nou ja, nou het ek alles gehoor, wragtig, dan word jy weer verras! Dit laat my só baie dink aan die moedverlore gevoel van dienspligdae tydens opleiding, wanneer ‘n troep kort-kort laat hoor het: “Kopperaal, ek kannie meerie, kopperaal … !”

Nie Verbaas ·

“Mkhwebane was ’n harde werker en hy het baie by haar geleer, het Mahlangu aangevoer.” Wys jou hoe min weet hy as hy by haar geleer het.

Johan ·

Is weg by een departement agv ongeruimdhede dan word hy ‘herontplooi’ by ‘n ander om sy strooptogte voort te sit. Dis skokkend waarmee hierdie mense wegkom! En dit in die OB se kantoor, wat veronderstel is om te dien en beskerm.

Kokerboom ·

Krummels met politieke konneksiesin hoë posisies wat hul nie verdien. Die praktyk moet nou stopgesit word

Maritza ·

Hulle moes die poste vul met hulle “brothers” of hulle nou bekwaam is of nie.

domheks ·

Is dit Busisiwe Mkhwebane wat die man aangestel het? Dan moet sy mos verklaar hoekom hy nie die nodige veiligheidsklaring gehad nie! Dit wys maar net weer baantjies vir boeties. Dan is sy nog meer onbevoeg as wat ek gedink het!

Manie ·

Confucius say: If you think you are the smartest person in the room, you are in the wrong room.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.