Hof gee munisipaliteit drie weke om rioolstorting te stop

Komatiepoort, riool, water, hooggeregshof

Een van die talle rioollekke in Komatipoort. Dié lek is afgeneem in Rissikstraat. (Foto: Verskaf)

Die Nkomazi-munisipaliteit in Mpumalanga het nie net sy inwoners gefaal nie, maar is ook direk daarvoor verantwoordelik dat rou riool die Krokodilrivier instroom.

Só het regter Lindiwe Vukeya Vrydag in die hooggeregshof in Mbombela beslis nadat ʼn organisasie vrywilligers die hof genader het oor die munisipaliteit wat sy grondwetlike pligte versuim.

Die rioolstorting, wat ook al in 2019 onder die aandag van die Menseregtekommissie gebring is, raak inwoners in toerisme- en residensiële gebiede soos Marloth Park, Komatipoort en die Krugerwildtuin, waar dit naby die grens van Mosambiek verbyvloei.

Die Komatipoort Despondent Residents Association, ʼn groep vrywilligers bestaande uit sowat 50 inwoners, het die aansoek gebring teen die Nkomazi-munisipaliteit. Die groep, wat verteenwoordig is deur adv. Danie Wijnbeek en Vidette Roux, het ʼn hofbevel gevra wat die munisipaliteit sal dwing om die rioolvloei te stop en skoon drinkwater aan inwoners te verskaf.

Sy het gevolglik bevind dat die munisipaliteit asook die Ehlanzeni-distriksmunisipaliteit die rioollekkasie moet herstel en sodoende skoon drinkwater lewer.

Verder moet die twee munisipaliteite ook binne 21 dae nadat die uitspraak gelewer is, die vloei van riool na die Krokodilrivier staak.

Die munisipale bestuurder moet ook binne dieselfde tydperk verslag aan die hof doen oor die stappe wat gedoen is om die rioolprobleem op te los.

Die hof het ook die groep se versoek, om hul eie kenner vir 12 weke aan te stel om ʼn volledige verslag oor die rioolvlakke in die rivier op te stel, toegestaan. Die Nkomazi-munisipaliteit moet die kenner se rekening betaal en die verslag moet ook aan die hof voorgelê word.

Sou die munisipaliteit versuim om aan bogenoemde bevel gehoor te gee, sal Xolani Mabila, Nkomazi se munisipale bestuurder, tot 90 dae tronkstraf gevonnis word.

Lewende visse in kraanwater

Die hof het gehoor die probleem was in die verlede al so erg dat sommige inwoners lewende visse in hul kraanwater ontdek het. Die munisipale water het ook met die verloop van tyd van kleur verander en al hoe meer gevalle van kroniese diarree is aangemeld.

Die groep het aangevoer dié toedrag van sake tas mense se reg op waardigheid aan en misken ook hul grondwetlike reg op ʼn veilige en skoon omgewing.

Daarbenewens het die munisipaliteit se inwoners voortdurend wateronderbrekings ervaar. Dit het inwoners genoop om water te bedel by diegene wat boorgate het, want die munisipaliteit kon nie noodwater voorsien deur byvoorbeeld tenkwaens uit te stuur nie.

Massiewe rioollekke is orals te sien in Komatipoort. Hierdie spesifieke lek is afgeneem in Impalastraat. (Foto: Verskaf)

Busisiwe Shiba en Mandla Msibi, die provinsiale LUR’e vir onderskeidelik landbou, landelike ontwikkeling, grond en omgewingsake, en samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), asook Senzo Mchunu en Thembi Nkadimeng, die ministers van onderskeidelik water en sanitasie en Cogta, was saam met die Nkomazi-munisipaliteit die ander respondente in die saak.

Slegs die munisipaliteit, sy bestuurder en Mchunu het die groep inwoners se aansoek teengestaan.

Vukeya het in haar uitspraak bevind laasgenoemde se redes dat die saak nie aangehoor word nie, is niks meer as ʼn flou gegryp na strooihalms nie. Veral die munisipaliteit en sy bestuurder het daarop gehamer dat die inwoners se aansoek nie voldoen aan die reëls van die hof nie en dat hulle nog minder geregtelik bevoeg is om die aansoek voor die hof te bring.

“Die respondente het hierdeur nie aan die ware meriete van die saak – die verskaffing van skoon, drinkbare water aan die inwoners van Komatipoort – aandag gegee nie. In wese word die aansoek dus onbestrede en hoef ek nou net vas te stel of die aansoekers ʼn sterk saak gestel het vir die toestaan van die bevel,” het Vukeya gesê.

Sy het verder bevind dat die groep inwoners op ʼn ewewig van belange bewys het dat hul grondwetlike regte vertrap word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

JohanR ·

Dis sleg! Nou sal die Die Nkomazi-munisipaliteit ‘n dag se werk moet doen. Die eerste keer in 30 jaar dat daar ‘n dag se werk gaan gedoen word. Wonder of die liggaam wat al vir 30 jaar op ‘n stoel sit, dit sal kan uithou!

SjN ·

Hoekom nog grasie gee van 21 dae, dit gaan al 30 jaar so aan, dit moes onmiddelik van krag wees.

Jeanette ·

Gaan my verstand te bowe hulle vorder erfbelasting, vullisverwydering fooie en wat nog nie alles in nie, wat word van al die geld? Toemaar ons almal weet maar dis ‘n skande dat ‘n munisipaliteit deur ‘n hof gedwing moet word om sy werk te doen waarvoor daar betaal word. Sies ek wonder of die regering nie skaam kry om te sien hoe het hulle die Suid Afrikaners geveil nie.

domheks ·

Binnekort versmoor ons in die bollie soos wat cANCer onbevoeg is!

Jaco ·

Vreemd dat al dié swak munisipale dienslewering omtrent altyd in ANC-beheerde munisipaliteite plaasvind. Vreemd, want die ANC is dan so hoogheilig en so vol human rights. Probleem-munisipaliteite moet mos eerder dié wees waar “die rassistiese DA” in beheer is. Daar gaan dit egter meestal goed. Iets maak nie sin nie.

Henker ·

Enige munisipaliteit wat of met n “ê” of n “M” begin moet jy weet, gaan ten gronde. Lekker erfbelasting gaan net na n klomp êmployees wat niks doen daarvoor, se bankrekenings.

Christine ·

Wragtig hierdie spul het GEEN skaamte nie
Hulle gee vir NIKS EN NIEMAND om nie

koos10 ·

Wag so bietjie. Hulle sal seer sekerlik appeleer teen die uitspraak. Maar indien nie, wil ek graag sien hoe net een in die tronk beland, as die uitspraak nie nagekom word nie. Dit gebeur net nie met die kaders nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.