Hof hoor Eskom se appèl aan oor beurtkrag-kwytskelding

(Foto: Maroela Media)

Die Pretoriase hooggeregshof hoor Woensdag Eskom se appèl aan teen ʼn uitspraak oor beurtkrag wat laat verlede jaar gelewer is.

Dié uitspraak het gelui dat beurtkrag inbreuk maak op Suid-Afrikaners se basiese regte en die hof het die minister van elektrisiteit – en verskeie ander departemente – beveel om te verseker dat ononderbroke kragvoorsiening vir onder meer openbare skole, hospitale en die polisie verseker word.

Eskom, die president en die minister van elektrisiteit wil spesifiek appèl aanteken op gedeeltes van die uitspraak wat ten gunste van ActionSA beslis het dat hospitale, skole en polisiestasies van deurlopende kragonderbrekings vrygestel moet word, omdat die uitspraak volgens hulle “te vaag” is.

“In plaas daarvan om die bekommernisse wat deur die hofuitspraak geopper is te hanteer – waaronder dat beurtkrag inbreuk maak op die basiese grondwetlike regte van Suid-Afrikaners – en om die kwesbaarste mense teen die kragkrisis te beskerm deur skole, polisiestasies en hospitale vry van beurtkrag te stel, het die president, die minister en Eskom eerder besluit om die belastingbetaler se geld te bestee om teen die uitspraak te appelleer,” het Herman Mashaba, president van ActionSA, vroeër gesê.

Volgens Mashaba werk polisiestasies se telefoonlyne nie tydens beurtkrag nie, hospitale versuim om siek pasiënte te versorg wanneer die ligte afgaan en studies by skole word onderbreek. Die regering voer egter in die appèlaansoek aan daar is “onvoldoende bewyse” hiervoor.

Mashaba sal Woensdag saam met sy Gautengse premierskandidaat, Funzi Ngobeni, en ActionSA Team Fix South Africa se lid vir minerale hulpbronne en energie, Mpho Madisha, die verhoor bywoon.

“ActionSA se prokureurs sal die appèl deur Eskom en die Suid-Afrikaanse regering heftig teenstaan. Ons glo die uitspraak is in die beste belang van Suid-Afrikaners,” het Mashaba Dinsdag gesê. “Daar is goeie bewyse dat gemeenskappe reg oor Suid-Afrika negatief geraak word deur beurtkrag. In die 17 jaar sedert beurtkrag vir die eerste keer in 2007 ingestel is, het die regerende party nog geen stappe gedoen om die kragkrisis te takel nie. ActionSA sal gevolglik aksie afdwing in die verband.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jannie ·

Ek wonder wie die regerende party na hierdie verkiesing gaan wees.
Sonder om te negatief te klink, maar ek het nie veel hoop dit sal beter gaan nie.

etienne ·

@ Jannie. ja as die koalisie regering kan oorneem, sal dit nie die 30ste Mei alles honky dory wees nie. dit het 30 jaar geneem om die land tot in die afgrond te regeer. Dit gaan meer as dit vat om alles weer reg te kry, dalk nie in my lewe nie, maar my kinders en kleinkinders sal die vrugte pluk.

Amelia ·

Janie kan amper waarborg steeds anc sal nie maklik weer beter gaan nie

hendrik ·

Ja beslis dit het am per 300 jaar gevat om die land op te Bou tot begin 94. Dit is in 30 jaar afgebreek tot op die grond. So dit Sal beslis nie in ons leeftyd of kinders of Klein of agter kleinkinders se leef tyd wees nie miskien so net na die jaar vreugde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.