Beurtkrag ‘ongrondwetlik’, beslis hof

(Argieffoto: GCIS)

Die Noord-Gautengse hooggeregshof het Vrydag beslis dat beurtkrag ʼn gevolg van die regering se mislukkings is en dit ongrondwetlik verklaar omdat dit inbreuk maak op Suid-Afrikaners se basiese regte.

Hoewel die reg op elektrisiteit nie uitdruklik in die Grondwet vervat word nie, het die hof in sy uitspraak gesê die voortslepende gebrek aan krag het wel ʼn direkte impak op ander regte soos die reg op gesondheidsorg, die reg op onderwys, en die reg op ʼn veilige omgewing.

Gevolglik het die hof dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit, opdrag gegee om hospitale, skole en polisiestasies van beurtkrag vry te stel.

“Die minister moet alle redelike stappe nie later nie as 31 Januarie 2024 doen, of dit in samewerking met Eskom en ander staatsinstansies is, al dan nie, om te verseker dat daar genoegsame opwekkingskapasiteit is om te verhoed dat hierdie dienste beurtkrag kry,” lui die uitspraak.

Pres. Cyril Ramaphosa het laat Vrydag gesê die regering en al die betrokke departemente het kennis van die uitspraak geneem en dit bestudeer sodat die volgende stappe binnekort aangekondig kan word.

ActionSA, een van die veelvuldige applikante in die saak teen die regering, het die uitspraak verwelkom en sê dit is ʼn oorwinning vir alle Suid-Afrikaners.

“Die uitspraak help gemeenskappe reg oor die land wat gereeld negatief geraak word deur polisiestasies wat nie telefonies bereik kan word nie, of hospitale wat nie vir sieklikes kan sorg sonder krag nie. Hierdie gemeenskappe kan nou verseker wees dat hul basiese regte deur die Grondwet gewaarborg word,” sê Michael Beaumont, ActionSA se nasionale voorsitter.

Die DA, ook ʼn applikant in die saak, sê die uitspraak beklemtoon presies hoe die regering en die regerende party die land gefaal het.

“Die uitspraak lê die skuld van die ANC bloot en beklemtoon dat staatskaping, wanbestuur en kaderontplooiing deur die regerende party die hoofoorsake van ons kragkrisis is,” sê Kevin Mileham, die DA se woordvoerder oor energie.

“Die hof se beslissing, hoewel moontlik onafdwingbaar weens die erns van die krisis, is ʼn klinkende boodskap dat die ANC se optrede gelei het tot ʼn skending van burgerregte.”

Mileham sê dit is baie moontlik dat die regering nie heeltemal gehoor aan die uitspraak sal kan gee nie, aangesien hy nie in staat is om onmiddellike of langtermynoplossings vir beurtkrag te bied nie.

“Nietemin dien hierdie oomblik as ʼn bewys wat die impak is wanneer druk deur opposisiepartye en burgerregtegroepe op die regering uitgeoefen word om hom aanspreeklik te hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Di ·

DIT gaan nie gebeur nie! Hulle het GEEN IDEE HOE om dit te bewerkstellig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.