Hof sê gay-uitspraak is ‘geensins onduidelik’

Die hooggeregshof in Pretoria. Foto: Maroela Media

Die hooggeregshof in Pretoria het Vrydag beslis daar is geen onduidelikheid oor sy uitspraak dat die NG Kerk sy standpunte oor verhoudings van mense van dieselfde geslag moet wysig nie.

Dit kom nadat die alliansie vir die verdediging van die onafhanklikheid van kerke in Suid-Afrika (Adacsa) ʼn aansoek by die hooggeregshof ingedien het waarin hy vra vir meer duidelikheid oor die regters se bevinding vroeër vanjaar teen die NG Kerk.

Die hooggeregshof het in Maart bevind die NG Kerk moet sy standpunte oor verhoudings van mense van dieselfde geslag wysig. Die NG Kerk se algemene sinode het in 2015 besluit kerke kan self besluit of hulle gay verhoudings erken, gay pare in die kerk mag trou en of hulle gay predikante wil aanstel. Die sinodebesluit is egter in 2016 tydens ʼn spesiale sitting vervang. Die hof het egter in Maart gelas dat die besluit van 2016 onwettig en ongeldig is.

Adacsa het gevolglik ʼn aansoek by die hof ingedien waarin hy aangevoer het dit is onduidelik of die kerk se 2016-besluit weens prosedurele foute tersyde gestel is, en of die hof ook bevind het die besluit was ʼn skending van die reg op gelykheid en ander grondwetlike regte.

Dr. Frits Gaum, gewese redakteur van Kerkbode, en die res van die oorspronklike applikante in die saak het dié aansoek teengestaan.

In sy hofstukke verwys Adacsa na ʼn artikel van die grondwetkenner prof. Pierre de Vos waarin hy skryf ʼn gedeelte van die uitspraak wat verband hou met konstitusionele kwessies kan moontlik net ʼn mening wees. Dit is dalk nie noodsaaklik vir die besluit nie en dus nie bindend op ander howe nie.

Michael Swain, uitvoerende hoof van Freedom of Religion South Africa (FOR SA), sê die hof het Adacsa se aansoek van die hand gewys op grond daarvan dat die alliansie in die oorspronklike hofverrigtinge as ʼn vriend van die hof toegelaat is en dus geen wetlike reg het om dié aansoek te bring nie.

Volgens Swain het een van die regters gesê daar is geen dubbelsinnigheid in die hof se vroeëre uitspraak nie en dat “ʼn mens tussen die lyne kan lees dat die hof se uitspraak ook op grondwetlike gronde gebaseer was”.

Swain sê die moontlikheid bestaan dat Adacsa later ʼn aansoek om verlof tot appèl kan indien. “Die hof se betrokkenheid by wat eintlik ʼn leerstellige kwessie is, naamlik of die kerk gedwing moet word om homoseksuele persone toe te laat om leierskapsrolle te beklee, asook om huwelike tussen mense van dieselfde geslag te bevestig, bly steeds ʼn kwessie tot ernstige kommer en stel ʼn gevaarlike regspresedent,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.