Hof stel SAUK se veiligheidstender van R185 m. tersyde

(Argieffoto: Karen Sandison/ANA)

Die Johannesburgse hooggeregshof het die SAUK vandeesweek nie een keer nie maar twee keer op sy neus laat kyk oor die uitsaaier se destydse aanstelling (ten duurste) van ’n sekerheidsmaatskappy.

Die hooggeregshof het Dinsdag die voormalige tussentydse raad van die SAUK se toekenning van ’n tender van meer as R185 miljoen aan die sekerheidsmaatskappy Mafoko Security Patrols hersien en tersyde gestel.

Die hooggeregshof het ook die voormalige tussentydse raad van die SAUK se aansoek om ’n verslag van die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) te hersien en tersyde te stel, van die hand gewys.

Die SOE het in dié verslag aanbeveel dat die raadslede van die uitsaaier misdadig verklaar word.

Luidens die verslag het die SAUK se nou voormalige tussentydse raad destyds nié net die sekuriteitskontrak onreëlmatig aan Mafoko toegeken nie, maar ook versuim om sy fidusiêre pligte in daardie opsig na te kom en om in belang van die SAUK op te tree.

Mafoko Security Patrols is in 2017 ’n tender ten bedrae van R185 519 425,61 toegeken om sekuriteit oor ’n tydperk van vyf jaar by die SAUK se kantore te verskaf. Dít terwyl Mjayeli Security Services dieselfde diens vir sowat R2,3 miljoen minder kon lewer en die betrokke bodkomitees aanbeveel het dat Mafoko Security Patrols nié aangestel word nie.

Drie tenderkomitees het destyds aanbeveel dat Mjayeli Security aangestel word. Die aanbevelings het egter op dowe ore geval.

Mafoko Security Patrols moet nou ingevolge die hooggeregshof se uitspraak binne 30 dae ’n geouditeerde staat verskaf van al die uitgawes wat die maatskappy tydens sy destydse aanstelling aangegaan het sowel as sy inkomste en die netto wins wat die maatskappy sou verdien het by verstryking van die kontrak.

Die hooggeregshof het ook die SAUK gelas om ’n onafhanklike geouditeerde verifikasie binne 60 dae te verkry. Die hof sal daarna bepaal hoeveel geld Mafoko aan die SAUK óf die SOE moet terugbetaal.

Adv. Andy Mothibi, hoof van die SOE, het albei uitsprake verwelkom.

“Dit is belangrike uitsprake met betrekking tot gevolgebestuur en aanspreeklikheid van die rekenpligtige owerheid (raad van direkteure).

“Die SOE beklemtoon altyd dat almal wat betrokke is by verliese by staatsinstellings tot verantwoording geroep word, ongeag hul vlak in die staatsinstellings, insluitend lede van die rekenpligtige owerheid.

“Partye in die private sektor en die betrokke maatskappye moet ook verantwoordelik gehou word en gevolge aanvaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Barney ·

Niks sal terug betaal word nie – daardie geld is lankal spandeer

Amelia ·

En wie betaal dit alweer publiek maar kla oor r278 vir tv lisensie dink was gister

Oosieoos ·

Kla al die vorige raadslede aan en verhaal die geld van hulle dis mos bedrog

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.