‘Hofstukke wys US se houding jeens Afrikaans’

afrikaans-sal-bly

Foto: Stellenbosch Lente/Facebook.

Die bestuur van die Universiteit Stellenbosch (US) meen skynbaar dat die kwessie van die universiteit se taalbeleid, meer spesifiek ten opsigte van Afrikaans, onbenullig en onbeduidend is. Dié opvatting blyk in nuwe hofstukke wat ingedien is in antwoord op die DA en StudentePlein se hofaansoek teen die besluit om weg te doen met Afrikaanse onderrig.

“Die US het met die uitbreking van die Covid-19-pandemie oor sy voete geval om die pandemie as ʼn verskoning te gebruik om weg te doen met Afrikaans,” sê die DA se dr. Leon Schreiber, met verwysing na die stukke wat ingedien is as deel van die aansoek vir die rekords van al die vergaderings oor die taalkwessie.

Schreiber verwys onder meer na die US se Departement van Afrikaans en Nederlands wat kapsie gemaak het teen die afskaffing van Afrikaanse leermateriaal en die besluit wat ʼn petisie as “onnodig, oneties en onverdedigbaar” bestempel het.

Luidens die hofstukke het die departement sy kommer oor die afwyking van die taalbeleid te kenne gegee en aangevoer dit “ondermyn daadwerklike pogings om die universiteit as ʼn veeltalige instansie te vestig”.

“Uit die hofrekords wat aan die DA beskikbaar gemaak is, blyk dit ook dat die rektor, prof. Wim de Villiers, probeer het om die departement te dwing om hierdie klagte terug te trek, eerder as om aandag te gee aan die besware wat daarin geopper word,” sê Schreiber.

Die hofdokumente gee ʼn aanduiding van die binnewerkinge én die houding wat die US ingeneem het toe die taalkwessie bespreek is, sê hy. Volgens Schreiber dui die hofstukke daarop dat die bestuur die afwyking van die taalbeleid boonop nie as ʼn prioriteit beskou nie.

Prof. Deresh Ramjugernath, viserektor van leer en onderrig, sê onder meer in sy beëdigde verklaring wat by die hof ingedien is: “Wat betref die enormiteit van die omvang en gevolge van die pandemie en die gevolglike uitdagings vir die universiteit, is die minimale, beperkte kwessies wat die applikante in hierdie aansoek opper, met respek, eintlik onbenullig.”

Schreiber sê vir die DA is die reg tot moedertaalonderrig, soos in ons land se Grondwet verskans, allermins “onbeduidend” en om hierdie rede sleep die DA en Studenteplein die US hof toe oor sy “misbruik van die Covid-19-pandemie om op ongrondwetlike en onregmatige wyse weg te doen met die vereiste om materiaal en die meeste (aanlyn) lesings ook in Afrikaans aan te bied” volgens fakulteite se taalimplementeringsplanne.

In die aansoek vra die organisasies die hof vir ʼn bevel wat die US sal dwing “om sy eie taalbeleid toe te pas” en die universiteit te verhoed om weg te doen met Afrikaanse onderrig.

Schreiber sê die universiteit het geen verweer in die saak nie en dat die US se argument neerkom op ʼn erkenning dat die universiteit afgewyk het van sy eie taalimplementeringsplanne, maar dat Afrikaans so “onbeduidend” vir die US is, dat dit nie eintlik saak maak nie.

Hy sê voorts die dekaan van Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, prof. Anthony Leysens, erken luidens die hofdokumente prontuit dat “besware oor taal nie ʼn prioriteit was nie”.

Schreiber sê pleks daarvan dat die taalkwessie van grondvlak af boontoe deurgevoer is, het dit op topvlak by die universiteit begin en is dit van daar deurgedruk. Die US is ook deeglik bewus dat hy nie die regte proses gevolg het nie, maar hou vol dit is so onbeduidend dat die hof dit oor die hoof moet sien.

Die saak word in Augustus aangehoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jr ·

Moet erg wees as n minderheid taal jou so slaapelose nagte en bewerasies kan gee. Om dit net te hoor laat julle bewe.

Marius ·

Die feite is: Daar sou nie ‘n US gewees het as dit nie was vir blanke Afrikaans sprekende burgers nie. Die sa grondwet bepaal dat jy die reg het om onderrig in ‘n taal van keuse te ontvang. Die US is dus nie in staat om die basiese reg tov taal onderrig en erkenning daarvan na te kom nie en moet dan eerder sy deure toemaak.

Die wat nie van die taalbeleid hou nie moet dalk eerder die universiteite ondersteun wat nog hul taal van voorkeur aanbied.

Die US gaan nog vinniger agteruitgaan en tot niet gaan as hul nie geld inkry nie want hul kan nie op die staat vertrou om hul finansieël te ondersteun nie.

Misky ·

Ek kan nie genoeg met jou saamstem nie Marius, goed gestel.

Toy ·

Die taal is vir hulle verkeerd, maar die geld reg, dit is absoluut belaglik, dit is diskriminasie.

annie ·

Prof De resh Ram ju ger nath… Waar is die neef gebore? Skies dat ek dit so stadig uitspreek. Ek’s hier van Over de Vaal se wêreld. Voor ons ‘n saak bekyk dan beloer ons maar eers mekaar se agtergronde. Dan weet ons hoe om mekaar se te takel. Wat ek wel kan aflei is dat die se professor ‘n hogere man moet wees. Ramme het by on se boeregemeenskap ‘n groot sê in alles. So prof, laat ons nou daar begin en verduidelik asseblief. Gebruik maar Eng lish. Van eng weet ons boere se veel genoeg.

Nici ·

Jammer die Afrikaners het nie al 20 jaar gelede wakker geword en oogestaan toe al die dinge begin het en voor die ergste opportuniste oorgeneem het nie. Mense sal nou hard moet baklei en terselfdetyd ‘n alternatiewe instansie bou. Hul moet bewus gemaak word dat ons hul nie soveel nodig het as wat hul Afrikaner geld benodig nie. Hoop die US leiers kry bloedneus in die hof en eindig op om nerens in enige pos wat saakmaak, welkom te wees.

Swerwer ·

Ag asseblief, die rasse kwessie en taal kwessie kom nou al van die Kommunis aan bewind gekom het, en nie met Covid nie. Covid word maar net gebruik as ‘n Pion om te kry wat hul wil hê.
Net soos al hul tale afgedwing word moet die Afrikaner maar net eenvoudig saamstaan en hul eie Tersiere Instansie begin en die ander tale nie magtig nie maar slegs Afrikaans.

Jacques ·

Miskien moet die litigante wat die saak ten gunste van Afrikaans by die US in die SA howe aanvoer, die saak vanuit die Erfreg benader en die volle bedrag wat Jan H Marais geskenk het ter oprigting van ‘n Afrikaanse universiteit vir Afrikaanssprekendes in Stellenbosch met rente van die staat terugeis, omdat die bedoeling van die testateur deur die optrede van die verweerder geheel en al verydel word, en hulle gedrag strydig is met die beginsels van die erfreg wat voorkeur aan die bedoeling van die inhoud van die testateur in sy testament moet gee.

So gesien is die eiser (die boedel van Jan H Marais) geregtig op skadevergoeding en behoort bogenoemde bedrag met rente oorbetaal te word aan Akademia (die privaat universiteit) wat juis die bedoeling van hierdie testament tans ten volle uitvoer om reg te laat geskied aan die nalatenskap van ‘n man, wat met sy legaat sy gemeenskap wou dien.

Treurwilger ·

Dankie, Jacques, vir hierdie sinvolle kommentaar in behoorlike regstaal.
Ek kan nie verstáán waarom wat jy hier voorstel nie jare gelede al gedoen is nie.
Afrikaner-nageslagte gaan hierdie generasie slapgatte met reg verwyt vir dié onregpleging teenoor Afrikaans en Jan H Marais.

Papsak ·

Ek bly hulle het darem wakker geskrik om ons taal ook raak te sien hulle moet net ons kleur ook aanvaar ons aanvaar hulle taal en kleur nou ja doen met ons ook elke een het reg op sy taal Afrikaans bo ek n boer sal een dood gaan trots daarop

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.