Honde-eienaars in Wes-Kaap moet ligloop vir katgriep

(Foto: Mirkosajkov/Pixabay)

Die Wes-Kaap ervaar tans opnuut ʼn vlaag van katgriep-gevalle (canine parvovirus). Dit het klinieke, veeartsenykundiges en troeteldierskuiling genoop om troeteldiereienaars in die provinsie te vra om die nodige stappe te doen om hulle honde teen die siekte te beskerm.

Die Mdzananda-dierekliniek in Khayelitsha was die eerste om die Wes-Kaapse gemeenskap op sosialemediaplatforms te waarsku ná die kliniek ʼn toename in gevalle waargeneem het.

Dr. Guy Fyvie, veeartsenykundige adviseur by Hill’s Pet Nutrition, waarsku dat alhoewel die siekte tans nog net in sekere gebiede in die provinsie voorkom, kan dit maklik en vinnig verder versprei.

“Katgriep is ʼn hoogs aansteeklike siekte wat maklik van hond tot hond versprei deur direkte of indirekte kontak met ʼn siek hond se ontlasting. Besmette grond, klere, hande, skoene en selfs insekte soos vlieë kan ook die siekte oordra na ʼn troeteldier. Navorsing het al getoon dat selfs die wind kan help om die infeksie van katgriep te versprei.”

Susan Wishart, hoofbestuurder by die Mdzananda-dierekliniek, verduidelik daar is ʼn toename van katgriep-gevalle elke jaar hierdie tyd omdat die virus makliker in warm temperature oorleef.

“Sodra katgriep in die omgewing is, kan dit lank voortduur en daarom moet erwe, meubels, komberse en beddens deeglik met ʼn ontsmettingsmiddel soos F10 of bleikmiddel ontsmet word.”

Inentings is die enigste manier om katgriep te voorkom. Fyvie beveel aan dat hondjies vanaf ses weke oud hul eerste inenting moet ontvang, met nog twee inentings op nege en 12 weke onderskeidelik.

“As jou hond nie behoorlik ingeënt is nie en hulle in aanraking kom met ʼn dier wat met katgriep besmet is, loop hulle die risiko om die siekte op te doen.”

Die virus veroorsaak ernstige skade aan die dermwand van ʼn hond en verhoog die waarskynlikheid van ʼn sekondêre derminfeksie. Daar is geen geneesmiddel vir parvovirale gastroënteritis nie aangesien dit deur ʼn virus veroorsaak word.

ʼn Veearts kan die simptome slegs behandel met vloeistof- en elektrolietondersteuning deur ʼn drup, gekombineer met sterk teenbrakingmiddels en antibiotika.

As jou hond enige van die volgende simptome het, moet jy dadelik ʼn veearts besoek:

  • Verlies aan eetlus
  • Braking, diarree (dikwels bevat dit bloed en is die reuk ongewoon sleg)
  • Dowwe, glaserige oë

Fyvie verduidelik dat alhoewel sekere honderasse, soos Rottweilers, Duitse herdershonde en pitbull-terriërs meer vatbaar is vir katgriep, is die virus beslis nie rasspesifiek nie en troeteldiereienaars moet die waarskuwing ernstig opneem.

“Dit is ook belangrik om te weet dat katgriep ʼn inkubasietydperk van tien dae het en die simptome kom eers tien dae na blootstelling voor. Hou dus jou troeteldier fyn dop en as jy enige ongewone gedrag opmerk, moet jy onmiddellik ʼn veearts besoek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Barend ·

Hoekom worf dit katgriep genoem as dit niks met katte te doen het nie?

Karina ·

My veearts het destyds gesnoem dit is die soort griep wat katte gewoonlik kry, en as ‘n hond dit kry is dit baie ernstig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.