Honde snuffel vetplantboewe blitsig uit

(Foto: Verskaf)

Die wêreldwye vraag na versamelbare vetplante het oor die afgelope paar jaar drasties toegeneem. Dit beteken dat duisende bedreigde plantspesies onwettig deur stropers uit hul natuurlike habitat verwyder en verkoop word om in die onversadigbare vraag daarna te voorsien.

Die Trust vir Bedreigde Natuurlewe (EWT) het nou met ʼn projek begin om drie honde op te lei en hulle sterk reuksintuie in te span om die vetplantstropers uit te snuffel.

Suid-Afrika se vetplant Karoo-bioom, wat van Suider-Namibië tot in die Noord- en Wes-Kaap strek, is die tuiste van verskeie gesogte plantspesies en die streek word skerp deur plantstropers geteiken.

Dr. Carina Becker-du Toit, die wetenskaplike koördineerder vir plantstropery-reaksie, sê teen die einde van Junie vanjaar is daar beslag gelê op meer as een miljoen plante wat onwettig in Suid-Afrika geoes is.

“Dit is gelykstaande aan ongeveer 3 000 tot 6 000 plante per week, waarvan die meeste uit die Noord-Kaap se Namakwalandstreek uit kom.

“Kenners vermoed egter dat minder as 25% van die onwettige handel van bedreigde vetplantspesies deur wetstoepassingsbeamptes onderskep word, wat beteken dat meer as 1,5 miljoen plante die afgelope drie jaar onwettig uit hulle natuurlike habitat verwyder en verhandel is.”

(Foto: Verskaf)

Becker-du Toit meen dat nagenoeg 650 inheemse en endemiese plantgroepe – waarvan baie bedreig is –  hierdeur geraak word.

Verskillende soorte vetplante (insluitend Mesembryanthemum en koudeks) sowel as geofiete (bolspesies) in Suid-Afrika word weens hul aanloklike eienskappe en skaarsheid begeer.

“Die knopie, wat tot die genus Conophytum en die vygiefamilie Aizoacea behoort, word veral hierdeur geraak, wat die meeste van die spesies in hierdie genus tot kritiek bedreigde vlakke opstoot.”

Becker-du Toit meen dat die uitdaging met die onwettige oes en handel van vetplante een van die grootste biodiversiteit-uitdagings is wat tans deur die land in die gesig gestaar word.

“Die vetplant-Karoo is ʼn internasionale biodiversiteit-brandpunt en Suid-Afrika het ʼn  sleutelverantwoordelikheid om hierdie biodiversiteit – wat nêrens anders in die wêreld gevind word nie – te beskerm.”

In Julie 2021 het die departement van bosbou, visserye en omgewing (DFFE) met ondersteuning van die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (Sanbi) en die World Wide Fund for Nature (WWF) in Suid-Afrika, tesame met ʼn diverse netwerk van staatsdepartemente, bewaringsowerhede, NRO’s en plaaslike gemeenskappe begin planne beraam om hierdie probleem hok te slaan.

“Teen Februarie verlede jaar is die nasionale reaksiestrategie en aksieplan ontwikkel wat deur die ministers en lede van die uitvoerende radevergadering (Minmec) goedgekeur is vir implementering.

“Sanbi is een van die hoofrolspelers in die inwerkingstelling van die reaksieplan en werk nou saam met wetstoepassing om gekonfiskeerde plante en ander kritieke inligting wat vir kriminele ondersoeke benodig word, te identifiseer.”

Dit is gedurende dieselfde tydperk dat die EWT ʼn projek van stapel gestuur het om drie honde op te lei om vetplante uit te snuffel.

Hierdie projek het perfek by die doelwitte van die nasionale strategie gepas en bied een van die potensiële hulpmiddels in die gereedskapstel om die stroperyprobleem te help bekamp.

Becker-du Toit fasiliteer die samewerking van die groepe wat uit die EWT, polisie, CapeNature en Sanbi bestaan.

“Die samewerking van hierdie vier organisasies het die ontplooiing van die EWT-honde-eenheid moontlik gemaak om vetplante by sleutelplekke op te spoor.

“Dit is ʼn eerste vir Suid-Afrika en sover ons weet, is hierdie honde die enigste snuffelhonde ter wêreld wat spesifiek gebruik word om plantstropery te help bekamp.”

(Foto: Verskaf)

Die hondehanteerders, Shadi Henrico en Esther Matthew, sê hulle is uiters tevrede met hoe goed die honde presteer.

“Die gebruik van snuffelhonde het groot potensiaal om te help met die beskerming van ons land se biodiversiteit. Die honde word tans oor die Wes- en Noord-Kaapprovinsies op strategiese plekke ontplooi as deel van ʼn loodsstudie om hul doeltreffendheid te bepaal,” sê Henrico.

Becker-du Toit sê dit is ʼn opwindende projek wat baie belowende resultate toon.

“Dit is ʼn eerste vir Suid-Afrika en dit is ʼn wonderlike leergeleentheid vir alle betrokkenes.”

Die EWT se vetplantopsporingsprojek word deur The Mohamed bin Zayed Species Conservation Fund befonds, met operasionele ondersteuning wat deur CapeNature, Sanbi en die polisie verskaf word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Manie ·

Gaan snuffel gerus Saterdae en Sondae by Milnerton en Muizenberg se opelug markte rond.

Karoo ·

Baie baie dankie, ons velde word van baie raar plante gestroop, meeste wanneer gevind soos nou, kan nie weer herplant word nie. Kom na die Vetplantjie Fees op Carlitsdorp elke jaar September, dan leer jy wat is algemene plantjies wat baie mense vrylik verkoop en wat is “eksoties” wat die mense gaan uitgrawe en plaas werkers “stout” maak vir ‘n paar rand.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.