Honderde spoedboetes in Krugerwildtuin opgelê

(Argieffoto: Twitter)

Beamptes van SANParke en wetstoepassers het in Desember altesaam 796 spoedboetes aan werkers asook aan besoekers aan die Krugerwildtuin uitgereik.

Dié park wat nagenoeg 2 miljoen hektaar beslaan, voer ʼn opdraande stryd om besoekers sover te kry om by die spoedbeperking te hou. Dit is boonop ʼn bykans onbegonne taak om elke verkeersoortreding te polisieer, sê beamptes.

Isaac Phaahla, woordvoerder van SANParke, het gesê ten spyte van hul geen genade-aanslag teenoor oortreders, bly spoed ʼn probleem.

(Foto: Shaun Parsons/Facebook)

Maroela Media het die afgelope ruk verskeie kere berig oor besoekers wat hulle nie aan die wildtuin se reëls of spoedgrense steur nie. In een voorval is drie rooibokke verlede maand naby die Tshokwane-piekniekplek doodgery, vermoedelik deur ʼn motoris wat te vinnig gery het.

In November is ʼn Switserse toeris dood nadat hy aanvanklik ernstig beseer is toe ʼn kameelperd tydens ʼn botsing in die wildtuin op sy voertuig beland het. Die kameelperd het glo voor ʼn minibus met 13 dagbesoekers wat na Letaba op pad was, ingeloop. Die minibus se bestuurder kon na bewering nie ʼn botsing met die dier vermy nie en die kameelperd het op die gehuurde safarivoertuig te lande gekom. Die kameelperd is op die toneel dood en die voorval het groot opslae gemaak.

(Foto: Sanparke)

In nóg ʼn voorval vroeër vandeesmaand het ʼn groep besoekers uit hul motors geklim om na ʼn trop leeus in die omgewing van die Krokodilbrug te kyk. Wildbewaarders moes hulle beveel om terug te klim.

Spoed bly egter een van die grooste kopsere, sê Phaahla.

Die wildtuin het onlangs nuut gekalibreerde spoedkameras geïnstalleer en die meeste oortreders is danksy dié kameras uitgewys.

Altesaam 398 boetes – die helfte van die boetes wat onlangs uitgereik is – is aan werkers opgelê. Hulle word toegelaat om tot 65 km/h in die wildtuin te ry.

(Foto: Twitter)

Werkers van SANParke wat vir spoedoortredings gevang word, word nie net boetes opgelê nie, maar interne tugstappe word ook teen hulle ingestel.

Toeriste is ʼn totaal van 398 boetes opgelê.

“Ons verstaan nie hoekom mense aanhou om die spoedgrens te oortree nie, jy is tog daar om die omgewing te geniet,” het Phaahla gesê.

Die grootste brandpunte vir spoedoortredings is die hoofroetes. Dit sluit in die pad van Phalaborwa in die rigting van Shingwedzi, die Skukuza-pad tussen die Paul Kruger-hek en die Skukuza-ruskamp, asook die hoofroete na die Satara-ruskamp.

SANParke het weer eens by besoekers gepleit om die reëls te gehoorsaam, en sê spoed is nie net dodelik vir die diere nie, maar kan ook lewensgevaarlik vir motoriste wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ronel ·

Ek kan nie verstaan hoekom mense jaag in die KNP nie. Ken jou afstand en tyd wat jy nodig het om betyds by die hek te kan uitgaan. Respekteer die wette. (Ja ek weet wette is mos nie vir almal nie) Geniet die wild en natuurskoon. En ook laat ander toe om die diere te sien. Moenie soos ‘n mal mens oor die hele pad stop nie.

Gerhard ·

Ek was nou desember in die park , punda , shumiwini , mopani en letaba . Die spoedoortreders is mense wat die park as dagbesoekers gebruik , inkom by messina of louis trichard en dan suid ry phalaborwa of orpen toe . Dis nou in die noorde . Ek het hoeveel karre met sleepwaens gesien wat def nie dagbesoekers is nie , jy kan sien dis meubels , grootmaat kos etc wat vervoer word deur die park . En dan jaag hulle vir tyd . Ekt hoeveel videos geneem op my dashcam , asb dis nie rocket science nie dis wat aangaan . Die park se hekke moet kyk na hulle beleid .

marius ·

Geen genade ? Sluit die mense toe en konfiskeer hul voertuie . Dit sluit staatsvoertuie in ja . Dan sal dit ophou .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.