Honderde wêreldwyd uit hul FB-rekeninge geskop

(Skermgreep verskaf)

Honderde sosialemediagebruikers reg oor die wêreld is die afgelope paar weke onverwags uit hul rekeninge op Facebook geskop voordat hul gebruikersnaam onder raaiselagtige omstandighede na Lily Collins verander is.

Dit lyk ook of die kuberkrakers hieragter niemand ontsien nie. Sosialemediagebruikers van Suid-Afrika en Botswana tot so ver as Brittanje, Indië en die VSA moes die afgelope paar weke hul Facebookrekeninge aan ene Lily Collins afstaan.

’n Facebookgroep is sowat drie weke gelede vir slagoffers van die sogenaamde Lily Collins-kuberkraak opgestel. Die groep het tans 893 lede.

Honderde klagtes is ook elders op Facebook aangemeld.

Die meerderheid van die sosialemediagebruikers kon sedertdien nog nie weer toegang tot hul rekeninge verkry nie en het maar noodgedwonge nuwe rekeninge geskep, wat beteken hulle is jare se foto’s en herinneringe kwyt.

“Meer as 10 jaar se foto’s en herinneringe is net weg,” skryf een van die sosialemediagebruikers wat spook om toegang tot hul rekening te verkry.

Facebook word boonop daarvan beskuldig dat hy van min of geen hulp is nie sedert die sogenaamde Lily Collins-kuberkraak die lig gesien het.

Cynthia Suddes, ’n geleentheidsbeplanner van Germiston in die Oos-Rand, vertel aan Maroela Media dat sy Vrydag skielik toegang tot haar persoonlike sowel as haar onderneming se rekeninge op Facebook verloor het. Die onderskeie rekeninge bestaan al langer as 10 jaar.

(Skermgreep verskaf)

“Ek het op Facebook gegaan en gesien dat ek uitgeteken is. Ek sien toe ook dat my gebruikersnaam op Facebook dan nou Lily Collins is.

“Ek het dadelik probeer inteken en ’n kennisgewing ontvang dat my rekening gedeaktiveer is. Ek het ’n dispuut verklaar, maar Facebook het laat weet dat die besluit finaal is en dat my rekening toegemaak is.

“Ek het alles probeer, maar kon nie weer toegang tot my rekening kry nie. Ek het ook geen terugvoer of hulp van Facebook ontvang nie.”

Suddes sê dit is vir haar ongelooflik sleg dat sy toegang tot haar rekening op Facebook verloor het aangesien sy foto’s en herinneringe van haar oorlede man en broer daarop gestoor het. “Jy bou ook oor die jare baie vriende op en ek het dit alles verloor.”

Dit is nie in dié stadium duidelik hoe die kuberkrakers toegang tot die rekeninge van honderde sosialemediaverbruikers reg oor die wêreld verkry nie.

(Skermgreep verskaf)

Suddes kan nie onthou dat op enige verdagte advertensies of vreemde skakels geklik het voordat sy gekuberkraak is nie. “Ek aanvaar nie eers vriendskapversoeke van mense wat ek nie ken nie. Ek weet nie hoe het hulle toegang ontvang het nie.”

Sommige sosialemediagebruikers vermoed egter dit was die skakel na sagteware vir ’n vals Chat GPT-program en uitbreiding waarop hulle geklik het, wat eindelik kuberkrakers toegang tot hul rekeninge op Facebook gegee het.

Die publikasie PC World berig kuberkrakers maak gebruik van vals ChatGPT-uitbreidings om sosialemediarekeninge te infiltreer en gebruikers uit te sluit. Die vals uitbreiding gebruik glo die Chrome-uitbreiding om aktiewe Facebook-koekies uit te snuffel en gesteelde data na die kuberkrakers se bediener te stuur.

Kuberkrakers teken dan in by Facebook voordat hulle die gebruikersnaam na “Lily Collins” verander.

Luidens dié berig word hierdie zombie-rekeninge gebruik om kwaadwillige advertensies en ekstremistiese propaganda te versprei.

Suddes wil mense van hierdie slenter in kennis stel, want sy self het nie daarvan geweet nie. “As ek daarvan geweet het, kon ek dalk my wagwoord gereeld verander het en my rekening beter beskerm het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.