Hoof van veiligheid probeer glo sy onskuld ‘koop’

(Argieffoto: Maroela Media)

Die Oos-Kaapse hoof van gemeenskapsveiligheid, Neil Naidoo, en twee sakemanne het Maandag in die hof verskyn nadat hulle glo probeer het om ondersoekbeamptes om te koop. Die verdagtes het glo gehoop dat die beamptes hul ondersoek na ʼn multimiljoenrand-polisietender waarby die beskuldigdes glo betrokke was, sou staak.

Naidoo en sy twee medebeskuldigdes, Kenny Govender en Matthew Pillay, het in die landdroshof in Oos-Londen verskyn, waar hulle teregstaan op aanklagte van korrupsie, diefstal en regsverydeling.

Dié drie het die betrokke ondersoekbeamptes glo met R3,5 miljoen probeer omkoop.

Sindisiwe Seboka, woordvoerder van die ondersoekdirektoraat (OD) van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê die aanvanklike ondersoek na die polisietender het betrekking op ʼn kontrak van R36 miljoen wat aan KJP Trading toegeken is om meubels aan verskeie kantore van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) oor die hele land heen te verskaf.

“Naidoo word daarvan beskuldig dat hy samesprekings tussen die ondersoekers en die twee sakemanne begin het om besonderhede in die ondersoek uit te stryk, of die ondersoek heeltemal te laat vaar,” sê Seboka.

Pillay en Govender het glo in Maart vanjaar ooreengekom om teen 5 April miljoene aan Naidoo oor te betaal, wat dan die geld aan die betrokke ondersoekbeamptes sou gee. Altesaam R1,8 miljoen is toe op 14 April aan Naidoo oorbetaal. Hy het na bewering R300 000 vir homself geneem en R1,5 miljoen aan die ondersoekbeamptes betaal. Die oorblywende bedrag sou in ʼn latere stadium oorbetaal word.

Naidoo en sy makkers was egter nie daarvan bewus dat die betrokke ondersoekbeamptes eintlik daar geplaas is om hul beweerde misdadige bedrywighede bloot te lê nie.

Die drie is die afgelope naweek in hegtenis geneem, waarna hulle in die hof verskyn het. Die beskuldigdes se borgtogverhoor is tot Dinsdag uitgestel.

Lt.genl. Nomthetheleli Mene, Oos-Kaapse polisiekommissaris, het die ondersoekspan geloof vir die werk wat hulle gedoen het wat tot die drie se inhegtenisneming gelei het.

“Diegene wat aanhou steel uit die geldkoffers van staatsinstellings, moet die gevolge van hul optrede die hoof bied. Dit is een van die gevalle wat sal dien om ander af te skrik en meer sal volg, solank daar oneerlike mense in ons samelewing is.”

Adv. Andrea Johnson, direkteur van die OD, het bygevoeg dat die OD daartoe verbind is om die NVG se ses maande lange prioriteitsplan om korrupsie te bekamp, in te stel.

“Elke saak sal ʼn duik in die groter skema van korrupsie begin maak. Die OD sal geen klip onaangeroer laat om te verseker dat diegene wat vir hierdie misdade verantwoordelik is, aanspreeklik gehou word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

JM ·

Land van diewe, leuenaars en moordenaars. Wanneer, indien ooit, gaan dit ophou?

Realis Thailand ·

Nooit,solank die anc aan bewind is en hulle gaan nog vir jare aan bewind bly al droom ons almal van n verkiesings verlies in 2024 vir die anc
Dit sal net n droom bly

Yvonne ·

Dankie vir die klompie wat nog integriteit het…doen so voort

christo ·

Die swendelaars raak so vinnig van die ‘ warm geld’ ontslae dat dit óf uitgeleef is óf so versprei is onder die gemors se gebroedsel dat dit onopspoorbaar is. Verder is hierdie amptenare in hoë poste waar hulle aanspraak op regsverteenwoordiging op die staat ( belastingbetalers) se onkoste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.