Hoogste weerwaarskuwing uitgereik vir KZN

(Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het ’n rooi vlak 10‑weerwaarskuwing vir dele van KwaZulu-Natal uitgereik met swaar reën wat verwag word en moontlik ernstige gevolge kan hê.

Volgens die weerdiens kan tot 200 mm reën in sekere streke verwag word en gegewe die kwesbaarheid van sekere gebiede weens verlede maand se oorstromings, word verwag dat dit ʼn ernstige uitwerking op die kusgebiede en noordoostelike dele van die provinsie kan hê.

Die vrees vir nog oorstromings bestaan aangesien die grond weens die onlangse swaar reën moontlik nog versadig kan wees. Wydverspreide oorstromings, modderstortings en skade aan eiendom en infrastruktuur is moontlik, aldus die weerdiens.

In die binneland van KwaZulu-Natal is ʼn geel vlak 4-waarskuwing uitgereik. Vloedwater en modderstortings is ook hier moontlik.

Verlede maand se verwoestende oorstromings in die provinsie het meer as 85 000 mense geraak. Die amptelike getalle wat tot dusver beskikbaar gestel is, wys dat altesame 448 mense in die oorstromings dood is, terwyl 50 beseer is en 88 steeds vermis word.

Meer as 27 000 huishoudings is deur die oorstromings geraak met sowat 8 500 huise wat heeltemal vernietig is en 13 500 wat gedeeltelik vernietig is. Byna 7 000 mense is weens die verwoesting dakloos gelaat.

Die koste wat die oorstromings aan openbare infrastruktuur aangerig het, word amptelik op R25 miljard geraam, met die grootste skade wat aan paaie, spoorlyne, brûe, behuising, water en elektrisiteit aangerig is.

Sihle Zikalala, premier van KwaZulu-Natal, het inwoners vroeër die week gerus gestel dat rampreaksiespanne in die provinsie ten volle voorbereid is vir enige verdere gebeurlikhede.

“Ons doen ʼn beroep op ons medeburgers om ag te slaan op die waarskuwing, veral diegene wat in gebiede woon waar oorstromings ʼn groot moontlikheid is,” sê hy.

“Die provinsie het skaars herstel van die onlangse oorstromings en baie gebiede en infrastruktuur is steeds kwesbaar. Ons moet nou alles moontlik doen om opvolgende rampe te vermy.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.