Hospitaal moet sluit oor POF se uitstaande miljoene

Die Sunshine-hospitaal in Actonville sê hy kan eenvoudig nie meer bekostig om sy deure oop te hou nie. (Foto: Facebook)

Die Sunshine-hospitaal in Actonville aan die Gautengse Oos-Rand gaan sy deure teen April vanjaar permanent sluit omdat die Padongelukkefonds (POF) weier om miljoene rande in uitstaande skuld aan die private hospitaal te betaal.

Werkers van die hospitaal is Maandag in kennis gestel dat hulle afgelê gaan word.

Die hospitaal, wat op enige gegewe tyd tussen 120 en 130 pasiënte per dag kon behandel, het reeds die meeste van sy pasiënte na ander hospitale oorgeplaas, sê Ken Ford, eienaar van die Sunshine-hospitaal.

In hierdie stadium word nog net vier pasiënte, vir wie geen ander heenkome in ʼn hospitaal nog gevind kon word nie, steeds by die fasiliteit behandel.

Die hospitaal is bekend daarvoor dat hy die “armstes van die armes” behandel het en as verwysingshospitaal vir sowat 135 staatshospitale landwyd gedien het wanneer hulle nie die nodige sorg aan pasiënte kon lewer nie.

“Die meeste van ons pasiënte is deur die staat hierheen verwys wanneer hulle om watter rede ook al – of dit nou ʼn gebrek aan dokters of toerusting is – nie ʼn pasiënt kon behandel nie. Ons het die afgelope 20 jaar op versoek van die staat POF-pasiënte behandel,” sê Ford.

“Ons doen dit omdat ons wil help; ons doen dit al 20 jaar lank. Sedert 25 Januarie het ons versoeke van 31 staatshospitale gekry om 66 pasiënte te behandel en ons moes elkeen van hulle wegwys. Ek weet nie waarheen hulle moet gaan of waar hulle nou behandeling gaan kry nie, maar ons kan hulle nie opneem nie.”

Ford sê hulle het die afgelope paar jaar alles moontlik gedoen om die hospitaal se deure oop te hou. Hulle sit nou met ʼn ten volle toegeruste maar leë hospitaal, terwyl duisende mense in Suid-Afrikaanse hospitale desperaat op behandeling wag.

“Die land kan nie bekostig om ʼn hospitaal te sluit nie. Ons praat hier van gesondheidsorg, ons praat van mense se lewens. Ons het ʼn diens gelewer wat niemand anders het nie. Nou gaan die staat selfs meer pasiënte hê,” sê hy.

“Dit is ʼn verskriklike situasie.”

Ford het personeel by die hospitaal Maandag self ingelig dat die hospitaal sy deure gaan sluit.

“Ek het amper in trane uitgebars, maar die personeel was wonderlik. Ons is ʼn geweldige nou span.

“Dit is dalk te min te laat, maar mense moet weet wat aangaan.

“Dit gaan nie meer oor ons nie. Daar is mense wat in hospitale sterf. Baie hospitale het geen krag of water nie, ons het albei. Ons het ʼn volledig bemande hospitaal wat nou leegstaan. Iets hieraan is baie verkeerd.”

Lang hofstryd

Die Sunshine-hospitaal is reeds geruime tyd in ʼn hofstryd met die POF gewikkel vir die betaling van miljoene rande vir die behandeling van pasiënte wat hoofsaaklik deur ander staatshospitale daarheen verwys is. Die hospitaal het ʼn jare lange ooreenkoms met die POF gehad om dié pasiënte te behandel.

Die POF het in Maart 2020, met die uitbreking van die Covid-19-pandemie, egter alle betalings aan die hospitaal sonder kennisgewing opgeskort. Onbetaalde (maar verwerkte) betalings het in daardie stadium sowat R396 miljoen beloop. Die hospitaal het heelwat later in die jaar eers bewus geword dat die POF, onder leiding van uitvoerende hoof Collins Letsoalo, ʼn forensiese ondersoek na die ooreenkoms met die Sunshine-hospitaal gelas het.

Die hospitaal het onderneem om alle inligting beskikbaar te stel om die afhandeling van dié ondersoek te versnel, maar steeds het geen betaling gevolg nie.

Die hospitaal het daarna ʼn dringende hofaansoek ingedien om die POF te verplig om die betalings te doen, waarna die POF ʼn skikkingsaanbod van bykans R37 miljoen gemaak en betaal het.

In Mei verlede jaar het die POF opnuut alle betalings opgeskort. ʼn Maand later het die hospitaal hom weer tot die hof gewend en gevra vir betaling van R301 miljoen (vir rekeninge wat verwerk maar onbetaald is).

Die aansoek was suksesvol en die hof het gelas dat die POF die hospitaal in paaiemente van ongeveer R45 miljoen per maand moet betaal. Die POF het onsuksesvol teen dié beslissing geappelleer. Die fonds het die appèlhof daarna gepetisioneer, waar sy aansoek ook van die hand gewys is. Die POF het hom daarna op die Konstitusionele Hof beroep, waar die saak nog hangende is.

Die fonds voer aan ʼn ondersoek deur die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) na die POF se geldsake verhoed hom om enige verdere betalings aan die hospitaal te doen. Pres. Cyril Ramaphosa het in Desember 2021 ʼn proklamasie goedgekeur ingevolge waarvan die SOE opdrag gekry het om alle bewerings van wanbestuur en korrupsie by die POF te ondersoek.

  • Maroela Media het navrae aan die Padongelukkefonds en die Spesiale Ondersoekeenheid gerig en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Andries ·

Sies man! Maar onthou di wiel draai. Jul wat nou so teen betaling skop, mag dalk net ook eendag oud word, sieklik word en hospitalisasie benodig…

Amelia ·

Hul gaan nie na staats hospitale gaan oorsee vir behandeling Sa nie goed genoeg nie so hoekom nie duisende rande mors vir bhandeling oor see nie hul weet mos is belasting geld maar arm mense moet tevrede wees met staats hospitale

Moedeloos ·

Skandelik. Mense het dringende mediese hulp nodig maar STAAT te sleg om daarna te kyk

Gert ·

Tipies van die wat dink hulle is super slim, nog ‘n plek wat ‘n verskil gemaak het gaan ten grond, en agter na wil hulle huil….

Kokerboom ·

Die Minister van Gesondheid swyg??? Ons kan nie sluiting van hospitale in die land bekostig!

George ·

Almal wat ek ken wat al betaal is deur die POF het so gekry agv n geliegery.

Henry ·

onbevoegde mense in die posisies wat verantwoorde werk moet doen. daarom is al die staats instellings bankrot

Wynand ·

En die ANC wil n nationale mediese fonds stig hulle kan nie eers na die nes omsien nie as ek hulle was dan laat sak ek my kop in skaamte

Jacobus ·

Na al die ra ra ra soos die ANC hulself op die skouer klop en léë beloftes maak, is hierdie sekerlik ‘n kriminele skande!

Alet ·

Hoekom word die hospiataal dan nie vir privaat pasiente gebruik nie? Weier om enige POF pasiente daar te behandel. Of mis ek hier iets?

Danie ·

Kan ons nie n sentrale hospitaal vir onsself bou en behou.Met slegs van ons eie.

Steffer ·

Ek stem oor baie, maar hierdie berig is bietjie one sided. Is daar al gekyk na hoekom Sunshine Hospitaal hulle rekeninge over inflate teenoor ander hospitale? …en waarom sal ñ hospitaal staatmaak op net die RAF se inkomste om operasioneel te bly?
Slang in die gras…

Hennie Biebouw ·

Wat was die uitslag van die forensiese ondersoek na die ooreenkoms met die Sunshine-hospitaal? R396 miljoen ? Net uit verwysings vir die POF? Die berig sê nie oor watter tydperk die dienste gelewer is nie.
Daar is waarskynlik meer tot dié storie as die gewone “ANC is korrup” invalshoek…

Aai ·

As jy verwag die staat gaan jou betaal moes julle nooit geopen het.Onthou die korruptes moet eers betaal word.

Anna84 ·

Dit is ‘n skande!! Tog so voorspelbaar. Voel baie jammer vir die mense wat nou sonder werk gaan sit in ‘n reeds sukkelende ekonomiese klimaat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.