Huis op plaas in Limpopo byna leeg geplunder

(Foto: Dall-E)

Die polisie in Limpopo het ʼn soektog van stapel gestuur ná ʼn groep verdagtes vroeg Woensdagoggend op ʼn plaas toegesak het en items ter waarde van meer as R100 000 gebuit het.

Volgens brig. Hlulani Mashaba, polisiewoordvoerder, het die verdagtes die plaas binnegedring terwyl die 30-jarige slagoffer aan die slaap was.

“Die verdagtes het die slagoffer met ʼn mes en ʼn skroewedraaier gedreig terwyl hulle geld en vuurwapens van hom geëis het.

“Hulle het die huis byna leeg geplunder en items soos televisiestelle, klere, selfone, skootrekenaars, yskaste en kontantgeld geroof. Daarna het hulle van die toneel gevlug,” sê Mashaba.

“Die polisie is net ná 04:00 na die toneel ontbied waarna ʼn saak van roof aanhangig gemaak is. Al die gesteelde items is na bewering ongeveer R147 650 werd.”

Enigiemand met inligting wat tot die inhegtenisneming van die verdagtes kan lei, word versoek om die ondersoekbeampte, sers. Tshifhiwa Netshia, by 066 263 4915 te bel.

Polisie ondersoeke duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.