Huisrower in Baai doodgeskiet, vermeende makkers vas

Argieffoto. (Foto: Kent Williamson)

ʼn Huisrower is doodgeskiet en twee van sy vermeende makkers is aangekeer kort nadat hulle laat Woensdagmiddag ʼn huis in Mount Pleasant, Gqeberha, beroof het. Die polisie het ook beslag gelê op drie vuurwapens.

Die drie verdagtes het glo by ʼn huis in Phyllisstraat aangekom nadat hulle hul voorgedoen het as moontlike kopers vir ʼn tweedehandse sonkragbattery, sê kapt. André Beetge, polisiewoordvoerder.

Die huiseienaar het die hek vir hulle oopgemaak en die verdagtes het ʼn vuurwapen op hom gerig. Hulle het die man se huissleutels geneem, hom in een van die slaapkamers aangehou en met skoenveters vasgebind. Hierna het hulle die huis geplunder.

Een van die verdagtes het ʼn knoppie op die afstandbeheerder saam met die sleutels gedruk. Dit het gelei tot die aktivering van die paniekalarm waarna die verdagtes self paniekerig geraak en gevlug het.

ʼn Veiligheidsreaksievoertuig en verskeie polisievoertuie het op die paniekalarm gereageer.

“Die veiligheidsreaksielede het een verdagte aangekeer, terwyl die polisie die ander twee agterna gesit het,” sê Beetge.

Een van die aanvallers het ʼn vuurwapen op die polisie gerig en is doodgeskiet. In sy besit is ʼn nagemaakte 9 mm-pistool gevind, asook van die gesteelde eiendom.

Die derde verdagte het in die erf van ʼn nabygeleë huis in Athlonestraat weggekruip.

ʼn Lid van die polisie se honde-eenheid het hom daar gevind en in hegtenis geneem. Twee vuurwapens is in sy besit gevind. Een van die vuurwapens is tydens die huisroof gebuit en die ander vuurwapen se reeksnommer is verwyder.

Beetge sê die vuurwapens sal vir forensiese en ballistiese ontleding gestuur word.

Aanklagte van huisroof en die rig van ʼn vuurwapen is geopen en meer klagte kan moontlik later bygevoeg word. Die polisie doen ook ʼn geregtelike doodsondersoek. Die verdagtes sal binnekort in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Zandra ·

dit laat ons weer glo die SAPS kan ons help veilig wees
goeie nuus is skaars
trots op julle

JohanR ·

Vanaand gooi ek weer ‘n tot Bells of twee, hik, of drie, hik!

Niklaas ·

Mooi so , knap gedaan. Nuus oor SAP welslae is nogal skaars deesdae.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.