Huldeblyke stroom in vir Derek Watts

Derek Watts (Foto: Carte Blanche)

Huldeblyke stroom in vir die bekende Carte Blanche-aanbieder en veteraanjoernalis Derek Watts wat Dinsdag in die ouderdom van 74 oorlede is.

Watts is verlede jaar met kanker gediagnoseer. Volgens Carte Blanche is Watts Dinsdagoggend vreedsaam dood terwyl hy deur sy geliefdes omring was.

MultiChoice het ook sy innige meegevoel met Watts se familie, vriende en geliefdes betuig. “Ons onthou hom as ʼn toegewyde ondersoekende joernalis en ʼn jare lange aanbieder van Carte Blanche,” het Nomsa Philiso, MultiChoice se programhoof, gesê. “Sy onwrikbare toewyding aan sy werk en sy vasberadenheid te midde van uitdagings was werklik merkwaardig.”

Devi Sankaree Govender, voormalige aanbieder en joernalis van Carte Blanche, het ook Watts se dood betreur. “Ek het die voorreg gehad om 18 jaar lank saam met hom op Carte Blanche te werk.”

Bongani Bingwa, ook ʼn voormalige aanbieder by Carte Blanche, het Watts as een van die “vriendelikste, vrygewigste professionele persone” beskryf.

Watts was sedert Carte Blanche se ontstaan in 1988 deel van die program en hy het een van Suid-Afrika se mees gerespekteerde en erkende ondersoekende joernaliste geword.

Sy diagnose is in Junie tydens ʼn uitsending van Carte Blanche bekend gemaak, naamlik dat hy verlede jaar met velkanker gediagnoseer is wat na sy longe versprei het. Maroela Media het in April berig dat Watts weer moes leer loop nadat hy die maand tevore inmekaargesak en in die hospitaal beland het.

Die TV-persoonlikheid, wat ʼn huishoudelike naam geword het as deel van dié ondersoekende joernalistiekprogram, het aanvanklik gedink dat hy ʼn beroerte gekry het, maar die dokters het egter vasgestel dat dit ernstige sepsis was.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het Watts beskryf as ʼn ware ikoon van ondersoekende joernalistiek.

“As die gesig van Carte Blanche vir baie jare, was Watts nie net ʼn uitsonderlike joernalis nie, maar ook ʼn rigtinggewende lig in die strewe na waarheid en deursigtigheid. Sy toewyding aan die onthulling van verhale van groot belang en relevansie vir Suid-Afrikaners het hom geweldige respek en bewondering by kollegas en kykers besorg. Sy kenmerkende stem en onwrikbare toewyding tot joernalistieke integriteit het ʼn onuitwisbare stempel op die bedryf afgedruk,” het Sanef-voorsitter Sbu Ngalwa gesê.

Watts word oorleef deur sy vrou, Belinda, en sy kinders, Tyrone en Kirstin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Wondermaarnet ·

RIV Derek. Jy was die beste van die beste wat Carte Blanche ooit gehad het.

Raadsman ·

Regtigware man met integriteit en status. Hoop ons joernaliste volg nooit in spore van USA mainstream media.

Katinka ·

Sy mooi suiwer stem is nou doodstil, verewig, ons gaan jou baie mis Derek.

Karoo ·

‘n Reus het geval, Baie dankie Dereck, dink nie daar gaan iemand wees wat ooit jou skoene in ondersoek joernalasties gaan kan vol staan nie.

Skappie ·

Baie sterkte aan sy gesin. Mag onse Liewe Heer julle deur hierdie moeilike tyd wat vir julle voorle dra.

Racheltjie Debeer ·

Innige meegevoel met sy familie en vriende. ‘n Legende, weggeruk!

Celest ·

Derek Watts se afsterwe is n groot verkies vir joernalistiek. Wanneer Derek die joernalis was, kon jy weet hy gee waarheid deur. Mag baie jong joernaliste in sy voetspore volg. Sterkte aan sy gesin, familie, kollegas en vriende.

Elizabeth ·

Derek Watts was ñ groot gees en sal altyd onthou word vir die werk wat hy gedoen het en kriminele blootgestel het. Hy was ‘Mnr Carte Blanche’. Jy was ñ besondere mens.
RIV.
Sterkte aan sy naasbestaandes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.