Huldeblyke stroom in vir James Small

James Small het op ’n stadium die rekord vir die meeste Springbok-drieë agter sy naam gehad. Foto: ANA.

Dit is die halfeindstryd van die 1995 Wêreldbeker-rugbytoernooi en die All Blacks speel teen Engeland in Kaapstad.

Nieu-Seeland se Jonah Lomu – ʼn man van 1,96 m wat 120 kg weeg – het Engeland se stomme Mike Catt gestoomroller dat hy dáár trek.

Die Nieu-Seelandse superster se drieë het die grondslag gelê vir sy span se sege van 45 – 29 en die internasionale media het voorspel dat die Springbokke se verdediging sal moet bontstaan om dié reus plat te trek.

Druk die versnelknoppie vinnig na 24 Junie 1995 en die Bok-verdediging het nie net stewig gestaan nie, hulle het ook vir Lomu heeltemal geneutraliseer.

En voor in die koor was ’n bloedjong James Small – Lomu se direkte teenstander in die Boktrui.

Vandag, 10 Julie 2019, is nie een van dié reuse meer met ons nie: Lomu is in 2015 dood aan ’n hartaanval verwant aan sy niersiekte, en Small is vandag dood; óók aan ’n hartaanval.

Die Springbokke het destyds die Wêreldbeker-eindstryd te danke aan Joel Stransky se skepskoppe gewen, maar die fondasie van dié sege is deur Small en Kie. se kanniedood-verdediging gelê.

“James was een van die min regte legendes wat ons gehad het,” het sy Wêreldbeker-spanmaat en Springbokslot, Krynauw Otto, aan Maroela Media gesê.

Small op sy ysterperd. Hy het ’n reputasie as ’n rebel gehad. Foto: TERTIUS PICKARD / TOUCHLINE PHOTO.

“Hy was ’n rebel gewees en nes sy klerehandelsmerk, No Rules, gesinspeel het, was hy ook nie ’n man wat homself veel aan reëls gesteur het nie.

Tog glo Otto dat die geboorte van Small se dogter, Ruby, hom effens rustiger gemaak het.

“Hy het altyd tyd gehad vir ander mense en kon altyd ’n vinnige geselsie aanknoop. Ja, hy het as jong speler sy stoutighede gehad, maar ons almal was toe jonk. Hy is ’n regte legende.”

In sy huldeblyk het die president van SA Rugby, Mark Alexander, gesê dat Small altyd ’n spesiale plek in Suid-Afrikaners se harte sal hê.

“Hy het met die passie en durf gespeel wat Springbok-rugby versinnebeeld en hy het sy lewe op dieselfde wyse gelei,” het Alexander gesê.

“Op 50-jarige ouderdom het James Small hopeloos te jonk gesterf. Ons gebede en simpatie is met sy familie en vriende in hierdie baie hartseer tyd.”

  • Small het sy debuut vir die Springbokke teen Nieu-Seeland in Johannesburg gemaak. Hy het altesaam 47 toetse gespeel en 20 drieë vir die Bokke gedruk. Hy het sy laaste wedstryd teen Skotland gespeel en sy finale drie het destyds Danie Gerber se toetsdrieë-rekord oortref.
  • Wat provinsiale rugby betref het hy vir Transvaal, Natal en WP gespeel. Hy het die Curriebeker in die kleure van Natal en die Westelike Provinsie gewen.
  • Meer onlangs het hy vir Robert du Preez gehelp om die NWU Pukke en Luiperds af te rig.
  • Hy is die vierde 1995-Springbok wat sterf ná Kitch Christie (afrigter), Ruben Kruger (flank) en Joost van der Westhuizen (skrumskakel).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Gerrit ·

Ja Soos oom zandberg altyd na ñ program gegroet het”nag our grote” ons land Gaan jou mis ou James. Ek het n paar dae gelede Vir my seun van jou vertel. Groter as Groot.

Danie ·

‘N vurige speler. Hy was aan die brand wanneer die stem gesing word. Hy kon nie wag om te begin speel terwyl daar gesing word nie. Elke keer as daar ‘n held sterf voel jy daardie leemte wat gelos word. Ai die lewe. RIV James.

@ Ivan Nie bevestig ·

Al wag ek nog gesien het was dat sy ma gesê het “vermoedelik”‘n hartaanval. Dit is nog geensins bevestig nie?

Lize ·

Soos oom Frik du Preez was hy vir my een van die hardste spelers op die veld. Sy rugby baie geniet. RIV James Small. Simpatie aan die naastes.

Gemaskerde Sopbeen ·

Dit was ‘n voorreg om jou huis te bou in Parkhurst. Lang kuiers om ‘n vuur saam met jou en my seun wat toe in Gr 8 was. Dit was ‘n voorreg en ‘n eer…..

jd ·

Hoekom kan daar nie gekskryf word hy is oorlede aan hartaanval nie? Hy is dood klink so onbeskof en kras.

VanAfrika ·

Ag tog, dood of oorlede, hy is nog steeds dood of oorlede

PIERRE ·

Wonderlike speler en persoon. Tyd vir almal, arm, ryk, alle rasse. Waarom moet iemand die rassekaart van meriete uithaal. Hy sou NIE daarmee saamstem .

Db ·

‘n Grote wat ons verlaat het. Hy was ‘n yster op die veld en het uit sy hart uit gespeel. Rus in vrede

Linda ·

Dit super sad… Bid dat Jesus almal wat hy direk geraak het toe vou. RiP

Faan ·

Nooit sal ons jou vergeet nie, jy is n held vir my en my twee broers. Laas jaar by Rosebank toe jy die huisbak deur soos n gentlemen oop hou vir my twee dogtertjies om in te gaan het ek jou herken en jou hand geskud en weereens sê ek vir jou baie dankie vir wat jy vir ons beteken en nog is. n Legende wat nog vir lank oor n braai vuur gepraat gaan word. Nag ou grote. RIV.

IRENE ·

RUS SAG JAMES,SO JAMMER DAT JY OP DIE VROEER OUDERDOM MOES GAAN,EK WAS MAL OOR HOM,EN ALTYD GEKYK TOE HY RUGBY GESPEEL HET.HY WAS DIE BESTE .WIL NET SE STERKTE AAN AL DIE FAMILLIE SE EN EK WEET WAAR DEUR JULLE GAAN,EK BID VIR JULLE.

Liekie ·

Jy was my held gedurende1995.
Goeie rugbydae en baie goeie rugbyspelers !!
SPIER-TIER met die stoutste gesig en mooiste lyf.
Ek is nogsteeds mal oor jou.
Totsiens ou Grote (Rebel)
50 is hopeloos te jonk…dis so hartseer !!
xxx

lia ·

Rus in vrede rugby se “wild child”. James en die bokke van daadie tyd was regtig helde vir my, met n passie vir die spel. Goeie herrineringe as ek terugdink aan die groot “regmaak” om die wedstryde op tv te kyk. By ons huis of by vriende. Vuurtjie aan die brand vir braai of potjie maak…en wie sal ooit 1995 vergeet? My man is ook al oorlede, maar die onthou van daardie tye is soet. Sterkte aan James se geliefdes….en veral vir Ruby sy dogter.

Coleen ·

Dit is hartseer vir SA en Wereld Rugby. James Small sal altyd onthou word as ‘n rugby speler wat sy hart uitgespeel het. Sterkte aan sy familie en vriende.

Susna ·

Heeltemal te vroeg in sy lewe het hy ons vooruit gegaan. Ons held, ons rebel en ons trots. Sy naam gaan nog vir baie jare in gesprekke opkom. Sterkte en seenwense word sy familie en vriende toe gebid.

George van Bloem ·

‘n Rebelse,energieke,aggressiewe en sterk speler wat vir g’n duiwel gestuit het nie.Voorwaar ‘n legende. RIV no14.Dit was ‘n voorreg om hom te sien speel.Innige simpatie aan sy geliefdes,veral sy dogter en ook sy talle vriende.

Anton ·

Rus in vrede James. N passievolle mens wat alles op die rugbyveld en in die lewe gegee het.
Nie iemand wat dinge halfpad gedoen het nie. Ons gaan hom mis. My innige meegevoel aan Ruby en die res van die familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.