Huldeblyke vir vermoorde onnie van Durbanville

Helga van Wyk (62). (Foto: Facebook)

Boodskappe van medelye stroom steeds in ná die dood van Helga van Wyk, ʼn onderwyseres by Hoërskool Monumentpark in Kraaifontein.

Helga (62) en haar man, Johann (65), ʼn afgetrede advokaat, is Sondagaand in hul huis in Durbanville oorval, vermoedelik deur ʼn enkele aanvaller.

Helga is met ʼn mes in die hart gesteek en het kort daarna in die egpaar se slaapkamer gesterf. Johann is ernstig beseer nadat hy verskeie steekwonde opgedoen het. Hy word in die Mediclinic Durbanville behandel.

Helga was ʼn Afrikaans-onderwyseres en het meer as 20 jaar lank by die skool klasgegee.

Haar dogter, Alet, het haar as ʼn joviale en formidabele vrou beskryf.

Die skool het op sy Facebook-blad die publiek vir hulle ondersteuning ná die voorval bedank.

“Helga van Wyk was een van ons geliefde onderwyseresse wat ons nooit sal vergeet nie. ʼn Warm, goedhartige mens wat vir almal by Monumentpark Hoërskool ʼn ma-figuur was. Ons almal voel die leemte wat sy reeds agterlaat.

“Ons innige meegevoel en gebede gaan uit na haar familie gedurende hierdie ongelooflike moeilike tyd. Ons versoek dat lede van die publiek asseblief die familie in hul gebede sal hou, veral vir die spoedige herstel van mnr. Johann van Wyk.”

Die skool het ook ʼn beroep op mense gedoen om die familie, onderwysers en leerders se privaatheid te respekteer.

Talle boodskappe van medelye en huldeblyke is intussen op sosiale media geplaas.

“Wat ʼn voorreg was dit nie om deur dié merkwaardige vrou onderrig te word nie,” skryf Vanessa Maré op Facebook.

Candice Talbot beskryf Helga van Wyk as ʼn wonderlike mens met ʼn omgee-hart, wat die kinders in haar klas nes haar eie behandel het.

ʼn Gedenkdiens vir haar word Vrydag by die skool gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.