Húlle sterf in Netcare-ongeluk

(Foto: Netcare 911)

Honderde boodskappe van medelye stroom steeds in ná ʼn helikopterongeluk Donderdag wat die lewe van vyf mense geëis en die mediese gemeenskap geruk het. Ander nooddienste, mediese organisasies, kollegas en gewone burgers het huldeblyke aan die slagoffers gebring.

Al vyf insittendes van die helikopter, die vlieënier en vier medici van Netcare en Netcare 911, het gesterf toe die helikopter in KwaZulu-Natal neergestort het.

Netcare het intussen die name van die slagoffers bekend gemaak.

Hulle is dr. Kgopotso Rudolph Mononyane, ʼn narkotiseur, dr. Curnick Siyabonga (Sia) Mahlangu, ʼn kardiotorakale chirurg, en Mpho Xaba, ʼn spesialiasteaterverpleegster. Al drie was verbonde aan die Netcare Milpark-hospitaal.

Die ongeluk het ook die lewe geëis van Sinjin Joshua Farrance, ʼn gevorderde lewensondersteuningsparamedikus by Netcare 911, en dié van die vlieënier, Mark Stoxreiter. Stoxreiter was verbonde aan die National Airways Corporation.

Dr. Richard Friedland, uitvoerende hoof van Netcare, het gesê die spesialis-intensiewesorgspan was van die Milpark-hospitaal in Johannesburg na Hillcrest in KwaZulu-Natal onderweg om ʼn uiters siek pasiënt na Johannesburg oor te plaas.

Gisteraand het kollegas by die Milpark-hospitaal byeengekom om hulde aan die vyf te bring.

(Skermgreep: Netcare Limited/Facebook)

“Ons is stom van skok oor die tragiese verlies van hierdie gesondheidshelde. Netcare word stil terwyl ons ons hoofde buig in eerbetoon, respek, liefde en herinnering aan ons oorlede kollegas en helde op die voorste linie wat in die uitvoering van hul pligte gesterf het,” het Friedland gesê.

Friedland, Craig Grindell, besturende direkteur van Netcare 911, asook verskeie ander uitvoerende hoofde van Netcare en Netcare 911 het reeds die ongelukstoneel besoek.

Die burgerlugvaartowerheid het ook reeds met sy ondersoek na die voorval begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

katerinadiekat ·

Ai dit is verskriklik hartseer, my innige simpatie uit my hart, aan hulle geliefdes. Dis eintlik vir die hele land n massiewe verlies, Suid Afrika het kwaliteit mense soos die oorledenes, so baie nodig.

FM ·

Dis so ‘n groot verlies.

Opregte meegevoel aan alle familie, vriende en kollegas.

Ons het soveel onverstaanbare vrae wat nie hier beantwoord kan word nie.

R I V

Tino ·

Dit is ‘n ‘n baie duur tragedie aan hoe bydraende kaliber lede van die samelewing.

Sterkte aan die familie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.