Hulp benodig met sprinkaanplaag in Oos-Kaap

Die swerm sprinkane vlieg deur die lug (Foto: Sven Torfinn, AP)

Die Oos-Kaap gaan onder ʼn groot bruinsprinkaanplaag gebuk en volgens kenners moet dié plaag so gou as moontlik onder beheer gebring word om skade tot ’n minimum te beperk.

Dit volg nadat ’n sprinkaanplaag twee weke gelede in die Noord-Kaap aangemeld is.

Volgens Eben du Plessis, visepresident van Agri Oos-Kaap, is die uitbreking meestal in die noordwestelike streek van die provinsie, waar gebiede soos Aberdeen, Willowmore, Graaff-Reinet, Middelburg en Somerset-Oos geraak word.

“Die meeste van die swerms is tans nog in die kruipstadium met sommige gebiede wat reeds sprinkane wat al kan vlieg aangemeld het. Daar word voorspel dat die meeste swerms binne die volgende twee weke sal vlieg, en daarom moet die plaag so gou as moontlik onder beheer gebring word,” sê Du Plessis.

Sprinkaanspuitspanne is in die meeste van die gebiede wat geraak word ontplooi om die uitbreking hok te slaan. Hierdie spanne werk van skemer tot dagbreek in ʼn poging om hierdie swerms te beheer asook te verhoed dat die sprinkane die volwasse stadium bereik en ooswaarts beweeg en verdere verwoesting saai.

Volgens Du Plessis is die nasionale departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling verantwoordelik vir die beheer en bestuur van die bruinsprinkaanplaag en ander migrerende plae regoor Suid-Afrika.

“Met hierdie uitbreking is die departement onder groot druk geplaas om te help met die beheer van hierdie sprinkane binne die betrokke provinsies. Dit is omdat hul vragmotor by die De Aar-kantoor onklaar geraak het en dit gevolglik toegang tot insekdoder en toerusting in die Oos-Kaap bemoeilik  het.

“Agri Oos-Kaap het gesprek gevoer met die departement en ooreengekom om die koördinering en verspreiding van insekdoder en toerusting in die provinsie effens te vergemaklik.”

Die provinsiale departement het egter verlede Donderdag ingegryp en broodnodige bystand verleen deur ʼn vragmotor te verskaf om insekdoder en toerusting by die geaffekteerde gebiede af te lewer.

“Die provinsiale departement se hoofrol in hierdie aangeleentheid is om te help met verslagdoening van die sprinkane en om bewusmaking te skep, en hulle het uitgeblink in dié opsig.”

Private boere het die geleentheid gekry om insekdoder by hul onderskeie distriksprinkaankantore te kry om op hul lande te spuit. Boere sal ʼn blitskursus moet ondergaan om die regte spuitmetodes onder die knie te kry. Dit moet strook met die wetgewing en beleid.

Grondeienaars of -gebruikers word deur wetgewing verplig om swerms op hul eiendom aan te meld.

“Ons moedig enigiemand aan wat op ʼn swerm afkom om dit by die nasionale en provinsiale departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling of by Agri Oos-Kaap aan te meld.”

Die departement kan by 053 631 3122/3261 geskakel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Veronica ·

Ekskuus! Ek weet nie, dis hoekom ek vra: kan hulle nie n vliegtuig gebruik om die sprinkane te besproei met insekdoders nie?

Elinette ·

Veronica, dis nie sommer net vir spring in ‘n vliegtuig, laai plaagdoder en bespuit dat die sop spat nie! Dit is eerstens ‘n baie duur opsie – spesiale, toegeruste vliegtuie met vlieëniers moet gehuur word, die publiek moet vooraf kennis gegee word dat daar gespuit gaan word en daar is allerlei wetlike voorskrifte oor die hantering/stoor/gebruik van die spesifieke insekdoder wat nagekom moet word, voor- en nasorg wat nodig is. En ek is nie eens naastenby ‘n kenner op die gebied nie.

Faraway ·

Eers n voetsoldaat en dan n vliegsoldaat . . . voorwaar n plaag!

Shakespeare ·

Dis rof vir die boere. Sterkte manne. Dankie tog dit is nie kaders wat die plaag moet bestry nie anders sal die hele Oos Kaap opgevreet word.

Elinette ·

Dis juis omdat kaders aan bewind is dat die vragmotor met die insekdoder aan boord, halfpad oppad Oos-Kaap toe gebreek het en die sprinkane nou effe van ‘n voorsprong het op die boere daar!!!

Elinette ·

Oe, hallie ha!!! Maroela Media, dit klink darem baie snaaks as julle praat van distriksprinkaankantore. So asof dié kantore verantwoordelik is vir die hordes sprinkane wat nou so amok maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.