Hulp vir pluimveebedryf dalk gou op pad

Hulp vir die land se beleërde pluimveebedryf is dalk binnekort op pad.

Produsente het weens die voortslepende voëlgriepkrisis reeds miljarde rande verloor, met die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling wat vroeër botweg geweier het om – glo weens die onbekostigbaarheid daarvan – enige vergoeding aan geraakte produsente te betaal.

Adj.pres. Paul Mashatile het Donderdag tydens ʼn vraag-en-antwoordsessie in die parlement egter gesê die regering gaan wel die boere wat deur die uitbreking geraak is, deur ʼn gemengde finansieringskema bystaan. Hy het veral na kleinskaalse boere verwys wat by die ondersteuningsmaatreëls sal baat.

Dit gaan die bedryf geruime tyd neem om weer van die verliese te herstel. Intussen het die uitbreking reeds tot ʼn tekort aan eiers in sommige gebiede, en groot stygings in die prys van sommige hoendersnitte gelei. Dít terwyl die vraag na hierdie produkte na verwagting in aanloop tot die Kerstyd net verder gaan styg.

Die besonderhede van die hulppakket word tans saam met die nasionale tesourie deurgetrap om te bepaal wat die steun sal behels, het die adjunkminister gesê. Die minister van landbou, Thoko Didiza, sal na verwagting binnekort meer besonderhede oor die reddingspakket bekend maak.

Noko Masipa, die DA se woordvoerder oor landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, sê die regering het ʼn U-draai gemaak nadat hy vroeër geweier het om gehoor te gee aan pleidooie om geraakte boere by te staan.

“Suid-Afrika se pluimveebedryf is verwoes deur die siekte-uitbreking en dit het geen sin gemaak vir die regering om op die kantlyn te staan terwyl ganse ondernemings die gevaar van bankrotskap of werksverliese geloop het nie.

“Boere het ondersteuning nodig om te vergoed vir die verlies wat hulle gely het en om hul ondernemings volhoubaar weer op te bou,” sê Masipa.

Vroeër vandeesweek nog het amptenare van die departement oproepe om steun verwerp – van onder meer die DA en die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapa) – en aangevoer dat die departement nie die hulpbronne het om te help nie en ook onder geen verpligting is om enige vergoedingsteun te lewer nie.

“Dit is presies hoekom dit so belangrik is dat rampfondse as ʼn saak van dringendheid aan pluimveeboere beskikbaar gestel word,” sê Masipa.

Die DA sê die uitbreking kon veel makliker in bedwang gebring geword het as die regering enige lesse uit die 2017-uitbreking geleer het.

“Die DA sien uit na die aankondiging oor ʼn hulppakket vir pluimveeboere en ons gaan nie koepon-hulp, verdoesel as vergoedingshulp, aanvaar nie. Minister Didiza moet saam met die bedryf werk om ʼn omvattende ondersteuningspakket te ontwikkel wat boere in staat sal stel om hul produksie te hervat sonder om groot bedrae skuld te moet aangaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lettie ·

Dis net vir kleinskaal-ondernemings. Moenie verwag dat die grootskaalse ondernemings daarby sal baat nie. Net weer verkiesings foefie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.